IN DIE BESEF dat daar ’n wesenlike aantal Afrikaners of Boere is wat
die internasionaal-erkende reg op selfbeskikking opeis, oftewel die reg
om hulleself as volks- en kultuurgroepering te regeer volgens eie
kulturele norme en waardes (hierna “die Volk” genoem);
EN AANGESIEN die Volk se reg op selfbeskikking geminag word;
EN AANGESIEN ’n aantal organisasies en individue wat hulle vir die Volk
se belange beywer, tydens ’n ope volksvergadering op 21 Julie 2007 te
Pretoria besluit het dat ’n liggaam deur die Volk verkies moet word wat
die Volk se selfbeskikking-eis op nasionale- en internasionale vlak
namens die Volk kan stel en beding;
EN AANGESIEN op dieselfde vergadering besluit is dat die verkiesing van
so ’n volksverteenwoordigende liggaam deur ’n struktuur gefasiliteer
moet word;
EN AANGESIEN so ’n fasiliterende struktuur verkies is - met bevoegdheid
om sy geledere aan te vul of andersins te wysig - tydens ’n ope
opvolg-vergadering op 18 Augustus 2007 te Pretoria, en as die
“Volksraad Verkiesing Kommissie” as sulks begin opereer;
NOU DERHALWE verklaar ons, die eerste verkose lede van die Volksraad
Verkiesing Kommissie, die Grondwet van die Kommissie as volg:
2. NAAM
2.1. Die Kommissie met bogenoemde mandaat, heet die Volksraad
Verkiesing Kommissie (hierna “die Kommissie” genoem) en die liggaam van
volksverteenwoordigers wat verkies staan te word, sal bekend staan as
die Volksraad.
2.2. In verkorte vorm heet die Kommissie die “VVK”. Slegs in
dokumentasie deur die VVK self opgestel, sal die verkorte vorm “die
Kommissie” ook geldig wees.
2.3. Die vertaalde vorme van die Kommissie se naam sal wees
ooreenkomstig besluite van die Kommissie in hierdie verband soos van
tyd tot tyd geneem mag word.
3. BEGINSELS, DOELSTELLINGS EN PROGRAM
3.1. Die Kommissie se beginsels, doelstellings en program word
uiteengesit in Bylaag 1 hiertoe wat deur die eerste verkose lede van
die VVK onderteken is en getiteld is “Die Volksraad Verkiesing
Kommissie: 33 artikels van Beginsels, Doelstelling en Program”.
Genoemde Bylaag 1 vorm vir alle doeleindes ‘n integrale deel van
hierdie Grondwet.
3.2. Die Kommissie behou diskresie tot die formulering van genoemde
Bylaag 1, alle verdere Bylae hiertoe, asook enige moontlike
opvolg-dokumentasie wat in al voorgenoemde opsigte uitgereik mag word.
Hierdie diskresie is slegs onderhewig aan die beginsel dat die
Kommissie nooit mag handel op ‘n wyse wat strydig is met sy mandaat,
naamlik die besluit om ‘n Volksraad te laat verkies soos voormeld, of
andersins strydig is met die Volk se reg op selfbeskikking en
onafhanklikheid nie.
4. KODE VAN OPTREDE
4.1. Alle persone wat by die werksaamhede van die Kommissie betrokke is
en elkeen wat as kieser registreer, sal onderhewig wees aan die
bepalings van die Kode van Optrede en gedrag welke hierby aangeheg word
as Bylaag 2 en vir alle doeleindes ’n integrale deel van hierdie
Grondwet vorm.
4.2. Hierdie Grondwet, tesame met Bylaag 1 en Bylaag 2 daartoe word hierin na verwys as “die Stigtingsdokumente”.
5. EMBLEEM
Die embleem van die Volksraad Verkiesing Kommissie is ’n grafiese
vereenvoudiging van die beeldewerk opgerig ter gedagtenis aan die Vrede
van Vereeniging teen die agtergrond van die vierkleur groen, oranje,
wit en blou soos volledig vervat ’n Bylaag 3 hiertoe; welke bylaag deur
die eerste verkose lede van die Kommissie onderteken is en vir alle
doeleindes ’n integrale deel van hierdie Grondwet vorm. Geen ander
embleem sal deur of namens die Kommissie gevoer word nie.
6. SAMESTELLING, PLIGTE EN INTERNE VERHOUDINGE
6.1. Die Kommissie bestaan uit ’n Sentrale Komitee, Kiesstreekrade en
Kiesafdelingrade. Daarbenewens kan die Sentrale Komitee werkgroepe met
spesifieke take aanstel soos van tyd tot tyd nodig of dienstig blyk te
wees ter uitvoering van die Kommissie se mandaat. Die Sentrale Komitee
is gemagtig om enige handeling uit te voer soos nodig of dienstig mag
blyk te wees ten einde uitvoering te gee aan die Kommissie se mandaat,
naamlik fasilitering van die verkiesing van ’n Volksraad.
6.2. Die samestelling van die Sentrale Komitee wat die werksaamhede van
die Kommissie inisieer, spruit voort uit die verkiesing van ’n
fasiliterende liggaam op 18 Augustus 2007 soos voormeld en bestaan uit
’n Voorsitter, Adjunk-Voorsitter, Sekretaris, Rentmeester, Griffier en
soveel addisionele Lede as wat die Sentrale Komitee van tyd tot tyd mag
koöpteer ooreenkomstig behoefte. Die Voorsitter, Adjunk-Voorsitter en
minstens een verdere Lid van die Sentrale Komitee (synde enige ander
Lid daarvan) tree op as Dagbestuur en vervul take soos hieronder genoem.
6.3. Geen regspersoon of ’n natuurlike persoon in sy- of haar
hoedanigheid as deel van enige regspersoon, sal deel van die Kommissie
uitmaak nie.
6.4. Die Voorsitter, bygestaan deur die ander lede van die Sentrale
Komitee, behartig die leiding en koördinering van die Kommissie se
werksaamhede en tree op as enigste gemagtigde woordvoerder en
spreekbuis van die Kommissie. Die Voorsitter kan enige van sy
verantwoordelikhede aan ’n Lid van die Kommissie delegeer soos besluit
op ’n vergadering van die Sentrale Komitee.
6.5. Geen handeling of uitspraak word namens die Kommissie onderneem of
gemaak, of sal die Kommissie op enige wyse bind of ten laste gelê word,
buiten dit wat vooraf op ’n vergadering van die Sentrale Komitee
goedgekeur is nie. Besluite van die Sentrale Komitee sal slegs as
sodanig erken word indien dit vervat word in ’n notule of ander
dokument wat onderteken is deur al die lede daarvan of minstens deur
die Dagbestuur.
6.6. Die lede van die Sentrale Komitee sal slegs deur volmag van ’n
mede-lid van die Sentrale Komitee, op vergaderings van laasgenoemde
verteenwoordig kan word. ’n Kworum sal deur die Dagbestuur daargestel
word.
6.7. Die Adjunk-Voorsitter staan die Voorsitter in sy
verantwoordelikhede by; en tree in plek van die Voorsitter op indien
dit vir enige rede onmoontlik vir laasgenoemde is om sy werksaamhede
uit te voer.
6.8. Die Sekretaris behartig oorhoofse administratiewe take ten bate
van die Kommissie, soos besluit op vergaderings van die Sentrale
Komitee.
6.9. Die Griffier hanteer agendas en notules van die Kommissie.
6.10. Die Rentmeester in samewerking met die Voorsitter, is
verantwoordelik vir hantering van die Kommissie se fondse ooreenkomstig
besluite van die Sentrale Komitee in hierdie verband van tyd tot tyd.
6.11. Die pligte van die Rentmeester behels meer spesifiek:
6.11.1. Hantering van die Kommissie se fondse ooreenkomstig algemeen
aanvaarde rekeningkundige praktyk; insluitende (maar nie daartoe beperk
nie) die uitreiking, ontvangs en bewaring (vir minstens vyf jaar) van
brondokumente ten opsigte van iedere verwisseling van geld waarby die
Kommissie betrokke is; die rekeningkundige optekening van alle
transaksies; en ondertekening (tesame met die Voorsitter van die
Sentrale Komitee) van die Kommissie se tjekvorms. Behalwe waar anders
besluit deur die Sentrale Komitee, sal geen betaling deur die Kommissie
anders as per tjek geskied nie, en sal ’n tjekbetaling altyd die naam
van die begunstigde aandui.
6.11.2. Opdraggewing aan ’n rekeningkundige beampte vir opstelling van
die Kommissie se finansiële state (Inkomste- en Uitgawestaat en
Balansstaat) een maal per jaar teen finansiële jaareinde op 28
Februarie elke jaar.
6.11.3. Indien en ooreenkomstig die Sentrale Komitee se besluit, sal
die Rentmeester alle samewerking verleen aan enigiemand belas met ’n
oudit van die Kommissie se finansies. Die rekeningkundige rekords sal
te enige tyd vir insae beskikbaar gestel word aan ’n skenker as
belanghebbende persoon.
6.11.4. Die Rentmeester sien toe tot deponering van alle fondse deur of
ten behoewe van die Kommissie ontvang, in ’n bankrekening of andersins
soos bepaal deur die Sentrale Komitee. Geen fondse word ten bate van
die Kommissie deur ’n Kiesstreekraad, Kiesafdelingraad of enigiemand
anders ontvang nie - dit word slegs deur die Sentrale Komitee ontvang.
Die Sentrale Komitee ken fondse aan Kiesstreekrade, Kiesafdelingrade en
ander strukture en projekte van die Kommissie toe ooreenkomstig
behoefte en soos van tyd tot tyd deur die Sentrale Komitee besluit mag
word.
6.12. Die Sentrale Komitee identifiseer persone wat versoek word om op
Kiesstreekrade en Kiesafdelingrade te dien. Ooreenkomstig besluite van
die Sentrale Komitee van tyd tot tyd, sal Kiesstreekrade die Sentrale
Komitee behulpsaam wees om die Kommissie se werksaamhede op streek-vlak
uit te voer, en sal Kiesafdelingrade die Sentrale Komitee behulpsaam
wees om sy werksaamhede op plaaslike- (distriks) vlak uit te voer.
6.13. Die Sentrale Komitee is verantwoordelik vir die oorhoofse bestuur
van Kiesstreekrade en Kiesafdelingrade; welke rade te alle tye
onderhewig is aan die Stigtingsdokumente en die besluite van die
Sentrale Komitee.
6.14. Ter administrering van Kiesstreekrade se werksaamhede word die
Sentrale Komitee, ooreenkomstig sy besluite in enige spesifieke geval,
bygestaan deur ’n Kiesstreekraad-Voorsitter; -Adjunk Voorsitter;
Kiesstreekraad-sekretaris en -griffier.
6.15. Ter administrering van Kiesafdelingrade se werksaamhede word die
Sentrale Komitee, ooreenkomstig sy besluite in enige spesifieke geval,
bygestaan deur ’n Kiesafdelingraad-Voorsitter; -Adjunk Voorsitter;
Kiesafdelingraad-sekretaris en -griffier.
6.16. Waar moontlik vergader die Sentrale Komitee minstens eenmaal per
week; synde die gereelde sittings. Buitengewone sittings sal deur lede
van die Sentrale Komitee belê kan word soos en wanneer nodig.
Laasgenoemde moet geskied by wyse van skriftelike kennisgewing aan die
ander lede.
6.17. Enige lid van die Sentrale Komitee kan ’n besprekingspunt op ’n sakelys van ’n voorgenome vergadering plaas.
6.18. Dieselfde vergader-reëlings sal ten aansien van Kiesstreekrade en Kiesafdelingrade geld, met die noodwendige aanpassings
7. REGSPERSOONLIKHEID
Die Volksraad Verkiesing Kommissie sal, in die vorm van ’n vrywillige
vereniging sonder wins-oogmerk, ’n regspersoon en selfstandige draer
van regte en verpligtinge daarstel; en derhalwe volkome onafhanklik van
sy lede bestaan en funksioneer. Die Kommissie vrywaar alle natuurlike
persone teen enige eise van welke aard ook al wat mag voortspruit uit
optrede ten behoewe van die Kommissie soos vooraf deur die Sentrale
Komitee daarvan goedgekeur.
8. FINANSIELE OPBRENGSTE EN LEDEGELDE
8.1. Gelde wat die Kommissie mag ontvang, sal slegs aangewend word vir
doeleindes van die Kommissie se mandaat (soos hierbo uiteengesit)
insluitend doeleindes wat daarmee verband hou of dit op een of ander
wyse mag bevorder. Geen gelde sal by wyse van ’n dividend, as bonus, as
’n wins of op enige ander wyse aan lede van die Kommissie of enigiemand
anders (hetsy regs- of natuurlike persone) oorgedra word nie.
8.2. Die bepalings van Klousule 8.1 hierbo (en elders hierin) sal egter nie die volgende verhinder nie:
8.2.1. Die terugbetaling aan enige persoon van skriftelik-bewese
uitgawes aangegaan in belang van die Kommissie en goedgekeur deur die
Sentrale Komitee.
8.2.2. Die betaling aan enige persoon van vergoeding soos redelikerwys
vasgestel, ten aansien van goedere en/of dienste aan die Kommissie
gelewer en goedgekeur deur die Sentrale Komitee.
8.3. Ter finansiering en uitvoering van sy mandaat of doeleindes wat
daarmee verband hou, mag die Kommissie donasies inwin; bates ontvang en
bestuur; en/of gelde vorder vanaf persone op die Kiesregister
ooreenkomstig die Sentrale Komitee se besluite in hierdie verband van
tyd tot tyd.
9. VRYWARING EN SKADELOOSSTELLING
9.1. Die Kommissie sal op geen wyse aanspreeklik wees vir verlies,
skade of besering van welke aard ook al deur enigiemand gely nie -
hetsy deur ’n funksionaris daarvan of enige derde party - ongeag die
wyse waarop en deur wie sodanige verlies, skade of besering ook al mag
ontstaan of gely word.
9.2. Voorgenoemde verhinder nie dat die Kommissie ’n betaling ex gratia
in enige verdienstelike geval kan maak nie; die meriete daarvan al dan
nie om bepaal te word deur die Sentrale Komitee.
10. WYSIGING
Hierdie Grondwet sal slegs by wyse van ’n besluit deur die Sentrale
Komitee, goedgekeur deur minstens 75% van sy lede, gewysig kan word.
11. TEKS
Slegs die Afrikaanse teks van hierdie Grondwet sal uit ’n regsoogpunt die geldige en geldende teks wees.
12. ADRES
Die adres waar die Kommissie alle kennisgewings aan hom insluitend
enige prosesstukke wat op hom beteken word sal aanvaar, is die fisiese
adres van die Sentrale Komitee se kantoor soos van tyd tot tyd besluit
per vergadering van die Sentrale Komitee.
Inleiding
1. In die Volkereg, wat verhoudinge reël tussen volkere en state, word
die beginsel erken - en trouens van die veronderstelling uitgegaan- dat
volke (klein of groot) die reg het om hulleself te regeer ooreenkomstig
hulle eie waarde- en normestelsels.
2. Hierdie beginsel van selfregering oftewel “selfbeskikking” is ook
vervat in talle internasionale verdrae; in die Handves van die
Verenigde Nasies (VN) asook in vele “Deklarasies” wat deur die VN
aangeneem is.
3. Selfs in die huidige Grondwet van Suid-Afrika word erkenning aan die
beginsel verleen en word die moontlikheid daargestel vir ’n
kultuurgroep wat hierdie reg opeis, om tot selfbeskikking te kom.
4. Die korrektheid van die selfbeskikking-beginsel word wêreldwyd
onderstreep in moderne tye, namate dit al duideliker word dat die staat
in sy huidige vorm nie ontwerp was om te voldoen, en nie kan voldoen,
aan die uiteenlopende waardestelsels en behoeftes van ’n mengelmoes
kulture wat in een staat vasgevang is nie.
5. Mense wat tot ’n sekere rassegroep behoort kan nooit in ras-verband
(hetsy as Blankes of Swartes) aanspraak maak op selfbeskikking nie. Die
internasionaal-erkende reg op selfbeskikking kleef slegs aan ’n volk.
6. ’n Volk is ’n gemeenskap van mense wat weens langdurige samewoning
en ondertrouing oor ’n eiesoortige identiteit beskik, onderskeibaar van
ander mense buite die volksverband.
7. Hierdie volks-identiteit bestaan uit twee terreine van
gemeenskaplikheid: Eerstens ’n breë basis van gemeenskaplike
afstamming; en tweedens ’n gemeenskaplike kultuur (dit wil sê ’n
gemeenskaplike taal en ook ’n basiese gemeenskaplikheid van lewenswyse,
norme en waardes op die ander lewensterreine).
8. Geen volk, klein of groot, bestaan outomaties voort nie. ’n Volk se
voortbestaan is afhanklik van ’n kritiese minimum aantal volksgenote
wat die voortbestaan daarvan wil en bereid is om daarvoor te stry en te
werk.
9. Die Internasionale Geregshof (gesetel te Den Haag, Nederland) is die
enigste hof wat internasionaal-bindende uitsprake kan maak oor die
Volkereg, oor internasionale verdrae en die VN se beginsels. Maar,
slegs ’n Regering van ’n staat kan ’n party wees in ’n Internasionale
Geregshof-geding. ’n Volk wie se reg op selfbeskikking geminag word,
het dus ongelukkig nie toegang tot die Internasionale Geregshof nie.
Daar is egter wel ’n hele aantal alternatiewe moontlikhede waarop sulke
volke hulle selfbeskikking-eis in die internasionale arena aanhangig
kan maak.
10. Daar bestaan byvoorbeeld verskeie prosedures waarvolgens ’n
onderdrukte volk ’n klag teen die staat wat hulle onderdruk (hetsy op
politieke-, ekonomiese- of ander terreine) by die Verenigde Nasies kan
lê. ’n Volk sonder selfbeskikking kan ook lid word van die
Onverteenwoordigde Nasies en Volkere Organisasie (die “Unrepresented
Nations and People’s Organisation” of UNPO) - ’n internasionale liggaam
waarin talle volke sonder selfbeskikking verteenwoordig is; wat hom
spesifiek beywer vir die belange van daardie volke; en wat reeds ’n
hele aantal volke bygestaan het op hulle pad na selfregering.
11. ’n Aantal van hierdie internasionale moontlikhede het uiteraard die
voorvereiste dat binnelandse moontlikhede ter opeising van die
selfbeskikkingsreg eers uitgeput moet word.
12. Hierdie opsies het egter almal ’n sentrale (en logiese)
veronderstelling; naamlik dat daar ’n liggaam moet bestaan wat deur die
betrokke volk verkies is en wat selfbeskikking namens die volk kan eis
en beding, op beide nasionale en internasionale vlak.
13. Teen hierdie agtergrond is die Volksraad Verkiesing Kommissie in die lewe geroep.
Identiteit
14. Die samestelling van volke bly
nie staties nie maar verander voortdurend; nie net weens geboortes en
sterftes nie maar ook omdat verbondenheid aan die gemeenskap wat ’n
volk uitmaak, vrywillig is: Mense wat in ’n volk gebore is kan besluit
om hulleself los te maak van daardie volk se voortbestaan om eerder
aansluiting by ’n ander volk of bevolking te probeer vind. So ook kan
iemand wat buite ’n sekere volk gebore is, besluit om deel daarvan te
wil wees en, mits so ’n volksgemeenskap oorwegend bereid is om die mens
in sy midde op te neem, sal hy of sy deel van daardie ander volk kan
word. Volk bepaal dus wie volk is.
15. Met ’n kultuur-identiteit wat onderskeibaar is van enige ander volk
op aarde, voldoen die Afrikaanssprekende Blankes wat aan die suidpunt
van Afrika woon aan alle vereistes om as ’n volk geklassifiseer te kan
word; en is as volk dus ook ’n draer van die internasionaal-erkende reg
op selfbeskikking.
16. Die voorsate van hierdie volk kon reeds eeue lank ingedeel word in
twee basiese denkrigtings (’n indeling wat vandag steeds voorkom);
naamlik enersyds ’n deel vir wie die behoud van identiteit in ’n eie
onafhanklike staat van mindere (of selfs geen) belang is nie; en
andersyds ’n deel vir wie selfbeskikking lewensnoodsaaklik is en nooit
onderhandelbaar is nie.
17. Eersgenoemde deel se gebrek aan ’n onafhanklikheidstrewe het nie in
die verlede nie, en plaas ook nie nou, enige beletsel op die
selfbeskikkingstrewe van die res nie: Diegene sonder ’n strewe na
selfbeskikking laat vaar dikwels hulle volkskap uiteindelik in elk
geval, en verdwyn daarmee as faktor in die hele selfbeskikking-kwessie.
In ander gevalle weer word met verloop van tyd na die
pro-selfbeskikking denkrigting oorbeweeg. Die belangrikste oorweging is
egter dat daar nog altyd voorheen - soos ook nou - ’n kritiese massa is
wat onafhanklikheid en selfbeskikking opeis; met bereidwilligheid om
daarvoor te werk en duur offers daarvoor te bring.
18. Die groep wat na selfbeskikking streef was veral in die verlede
onder die term “Boere” bekend en daar is verblydend genoeg nou weer ’n
opeising en herlewing van die roemryke naam “Boerevolk” - die naam
waaronder twee klein Republieke ter wille van selfbeskikking van 1899
tot 1902 die ganse Britse Ryk beveg het; geweldige offers daarvoor
gebring het; en tot begeestering vir ons saak by die res van die wêreld
gelei het.
19. In die groep wat selfbeskikking vandag nastreef, is daar egter ook
steeds groot getalle mense wat hulleself as “Afrikaners” bestempel.
Hierdie verskillende benamings (Boer en Afrikaner) mag nie tot
tweespalt lei onder diegene wat selfbeskikking opeis nie. Daarom staan
die Volksraad Verkiesing Kommissie in diens van alle volksgenote wat
selfbeskikking opeis; en laat dit aan die individu oor om die volksnaam
te gebruik waarmee hy of sy tevrede is.
20. Wanneer daar in geskrifte van die Volksraad Verkiesing Kommissie
bloot na “die Volk” verwys word, verwys dit na al diegene wat
selfbeskikking eis. Dit is geslagte lank reeds tradisie dat hierdie
Volk vir hom ’n Volksraad verkies uit die individue in sy midde en nie
uit politieke partye nie - ’n Volksraad waarin ons onblusbare strewe om
onsself in vryheid te regeer, verteenwoordig word en die hoogste
besluite in hierdie verband oor ons toekoms geneem word.
21. Sonder ’n Volksraad, wat slegs gefokus is op die kern van ons
probleem en wat ons oor partyskap en kleinlike verskille heen kan
verteenwoordig, kan ons niks anders verwag as die knegskap en totale
verlies aan seggenskap oor onsself waarin ons nou jare reeds gedompel
is nie.
22. Die feit dat ons as Blanke volk op die oorwegend Swart vasteland
van Afrika woon, maak geen verskil aan ons politieke regte nie. Nie
eens die eerste generasie Swartes wat na Europa emigreer, durf volgens
hulleself as “setlaars” in Europa beskou word nie. Ons Volk het eeue
gelede in Afrika ontstaan; is dus inheems aan Afrika en beskik daarom
oor presies dieselfde regte op die vasteland van Afrika as enige ander
inheemse Afrika-volk.
Doelstelling en visie
23. Die VVK se doel is om die proses te fasiliteer deur middel waarvan
kandidate op demokratiese wyse tot ’n Volksraad verkies word. So ’n
Volksraad sal oor ’n behoorlike mandaat beskik om die Volk se eis vir
selfregering te stel en te beding by die tersaaklike nasionale- sowel
as internasionale instansies.
24. Hierdie proses sal plaasvind binne die raamwerk van nasionale
regsreëls saamgelees met Volkeregtelike regsreëls en internasionale
verdrae.
25. ‘n Volksraad word vir ’n termyn van 3 (DRIE) jaar verkies, waarna
’n nuwe Volksraad-verkiesing deur die VVK gefasiliteer sal word.
26. Volksraad-lede sal herkiesbaar wees.
27. Omdat meerdere geskikte Volksraad-kandidate in ’n sekere
geografiese gebied mag wees en min of geen geskikte kandidate in ’n
ander gebied nie, word daar nie verkiesing gehou tussen twee of meer
kandidate in ’n geografiese kiesafdeling nie. In stede daarvan word
Volksraadslede proporsioneel verkies, wat beteken dat ’n kandidaat tot
die Volksraad verkies word sodra ’n minimum aantal stemme landwyd op so
’n kandidaat verenig word.
28. Volksraadslede sal gebonde wees aan ’n ampsbelofte wat in naam van
die Volk deur die VVK aan hulle voorgelê sal word by aanvaarding van
die amp. Indien die oortuiging op enige stadium tydens ’n Volksraadslid
se termyn ontstaan dat so ’n Lid op welke wyse ook al die
selfbeskikkingstrewe ondergrawe, kan ’n mosie van wantroue ’n daardie
Lid deur ’n minimum van 500 stemgeregtigdes by die VVK ingedien word.
’n Wantroue-debat waaraan enige stemgeregtigde sal mag deelneem, word
dan deur die VVK belê en indien die wantroue-mosie aanvaar word deur
minstens 51 persent van alle stemgeregtigde aanwesiges, skryf die VVK
’n tussenverkiesing uit om die betrokke Lid met ’n ander te vervang.
29. Sodra ’n Volksraad verkies is, het die VVK sy doelwit bereik en
word dit (met uitsondering van moontlike tussenverkiesings) rustende
totdat die termyn van die Volksraad verstryk het en ’n daaropvolgende
Volksraad-verkiesing gehou en deur die VVK gefasiliteer moet word.
30. Behalwe vir sy verbondenheid aan een sentrale beginsel alleen,
naamlik selfbeskikking vir die Volk, bemoei die VVK homself nie met
denkrigtings, filosofieë, strategieë of strydvrae betreffende hoe en
waar selfbeskikking verwesenlik moet word nie. ’n Volksraad word juis
verkies om self besluite te neem (onderhewig aan die stem van die Volk)
wat betref hoe en waar selfbeskikking verwesenlik gaan word. Dit is
besluite wat sal afhang van hoeveel mense uiteindelik selfbeskikking
eis; waar sulke Volksgenote oorwegend woon; die reaksie (nasionaal en
internasionaal) wat mag volg sodra die selfbeskikking-eis in beginsel
deur die Volksraad gestel word; en talle ander omstandighede wat nie
vooruit voorsienbaar is nie.
31. Sonder om in dwepery of godsdienstige twisvrae te verval, besef die
VVK die omvang van die uitdaging wat hierdie proses sal meebring en dat
dit sonder ingryping en hulp van die God van die Bybel, nie moontlik
sal wees nie.
32. Die roete wat gevolg word is dus die volgende:
32.1. Die VVK fasiliteer ’n verkiesing van Volksraadslede wat almal die beginsel van selfbeskikking onderskryf.
32.2. Daarna maak die verkose Volksraad namens die Volk aanspraak by
die Suid-Afrikaanse Regering op die beginsel (niks meer nie) dat die
Volk oor die reg beskik om homself te regeer volgens sy eie waarde- en
normestelsel in ’n eie staat.
32.3. Indien die Suid-Afrikaanse Regering bereid blyk te wees, nie net
om hierdie aanspraak te erken nie maar ook om beslag daaraan te gee op
welke wyse ook al, tree die Volksraad met die Suid-Afrikaanse Regering
in onderhandeling om ’n vreedsame skikking te bewerkstellig. Die
Volksraad se beweegruimte tydens sulke onderhandeling sal bepaal word
deur opdragte en mandate wat telkens vooraf deur meerderheidstem vanaf
die Volk verkry sal word.
32.4. Indien die Suid-Afrikaanse Regering nie bereid blyk te wees om
beslag te gee aan die aanspraak op selfregering nie hetsy vir welke
rede ook al, benut die Volksraad alle beskikbare moontlikhede op
internasionale vlak om die Internasionale Gemeenskap te betrek by die
dispuut vir doeleindes van ’n onderhandelde skikking.
32.5. Indien die Internasionale Gemeenskap nie ingryp om ’n
onderhandelde skikking te bemiddel nie, word volksvergaderings deur die
Volksraad belê waartydens die Volk sal besluit wat hom te doen staan in
die lig van omstandighede; en dienooreenkomstige opdragte aan die
Volksraad sal uitreik.
Program
33. Om voorgenoemde te bereik, word dus die volgende stappe deur die VVK uitgevoer:
33.1. Afbakening van streke en kiesafdelings vir administratiewe
doeleindes; en vestiging van regionale- en sekondêre VVK-strukture ter
uitvoering van die totale proses.
33.2. Registrasie van kiesers op ’n Kiesregister deur die Registrasie
Werkgroep van die VVK. ’n Voornemende kieser doen eerstens aansoek om
sy of haar naam op die Kiesregister te plaas en hierdie name sal op ’n
Lys van Voornemende Kiesers vir openbare insae beskikbaar wees. In so
’n aansoek verklaar die voornemende kieser dat hy of sy die beginsel
van selfregering vir die Volk onderskryf. Indien die VVK se Sentrale
Komitee redelikerwys vermoed dat ’n persoon so ’n verklaring valslik
maak, word die betrokke aansoek om registrasie as kieser aan ’n
VVK-paneel voorgelê; wat dit kan goedkeur of afkeur. Die
minimum-ouderdom om as kieser te registreer is 18 jaar en ’n persoon is
te enige tyd geregtig om sy naam van die Kiesregister op eie versoek te
laat verwyder.
33.3. Samestelling van die Lys van Kandidate. Om as Volksraad-kandidaat
te kwalifiseer sal ’n persoon deur ’n stemgeregtigde voorgestel en die
kandidatuur deur minstens ’n honderd ander stemgeregtigdes gesekondeer
moet wees. Die Volksraad bestaan uit 7 (sewe) setels.
33.4. Stemming vind plaas deurdat stemgeregtigdes in voorkeur-orde stem
vir die kandidate van hulle keuse. Die eerste 7 kandidate met die
meeste stemme sal tot die Volksraad verkies wees. Internasionale
liggame met tersaaklike kennis en ondervinding word uitgenooi om as
waarnemers op te tree betreffende die vry en regverdige aard van die
verkiesing.
33.5. Die Volksraadslid wat die meeste stemme op hom verenig, word
outomaties deur die Volk as Voorsitter en Woordvoerder van die
Volksraad aangewys.
33.6. Alle kandidate neem in hulle persoonlike hoedanigheid aan die
verkiesing deel en geensins in moontlike hoedanighede as lede, leiers
of ander ampsdraers van politieke partye of ander organisasies nie. Dit
verhoed geensins dat sulke persone as kandidate benoem kan word nie;
solank hulle benoeming en verkiesing tot die Volksraad in persoonlike
hoedanigheid plaasvind. Geen Volksraadslid sal aan party-dogma gemeet
word nie. Volksraadslede sal direk aan- en alleenlik teenoor die Volk
soos gelys op die Kiesregister, aanspreeklik wees.
33.7. Alle stemgeregtigdes verklaar hulleself vrywillig onderworpe aan
die VVK se Grondwet en sy Kode van optrede en gedrag. Indien die letter
of die gees van hierdie Dokument; die Grondwet of die Kode van optrede
geminag word, kan so persoon deur die VVK se Sentrale Komitee van die
Kiesregister verwyder word.
Slotwoord
Mag die VVK as dienaar van ons Volk
se edelste ideale, grootliks bydra tot die herstel van seggenskap oor
onsself. Verlies van seggenskap oor onsself het vernedering meegebring,
maar ook gelei tot haglike omstandighede vir vele volksgenote op
verskillende terreine. Die verkiesing van ’n Volksraad sal die geboorte
inlui van ’n nuwe staat op ’n vasteland wat ruimte het vir almal wat in
hom woon - ’n staat waarin ons onsself gaan regeer volgens ons eie
waardes en norme; volgens ons eie standaarde van vrede; stabiliteit,
voorspoed, doeltreffendheid en opleiding - in stede van ’n bankrot
politieke toekoms wat op ons volgende geslagte wag.
AANHEF
Die funksionarisse van die Volksraad Verkiesing Kommissie (hierna “die
Kommissie” genoem) en alle persone wat as stemgeregtigdes op ’n
Kiesregister deur die Kommissie geregistreer word ter uitvoering van sy
mandaat soos vervat in die res van hierdie Grondwet, is almal
onderhewig aan die volgende Kode van optrede en gedrag:
1. Alle betrokkenes by die Kommissie se werksaamhede, is in hulle
hoedanigheid as sulks verbonde aan een sentrale beginsel alleen;
naamlik die Volk se reg om homself te regeer volgens die
internasionaal-erkende reg op selfbeskikking van volke; sonder om enige
ander volk of nasie te wil oorheers.
2. Behalwe vir verbondenheid aan bogenoemde sentrale beginsel alleen,
word daar in die werksaamhede van die Kommissie gevolglik nie verval in
strydvrae wat betref denkrigtings, filosofieë, of strategieë ten
aansien van die “hoe” en “waar” van selfbeskikking nie.
3. Die Kommissie se taak is om die verkiesing van Volksraadslede op
demokratiese, deursigtige, vry en regverdige wyse te fasiliteer en dit
word aan so ’n verkose Volksraad oorgelaat (onderhewig aan die stem van
die Volk) en met inagneming van talle omstandighede wat nie vooruit
voorsienbaar is nie, om die “hoe” en “waar” van selfbeskikking namens
die Volk te beding.
4. Die Kommissie besef die geweldige omvangryke uitdaging wat sy taak
meebring en dat dit sonder ingryping en hulp van die God van die Bybel,
nie moontlik sal wees nie. Daarmee verklaar die Kommissie homself egter
nie as godsdiens-eksklusief nie en word geen Volksgenoot wat die
selfbeskikking-beginsel onderskryf soos ’n hierdie Grondwet
uiteengesit, van die Kommissie se werksaamhede uitgesluit nie.
5. Niemand verrig in naam van - of namens die Kommissie enige handeling
wat nasionale regsreëls (met inagneming van Volkeregtelike beginsels,
-reëls en verdrae) verbreek nie.
6. Niemand maak in naam van - of namens die Kommissie enige uitspraak
of voer enige ander handeling aldus uit nie, behalwe insoverre vooraf
deur ’n Sentrale Komitee-besluit van die Kommissie daartoe opgedra en
gemagtig.
7. Elke funksionaris van die Kommissie en elke stemgeregtigde lê hom of
haarself neer by die inhoud en bepalings van die Kommissie se
Stigtingsdokumente; by besluite van die Kommissie se Sentrale Komitee
ooreenkomstig sy Stigtingsdokumente geneem; en verdermeer by die
besluite wat ’n Volksraad, soos gemagtig deur ’n Volksvergadering, mag
neem.
8. Funksionarisse van die Kommissie sal deur stemgeregtigdes volgens
die normale prosedure as Volksraad-kandidate genomineer kan word; maar
die Kommissie sal op geen wyse die kandidatuur van sulke funksionarisse
bo ander kandidature bevoordeel nie.
9. Niemand verrig enige handeling wat die beginsel van selfbeskikking
soos in hierdie Grondwet omskryf, kan of sal ondergrawe nie.
10. In geval van enige dispuut tussen -enersyds- ’n funksionaris of ’n
voornemende kieser of ’n stemgeregtigde; en die Kommissie andersyds,
sal ’n beslissing van die Kommissie se Sentrale Komitee as bindend en
finaal aanvaar word.
11. Ter bevestiging van hulle onomkeerbare verbintenis aan die
verkryging van selfbeskikking vir die Volk, sal alle voorgenome
Volksraadslede ’n ampsbelofte by hulle verkiesing aflê wat namens die
Volk deur die Kommissie aan hulle voorgehou sal word.
12. Gefokus slegs op ’n einde aan ons onderdrukking, onderneem elkeen
wat die doelwit van die Kommissie onderskryf om òòr partyskap en
kleinlike verskille heen mee te werk dat die erwe van ons vadere, weer
erwe vir ons wordende geslagte sal wees.