1. Die Volksraad Verkiesing Kommissie is
dankbaar vir die predikante en kerkrade uit meerdere kerkverbande
wat reeds besig is om hand aan die ploeg slaan ten einde ons
komende volksverkiesing te help realiseer.
2. Soms gebeur dit egter dat hulp uit sodanige oorde geweier
word, ook in gevalle van kerke wat op die oog af poog om 'n suiwer
teologie in stand te hou - en die rede daarvoor word dan aangevoer
synde dat die komende volksverkiesing wat die VVK besig is om te
fasiliteer, nie 'n "kerklike saak" sou wees nie oftewel 'n
"politieke aangeleentheid".
3. Die VVK se werksaamhede is wel toegespits op 'n uitkoms in
ons volk se staatkundige omstandighede . Die vraag is of die
staatkundige toekoms van ons Verbondsvolk 'n "kerklike saak" is al
dan nie - veral in die haglike tyd waarin ons tans verkeer .
4. Kom ons oorweeg die volgende:
4.1 Indien lidmate volgens Gereformeerde opvattings veronderstel
is om God IN ELKE FASET VAN HULLE BESTAAN TE SOEK EN TE PROBEER
BEHAAG: hoe kan sulke lidmate se Kerk homself van hulle
staatkundige stryd distansieer - hierdie lewensfaset wat tans
letterlik 'n saak van lewe en dood vir die lidmate geword het? Dan
word Kerk en Lidmaat tog met verskillende mates gemeet?
4.2 Kan die Kerk bly stilsit terwyl die een Goddelose wet na die
ander elke dag in die Suid-Afrikaanse Parlement deurgevoer word,
en tog steeds beweer dat Art. 36 van die Nederlandse
Geloofsbelydenis nagevolg word? (Die bewoording van laasgenoemde
word heel laaste hieronder verstrek).
4.3 Waarom sou 16 Desember 1838, wat voortgespruit het uit ons
volk se drang na staatkundige vryheid, verder in en deur die Kerk
herdenk word?
4.4 Het die Kerk dan slegs by sekere aspekte van sy
lidmate se lewens 'n belang, terwyl ander aspekte (soos die
Godsplan met ons staatkundige toekoms) oorgelaat word as 'n saak
wat die "Verbondsvolk" met hulle "Verbonds-God" moet uitklaar, en
liefs sonder om hulle Kerk in die proses te betrek?
4.5 Is dit nie SLEGS 'n Godswonderwerk wat ons volk uit sy "koma"
kan skud en vir ons uitredding kan bring nie? Gewis. So was dit in
ons verlede, en slegs so kan dit weer moontlik wees. Hoe JAMMERLIK
egter dat die geïnstitusionaliseerde Kerk in die verlede so
dikwels geskitter het in sy afwesigheid juis tydens die
Godswonderwerke van volksbestaan.
5. Trouens, tydens die Bloedrivier-gebeure was die volk,
volgens die Kerk van die dag, op 'n sondige sending van
owerheidsongehoorsaamheid; onder weiering van sakrament-bediening;
en daarmee effektiewelik onder Kerklike tug. 42 jaar later, toe
volksgenote in diepe nood hulle leraars oproep om geestelik
versorg te word in die stryd teen 'n onderdrukkende Britse
wêreldmag, het slegs 'n enkele predikant uit die ganse Transvaal
opgedaag. Nogtans het die Godswonderwerk by Majuba nie uitgebly
nie, want God het uiteraard nie predikante nodig vir Sy
uitreddingswerk nie.
6. Maar die tragiese is dat sulke voorvalle 'n wrang smaak in
die mond agterlaat teenoor die Kerk by vele volksgenote: Die VVK
word deur talle mense met hierdie feite gekonfronteer - nie net
met 1838 en 1880 nie, maar ook met kerke van die jaar 2010 wat
hulle weereens nie met 'n sogenaamd "onkerklike saak" soos ons
volk se onafhanklikheid (en bygevolg, ons oorlewing) wil bemoei
nie.
7. Dit lei tot wantroue, en uiteindelik dat sulke mense (wat
geensins noodwendig "beter" of "slegter" as andere is nie) hulle
rug draai op die geïnstitusionaliseerde Kerk.
8. Laasgenoemde is, myns insiens, 'n bejammerenswaardige
situasie:
8.1 Dit is tog in 'n erediens waar die gemiddelde volksgenoot
(veronderstel is om) die vreugde van Skrifuitleg te ervaar.
8.2 Dit is tog in 'n erediens waar die gemiddelde volksgenoot die
wonder van sakramentbediening ervaar.
8.3 Waar die gemeenskap van gelowiges in sulke groot getalle
byeen is dat die Enige God onder musiekbegeleiding in 'n skare
besing kan word; en
8.4 waar God opeens deur 'n ganse volk aangeroep kan word.
8.5 Waar ons kultuur van aanbidding gevestig is en in stand gehou
word.
9. Daarom glo skrywer dat ons Kerk en volk bymekaar moet
probeer hou; ook - EN VERAL - in die loop van ons staatkundige
stryd. WANT ONS STAATKUNDIGE STRYD GAAN TOG IN DIE EERSTE PLEK
DAAROOR OM DEUR ONS EIE WETGEWING REGEER TE WORD WAT NIE IN
KONFLIK IS NIE, MAAR JUIS OOREENSTEM met die Opperwetgewing van
ons Hemelse Vader. Kan so-iets ooit 'n "onkerklike saak" wees? In
Protestants-Gereformeerde tradisie is dit BY UITSTEK JUIS
veronderstel om 'n kerklike saak te wees.
10. Uiteraard is die saak van ons oorlewing en onafhanklikheid
allermins iets wat ons ewe gemaklik aan God en 'n leërskare engele
kan oorlaat terwyl ons terugsit en wag vir die "vertoning" om te
begin. God het ons die gewete, die gesonde verstand,
die liggaamskragte en die middele geskenk om die werke uit
te voer waarsonder die geloof dood is.
11. Die GEWETE dryf ons (juis ook as kerklidmate
en derhalwe as 'n Kerksaak) om ons uit 'n bedeling te probeer
ontworstel:
11.1 met 'n sogenaamde "volkslied" waarin 'n AFGOD aangeroep word
(verseker is daardie "Nkosi" nie die God van Bloedrivier nie!!!);
11.2 waar ons kinders, bejaardes en broodwinners op plase, in
dorpe en in stede opgekap en doodgemartel word;
11.3 waar ons vroue en selfs klein meisietjies en bejaarde
grootmoeders barbaars verkrag en gemartel word;
11.4 waar ons werkloses - doelloos en moedeloos - se selfrespek en
lewenskwaliteit in duie stort;
11.5 waar ons van aardse besittings maar erger nog, van
geestesgoedere beroof word deurdat ons identiteit, selfrespek, en
ons tradisionele norme- en waardesisteem op enige denkbare wyse
aangeval, verdraai en belaster word;
11.6 waar meer as 'n half-miljoen van ons mense tot onder die
broodlyn verarm is en deur ellende platgeslaan is of op talle
maniere ontaard;
11.7 waar ons gebreinspoel word om te verbaster en te verheidens
op elke terrein denkbaar.
12. BY OORWEGING VAN DIE VRAAGSTUK OM KERKLIDMATE - EN DIE
VERBONDSVOLK OOR DIE ALGEMEEN - AAN HIERDIE SIEK EN SONDIGE
STAATKUNDIGE TOESTAND TE ONTWORSTEL, KAN TEOLOGIE EN KERK DUS NIE
ONBETROKKE BLY NIE - hoewel ons Godgegewe GESONDE VERSTANDons uiteraard ook by ander tersaaklike studievelde en
instellings sal uitbring.
13. Een sodanige studieveld is die Volkereg. Hierdie regsisteem
beklee alle volke op aarde (dus ook ons Verbondsvolk) met die reg
op selfbeskikking, maar skryf ook voor wat 'n volk wie se reg op
selfbeskikking geskend word, te doen staan ten einde daardie reg
herstel te kry. Logies genoeg veronderstel dit in die eerste
instansie dat so 'n volk oor 'n liggaam van verteenwoordigers
beskik wat 'n mandaat van die volk ontvang het om herstel van die
regsverbreking te eis. Omdat ons volk (genadiglik) nie 'n
koningshuis het nie, sal daar slegs een verteenwoordigende liggaam
wees wat oor so 'n mandaat van die volk kan beskik, en dit is 'n
liggaam wat demokraties daartoe VERKIES is tydens 'n
VOLKSVERKIESING. GEEN ander groep of frontorganisasie, klein of
groot, KAN juridies gesproke oor die reg beskik om selfbeskikking
namens ons volk te eis en af te dwing nie. Dit is dus irrelevant
hoeveel verskillende "splintergroepies" bestaan, en of hulle in 'n
"front" saamwerk of nie. Slegs 'n verkose liggaam kan ons
verteenwoordig in die stryd om onder vreemde, Godlose oorheersing
uit te kom.
14. Dit beteken NOODWENDIG dat daar 'n verkiesing binne ons
volksgeledere gehou moet word en 'n verkiesing impliseer
noodwendig dat dit deur "iemand" gefasiliteer moet word. Dit is
presies waarmee die VVK besig is. Enige volksgenoot wat as kieser
registreer, is beklee met die bevoegdheid om 'n
Volksraad-kandidaat van sy of haar keuse te nomineer op die
basis dat so 'n persoon slegs in individuele hoedanigheid 'n
kandidaat is en, indien uiteindelik verkose, as individu verkose
sal wees. Geen politieke partye sal enige rol speel in die
Volksraad wat verkies staan te word nie. En soos die "Independant
Electoral Commission" wat die verkiesings van die ANC-regime
fasiliteer nie 'n party of politieke rolspeler in daardie
verkiesings is nie, so is die VVK se Sentrale Komitee nie
kandidate nie; en werf ons nie "lede" nie; en kan ons nie op enige
ander wyse bevoordeel word by die komende verkiesing nie. Die
VVK is NIE 'n politieke organisasie nie: Dit is 'n
administratiewe liggaam wat die proses fasiliteer - soos
voorgeskryf deur die Volkereg - vir 'n volk wat sy reg op
selfbeskikking wil herstel. Daarom kan die Kerk, of wie
ookal, sy gewig by die proses ingooi sonder enige regmatige vrees
dat aantygings van "politieke bevoordeling" in die proses teen die
Kerk gemaak kan word.
15. En dit is die WERKE wat op hierdie stadium
van die proses benodig word, terwyl die magte van Satan alles in
hulle vermoë doen om ons volkstryd dood te swyg of teen te staan:
Dat ons Verbondsvolk-instansies, en ook die kerke van die
Verbondsvolk, soveel moontlik van ons mense blootstel aan die
keuse en 'n geleentheid om te registreer op die
volkskieserslys. Skrywer glo met hart en siel dat daar 'n
oorblyfsel in hierdie volk uitverkies is, van voor die
grondlegging van die wêreld af, wat steeds die God van Bloedrivier
smeek om uitredding in die stryd van vandag; en dit ook sal
ontvang - wat die stroom humaniste en sogenaamde "liberaliste"
ookal dink of redeneer.
16. Dit is die Kerk se besluit, of hy deel van hierdie
noodlotsweg gaan wees; en of hy weer - soos in die geskiedenis -
'n omstander gaan bly. Indien die Kerk die verkeerde besluit neem,
sal hy nie die Verbonds-God nie, en ook nie die Verbondsvolk wat
in Sy hande is, benadeel nie - die Kerk sal net homself benadeel.
Vir redes reeds hierbo gemeld, hoop skrywer dat die Kerk anders
sal optree as in die vorige noodlotsure van ons volk.
Met broederlike groete,
Paul Kruger
Voorsitter: Sentrale Komitee, Volksraad Verkiesing Kommissie
Artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis
Aangeneem op die Sinode van Dordrecht, 1618-1619.
"Ons glo dat ons goeie God - vanweë die
verdorwenheid van die menslike geslag - konings, vorste en
owerhede verorden het, en dat dit Sy wil is dat die wêreld
regeer moet word deur wette en staatsinstellings, sodat die
wanordelikheid van die mense bedwing kan word en alles met
goeie orde onder die mense kan geskied. Met dié doel het Hy
die owerheid die swaard in die hand gegee om die kwaaddoeners te
straf (Rom. 13:4) en dié wat goed doen te beskerm (1
Pet. 2:14). En hul opdrag is om nie alleen ag te gee op-
en te waak oor die staatsinstelling nie, maar ook om die
heilige bediening te handhaaf, om te weer en uit te roei alle
afgodery en valse godsdiens, om die ryk van die Antichris ten
gronde te rig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder,
die Woord van die evangelie orals te laat preek, sodat God deur
elkeen geëer en gedien word, soos Hy in Sy Woord beveel. Verder is
elkeen, van watter hoedanigheid, rang of status hy ook al mag
wees, verplig om hom aan die owerhede te onderwerp, belastings te
betaal, aan hulle eer en eerbied te betoon en hulle gehoorsaam
te wees in alles wat nie stry met die Woord van God nie; vir
hulle voorbidding te doen, sodat dit die Here mag behaag om hulle
te rig in al hul weë en sodat ons 'n rustige en stil lewe kan
lei in alle Godsvrug en waardigheid (1 Tim. 2:1-2).
(Opmerking: Vir enige mens wat kan hoor en sien is dit duidelik
dat die owerheid wat ons tans regeer, JUIS DIE TEENOORGESTELDE IS
EN DOEN as wat Bybels en in Art. 36 van die Nederlandse
Geloofsbelydenis verwag word van 'n owerheid
waaraan 'n kind van God onderdanig kan en moet wees. Soos Petrus
aan die Joodse Raad verduidelik het, kan en mag ons nie MEER
gehoorsaam wees aan enige mense as aan God nie).