Terwyl die duisend-talle oplaai van Vorm 1’s wat hier by die Sentrale Komitee opdaag
en ons ewe gelukkig rondgejaag word deur telefoon- en e-pos boodskappe, word dit
daagliks duideliker: Hierdie volk mag dalk tot onlangs nog in die nasleep van 1994
“verslae” gewees het, maar hy is verre van “verslaan”. Hy is besig om al sterker
vir sy reg as onafhanklike volk in die state-ry op te staan – en soos altyd wanneer
hy eers oortuig is van sy reg tot ‘n sekere bestemming en die roete daarheen, kan
niks en niemand die Bittereinders (wat ook in ons geslag na vore kom) van stryk
bring nie.
Soos wat die maande aanstap word dit al duideliker dat ons ‘n volksgesag
gaan verkies as regmatige stap van ‘n regmatige proses in ons stryd van vandag wat
steeds die eeue-oue stryd van ons voorouers is: Die stryd, nie om te oorheers en
te verdruk nie, nie om in te palm nie, maar bloot die stryd om voort te bestaan
onder aardse wette wat ooreenkom met ons begrip van die Vader se Wetgewing - die
stryd om toegelaat te word bloot om te mag bly wat ons is!
Die aantal Registrasie Beamptes kom tans te staan op tussen drie- en
vierhonderd; verder verwelkom ons ‘n hele aantal nuwe Streek
Koördineerders: Martie Coetzer (Verkiesing Streek-Koordineerder - VSK -
vir die streek Oos-Vrystaat); Johan Fourie (VSK vir die streek Natal);
Pieter Marx (VSK vir die streek Trans Oranje); Gert Mÿburg (VSK vir die
streek Noord-Kaap); Hennie de Villiers (VSK vir die streek Wes-Kaap) en
Henriëtte van Niekerk (VSK vir Australië).
As
Algemene Verkiesing Streek-Koördineerders (AVSK’s) wat bestaande VSK’s
help om Registrasie Beamptes aan te stel, het bygekom: P.S. Kruger
(Noord-Transvaal), Ds. Ferdi Devenier (Wes-Transvaal), B.C. Buitendach
(Wes-Transvaal), David Grobbelaar (Verre Noord-Transvaal), Tiaan Theron
(Karoo), D.G. Van der Merwe (Wes-Transvaal), B.J.M. Rossouw
(Oos-Vrystaat), O.W. Smith (Natal), Ds. Sarel Roets (Noord-Transvaal)
en Lelani Pelser (landwyd).
HARTLIK DANK aan al die nuwe hande!
Julle sal dalk hierbo opmerk dat daar skielik sprake is van ‘n Streek
“Trans Oranje” (suid-, wes- en sentraal Vrystaat) wat nie meer “Trans
Gariep” genoem word, soos voorheen nie. Wel, dié situasie het sy
ontstaan te danke aan ‘n kostelike insident op ‘n huisvergadering by
Pieter Marx - waarvan hy julle meer sal kan vertel – en wat net gewys
het dat die VVK ‘n naam sommer veel vinniger verander as die ANC!
Gedurende Julie-maand is Danie du Toit (VSK: Karoo-Streek) en ek deur
die Noord Kaap en Karoo met ‘n vlugtige draai in die Wes-Kaap – en
behalwe vir die talle kieser-registrasies en Registrasie
Beampte-aanstellings, het dit ‘n ervaring geword wat my altyd sal bybly
as een van die hoogtepunte van my volksbelewenis. ‘n Tyd waarin ek moed
kon put deur weereens te ervaar dat die troue kern van hierdie volk
steeds gevind kan word oor die lengte en breedte van hierdie wye land
en dat daardie kern-oorblyfsel ook kerngesond is!
Intussen het
Lelani Pelser by ons aangesluit as voltydse Administratiewe Beampte en ons wens
haar ‘n dienstermyn toe wat ‘n waardevolle ervaring sal wees.
Lelani het pragtige
VVK-hemde bestel wat einde September teen ongeveer R200.00 elk gereed behoort te
wees – skakel haar gerus om seker te maak jy word een van die trotse eienaars.
Van hemde gepraat: Nuus uit Brittanje is dat die Jack Hindon Verkenners
(uitgedos in spoggerige VVK t-hemde) ‘n Danie Theron-gedenkkamp van
11-13 September net buite London gehou het ter bekendstelling van die
kieser-registrasie proses in daardie omgewing. Dankie vir die
inisiatief aan Willie en sy span! Dankie ook aan Die Afrikaner vir ‘n
netjiese VVK-bylaag in die 4-10 September-uitgawe. Dit is iets
besonders, wat vir latere geslagte bewaar moet word.
Soos hierdie keer met Willie-hulle en Die Afrikaner die geval is, hoop
ons dat die volgende Onlangse Gebeure gaan berig oor wat JY gedoen het
om die volksverkiesing te verhaas. Onthou: JY is die volk! Ons sluit af
met ‘n aanhaling van die Duits-Pruisiese filosoof Fichte wat dit
treffend geillustreer het in ‘n tyd toe sy volk en staat in ‘n toestand
van radeloosheid en verval was:
“…Und handeln sollst du so als hinge von dir und deinem Tun allein
das Schicksal ab der deutschen Dinge und die Verantwortung wär dein”.
(overgesetsynde: …handel asof jou volk se noodlot van jou en jou dade
alleen afhang; asof die verantwoordelikheid joune alleen is…)