Sedert ons laaste bydrae op hierdie blad na afloop van die Majuba-naweek
in Februarie, is die VVK weer ‘n hele ent verder in die pad af met die
taak om ‘n verkiesing onder ons eie volk te fasiliteer. Groot dank aan
almal wat hulle bydrae daartoe gelewer het!
Op 25 Februarie is ek genooi deur ‘n sub-komitee van TLU SA, bestaande
uit ‘n aantal van hulle oud-Presidente, om die VVK se rol en strategie
aan hulle uiteen te sit met die oog op moontlike samewerking van TLU SA
se kant af. Die sub-komitee sou terugvoer gee aan TLU SA se
bestuurstrukture ten opsigte van die gesprek, wat uiters positief
verloop het. By skrywe hiervan (26 April 2009) sien ons nog uit na ‘n
amptelike besluit deur TLU SA, om ook op staatkundige terrein die wa
saam met die VVK te help trek in ons volk se epiese stryd om oorlewing.
Die sorgwekkende is dat dit ons 15 jaar geneem het net om met Stap 1 te
begin: Die verkiesing van leiers wat met die spesifieke mandaat beklee
is om ons eis vir selfbeskikking in ons eie gebied regmatig te kan
stel. ALLE hande word benodig!
Op 12 Maart 2009 het ek ‘n radio-onderhoud met Prof. Hendrik van der
Wateren (Voorsitter van die Afrikaner Front, ‘n sambreel-liggaam met 25
lid-organisasies waaronder Radio Pretoria, TLU SA, die HNP, GHA en
andere) gevoer. Die Afrikaner Front se doelstelling word in sy grondwet
uiteengesit as selfbeskiking vir ons volk, en Prof. Van der Wateren het
dan ook tydens die onderhoud bevestig dat die Afrikaner Front-bestuur
‘n amptelike besluit geneem het om die VVK se verkiesingsinisiatief te
steun. Ons het met dankbaarheid daarvan kennis geneem, en doen hiermee
‘n beroep op alle volksorganisasies wat nog nie lid van die Afrikaner
Front is nie, om so gou moontlik julle gewig daar in te gooi.
Organisasies wat reeds lede van die Afrikaner Front is word genooi om
dringend met die VVK te skakel vir beplanning rondom julle bydrae tot
realisering van ons volksverkiesing.
Intussen het ook ‘n klomp hande op die dek bygekom as Registrasie
Beamptes en Verkiesing Streek Koördineerders. In laasgenoemde verband
is ons dankbaar teenoor Ds. Du Plessis (vir die streek Wes-Transvaal),
G.P de Kock (Orania / Noord Kaap), Roché van Heerden (Graaff-Reinet /
Oos-Kaap), Kobie van der Hoven (Algemene Verkiesing
Streek-Koördineerder en verleen ook hulp aan Sakkie van der Schyff in
die streek Noord-Vrystaat), Dr. Pieter Möller (Algemene Verkiesing
Streek-Koördineerder), Dr. Corné van der Walt (Chicago, VSA) en Marieke
Smuts (België). As iemand vanuit die buiteland in Suid-Afrika op besoek
is, hoor ons graag daarvan sodat ons die nodige papierwerk in plek kan
kry vir aanstelling as Registrasie Beamptes en Streek Koördineerders
oorsee wat ons vele volksgenote in verstrooiing kan bedien om
geregistreer te kom. Dit spaar die VVK die onkoste van oorsese reise!
Op 2 April 2009 het ek ‘n voorlegging namens die VVK gedoen by die
Afrikaner / Zuma beraad en die strekking daarvan word in die volgende
media-verklaring weergegee:
na aanleiding van die byeenkoms:
“Afrikaner-leiers in Dialoog met ANC President, Jacob G. Zuma”
gehou op Donderdag, 2 April 2009 te Sandton, Johannesburg
Die Volksraad Verkiesing Kommissie (VVK) was deur die fasiliteerder van
die byeenkoms: “Afrikaner-leiers in Dialoog met ANC President Jacob
Zuma” na die genoemde byeenkoms uitgenooi. Mnr. Paul Kruger, Voorsitter
van die Sentrale Komitee van die VVK, het die byeenkoms op 2 April 2009
bygewoon en ‘n voorlegging daartydens gelewer.
Die Afrikaner-organisasies op die byeenkoms het oor ‘n wye spektrum
gewissel van Kerke, kultuur-organisasies, Landbou-organisasies,
vroue-organisasies en die Broederbond tot die Orania-Inisiatief. Tydens
hulle voorleggings, het geen van hierdie organisasies ons volk se
strewe om onsself in ons eie staat te regeer, voorgedra nie.
Mnr. Paul Kruger het die aanwesiges in die volgende terme toegespreek:
1. Dat die Afrikaner- “leiers” op die byeenkoms GEENSINS die politieke
leiers van die Afrikaner is, soos wat Mnr. Zuma die leier van sy mense
is nie; omdat hulle nie demokraties daartoe verkies is nie, soos wat
Mnr. Zuma tot leier van sy belangegroep verkies is.
2. Dat hierdie sogenaamde Afrikaner “leiers” gevolglik GEEN mandaat het
om enige politieke uitsprake namens die Afrikaner te maak nie; en ten
beste beskou kan word as leiers van sekere inisiatiewe wat onder ‘n
deel van die Afrikanervolk aan die gang is.
3. Dat die Afrikanervolk sedert 1994 inderwaarheid leierloos en polities onthoof is.
4. Dat die Volksraad Verkiesing Kommissie juis besig is om hierdie
politieke onthoofding op te los, synde in proses om ‘n Volksraad te
laat verkies. Die volksverkiesing wat die VVK in proses is om te
fasiliteer, sal ‘n vry; regverdige en demokratiese VOLKSverkiesing wees.
5. In daardie verkiesing word gewone mense tans in die
Boere-Afrikanervolk die geleentheid gebied om as kiesers op ons eie
kiesersrol te registreer; uit vrye keuse Volksraadslede te nomineer; en
nadat die kieserregistrasietydperk afgeloop is, sal hulle uit vrye
keuse vir diegene kan stem wat hulle met hulle politieke toekoms
vertrou.
6. Eers daarna sal die Afrikaner weer oor politieke “leiers” beskik wat
die leiding betreffende ons uiteindelike politieke toekoms kan neem en
in sodanige verband namens ons volk sal kan praat.
7. Dit is prakties onmoontlik vir een Regering om in die uiteenlopende
behoeftes van verskillende volke te voorsien in een Staat met skaars
hulpbronne, deur wetgewing wat almal akkomodeer. Dit is ook die geval
in Suid-Afrika.
8. Dat ‘n wesenlike deel van ons volk nie die huidige Brits-koloniale
grense van Suid-Afrika aanvaar nie, en selfbeskikking in ons eie gebied
opeis.
9. Dat ons Volksraad, sodra dit tot stand gekom het, hierdie eis sal hanteer ooreenkomstig die vereistes van die Volkereg.
- Paul Kruger 6 April 2009
Intussen werk ek hard aan die draaiboek van die televisie-produksie wat
ons gratis by wyse van DVD gaan versprei. Weereens: As iemand
interressante video-materiaal het uit welke tydperk ookal, laat weet
asseblief!
Julle het sekerlik opgemerk dat ons webwerf ook intussen in ‘n ander
klas inbeweeg het, en hiervoor ons opregte dank aan die jonge heer
Quintin Diederichs. Ek voorspel dat hy nog diep spore in die
vryheidstryd gaan trap! Danksy Quintin se uitsonderlike vaardighede op
die internet-terrein is hy gevra om as Openbare Betrekkinge Beampte vir
die VVK op te tree, en enigiemand wat ons wil kontak insake e-pos
kommunikasie, webwerwe of Internet-navrae kan sommer direk met hom
skakel by 076 943 2214 of vvk@drommedaris-golf.com
Ja, en so het die nasionale verkiesing van 2009 intussen verbygegaan
sonder - wil ek my verstout om te sê - dat dit ons nader gebring het
aan ons strewe om onsself weer in ons eie vaderland te regeer. Van die
VVK se kant af is ons dankbaar dat talle vryheidsgesindes wat wel in
die nasionale verkiesing gestem het, nou reeds ook hulle gewig ingooi
by die volk se eie verkiesing wat die VVK fasiliteer – ‘n verkiesing
wat gaan uitloop op ‘n mandaat aan verkose leiers wat die eis vir
selfbeskikking sal deurvoer.
Laat ons almal in snelrat inbeweeg met die harde werk op hande; kontak
die Sentrale Komitee met enige vorm van hulp wat jy kan aanbied, en
onthou dat ons niks beter of slegter is nie as ons voorouers wat net
sulke geweldige uitdagings te bowe moes kom – en te bowe gekom het –
ter wille van vryheid. ONS KAN DIT OOK DOEN, ONS GAAN DIT OOK DOEN!
Groetnis tot volgende keer.
“Sukses is nie ‘n ongeluk nie – dit is die resultaat van ‘n intelligente poging”