Hoekom nog probeer om ons uit die gemors in Suid-Afrika te kry? Daar is tog niks wat ons aan die toestand kan verander nie.
Antwoord: Verkeerd. ‘n Volk wat in swak omstandighede
verkeer kan ALTYD iets daaraan doen, solank daar genoeg mense is wat
iets daaraan WIL doen en bereid is om opofferings te maak deur die loop
van verstandige aksies. Nêrens in die geskiedenis kon een klomp mense
dit regkry om ‘n ander klomp permanent te onderdruk nie. Die ANC sal
dit ook nie met ons regkry nie, behalwe as ons gaan aanhou om die
onderdrukking soos ‘n spul jellievisse te aanvaar.
Word ons werklik so erg onderdruk?
Antwoord: Ongeveer 30 000 Blankes is sedert 1994 in
Suid-Afrika vermoor – meer as wat in Britse konsentrasiekampe tydens
die Tweede Vryheidsoorlog gesterf het. Ons waardes en opvattings word
met minagting deur die Regering vertrap in honderde van die wette en
regulasies wat elke jaar gemaak word en wat ons slaafs moet eerbiedig,
terwyl baie ander maak wat hulle wil.
Ons boere word op elke moontlike manier van “rassisme” beskuldig,
uitgetart en verarm. Ons wetenskaplike en tegniese kennis het hierdie
stuk Afrika omskep van ‘n wildernis tot ‘n hoogs-ontwikkelde staat…maar
die enigste reaksie daarop van die Swart Bewind is om ons as derdeklas
burgers te duld en tot satwordens oor “Apartheid” tekere te gaan –
veral as hulle ‘n gemors van iets gemaak het en ‘n sondebok daarvoor
gekry moet word. Al wanneer “ons” Regering in ons belangstel is wanneer
die hewige belastings ingevorder word of wanneer hulle in die son van
die sportprestasies kan bak wat ons vir die “reënboognasie” kan lewer.
Selfs ons kinders word nie gespaar nie: Vir jare word hulle
“nie-rassigheid” geleer in ‘n Swart-beheerde onderwysopset waar
standaarde tot patetiese vlakke gedaal het. Ná skool is hulle skielik
“te Wit” om dieselfde studie- of werksgeleenthede as Swartes te kan kry.
Tussendeur druk skoolleerplanne nog idees op hulle af wat nie net
vreemd aan ons aard is nie maar dikwels uit ons geloofsoortuigings
afstootlik is. Geen volk met ‘n greintjie oorlewingsdrang of selfrespek
kan so ‘n geestelike verkragting van sy kinders duld nie. Dan praat ons
nog nie van die fisiese verkragting van ons vroue nie – van klein
dogtertjies en vroue wat in hulle fleur gebreek word, tot bejaarde
vroue. Die roof en martel-moorde op plase, langs paaie en in stede, op
ons kinders en weerloses maar dikwels ook op broodwinner-manne waardeur
huisgesinne reddeloos en wees gelaat word.
Duisende van ons opgeleide mense word van werk en inkomste beroof omdat
werksgeleenthede en selfs besigheidskontrakte vir Swartes gereserveer
word – meestal totaal onbevoeg, dikwels boonop van verre lande af hier
aangekarwei asof wit Suid-Afrikaners die sogenaamde “onregte van die
verlede” moet “herstel” van Kenia af tot in Kuba.
Dit alles skryn ten hemele en dan is daar skandelik genoeg nog wit
Afrikaanssprekendes wat ons moord, roof en verkragting probeer herstel
met “vrede, vrede!” – solank die onheil maar net hulleself soveel
moontlik gespaar kan bly...
Maar Suid-Afrika het dan so ‘n demokratiese Grondwet sedert 1994 – kan ons nie die Grondwet gebruik om ons te beskerm nie?
Antwoord: Suid-Afrika se Grondwet klink wel
demokraties op papier (soos die geval met die ou kommunistiese state se
grondwette ook maar was). Die ware toets vir demokrasie lê nooit in dit
wat op papier geskryf staan nie. Mens kan net werklik praat van
demokrasie wanneer ‘n Regering wat droogmaak, in die volgende
verkiesing uitgestem kan word. En dit gebeur nie in Suid-Afrika nie,
want verreweg die meeste Swart Suid-Afrikaners hou aan stem vir die
ANC, maak nie saak hoe die Regering knoei nie. En ook geen wonder nie,
want die ANC (ten spyte van hulle knaende gekerm oor “rassisme”) BLY in
wese ‘n Swart party wat eksklusief Swart belange en Swart aspirasies
probeer bevredig. Rassisme is in orde – solank dit Swart rassisme is!
Daarom is Suid-Afrika in praktiese terme veel eerder ‘n diktatuur as ‘n
demokrasie; en daarom baat die uitslae van die
rubberstempel-verkiesings wat die Regering elke paar jaar hou ons niks
nie.
Maar alle Suid-Afrikaners, Wit en Swart, kry tog swaar onder misdaad en ineenstorting van dienslewering. Moet almal saam nie eerder probeer om ‘n verskil te maak nie?
Antwoord: Watse “verskil” gaan Swart Suid-Afrikaners
maak as hulle nooit die rug op die ANC gaan draai nie? Buitendien -
“swak” dienslewering uit ‘n Blanke oogpunt, is nie noodwendig “swak”
uit ‘n Swart oogpunt nie. ‘n Teerpad vol gate is steeds beter as ‘n
voetpad. Elektrisiteit net nou en dan is steeds beter as geen krag nie.
Daarom gaan Swart state in Afrika by dosyne ten gronde weens korrupsie,
misdaad en ineenstorting van dienste – sonder dat hulle bevolkings ooit
daarteen in opstand kom. Dit word uiteindelik bloot verdra as deel van
die daaglikse bestaan. En daarom sal ons aanhou om soos skape ter
slagting te gaan as ons dink “iemand” sal op ‘n stadium iets aan ons
eie ellende doen net “omdat ander darem ook onder ellende verkeer”.
Dalk is die oplossing om te emigreer?
Antwoord: Ongeveer ‘n miljoen Blankes het wel sedert
1994 uit Suid-Afrika padgegee. Dit is miskien die beste bewys dat De
Klerk en Mandela se kastige “wonderwerk vreedsame skikking” van 1994
ons Blankes in ‘n fatale gemors gedompel het. Emigrasie werk wel vir
sommiges, maar meeste van ons se omstandighede is van so aard dat ons
nie kan emigreer nie al wil ons; en nog ander het agtergekom dat een
stel probleme met emigrasie verruil word vir ander probleme. Die punt
is egter dat ons nie HOEF te emigreer nie en ook nie die Swart Bewind
met sy ellende HOEF te aanvaar nie. Want ons het ‘n
internasionaal-erkende reg, hier binne-in Afrika, en ons moet dit
dringend begin uitoefen.
Watse reg?
Antwoord: Die reg op selfbeskikking.
Wat is selfbeskikking en waar kom hierdie reg vandaan?
Antwoord: Selfbeskikking is die reg van ‘n volk om
homself te regeer met wette deur homself gemaak volgens sy eie
waardestelsel. Die reg word wêreldwyd erken in die Volkereg (wat
verhoudings reguleer tussen volke en state) maar ook deur die Verenigde
Nasies en ander wêreldliggame. Selfs die Suid-Afrikaanse Grondwet skep
die reg vir ‘n groep mense wat wil, om selfbeskikking in ‘n gebied
binne Suid-Afrika op te eis.
Hoe sal ons die reg hê om wette vir onsself te maak- die hele wêreld was dan teen Apartheid gekant?
Antwoord: Die buitewêreld was wel teen Apartheid
gekant, maar het nog nooit beweer dat ons as volk nie onsself mag
regeer nie. Onder Apartheid was die reg om onsself te regeer op ons Wit
rasse-afkoms gegrond, en in die proses het Blankes ook oor ander rasse
regeer. Maar jy kan nooit selfbeskikking eis op ‘n rassebasis nie. Net
volke het ‘n reg op selfbeskikking – nie rasse nie.
Wat is ‘n volk?
Antwoord: ‘n Volk is ‘n groep mense wat so lank met mekaar saamwoon en ondertrou, dat hulle eerstens ‘n gemeenskaplike afkoms en tweedens ‘n unieke lewenswyse ontwikkel het wat hulle van enige ander groep mense onderskei.
Hoe verskil “volk” en “ras”?
Antwoord: ‘n Ras word gevorm deur mense met
ooreenstemmende liggaamskenmerke. So is daar byvoorbeeld ‘n Swart ras
en ‘n Blanke ras. Binne een ras kry jy egter ‘n klomp verskillende
volke, en volke word gevorm deur mense wat, behalwe dieselfde
liggaamskenmerke, ook nog dieselfde kultuur (dit wil sê lewenswyse en
waardes) uitleef. Saam met ander volke soos die Duitsers, Nederlanders
en Franse is ons volk deel van die Blanke ras. Net so is daar
verskillende volke (soos Zoeloes, Sotho’s en Swahili’s) in die Swart
ras.
So die ding wat volke van mekaar onderskei is “kultuur” – maar waaroor gaan kultuur presies? Is kultuur regtig so belangrik?
Antwoord: Alles wat nie onaangeraakte “natuur” is nie,
is “kultuur”. Kultuur gaan dus oor veel meer as taal, baard dra en
tradisionele danse. Die uitstaande kenmerk is taal; maar dit gaan ook
oor lewenswyse, waardes en standaarde op alle terreine soos onderwys,
godsdiens, regspraak, die wyse waarop families en gesinne georden word,
musiek, wetenskapsbeoefening en tegnologie, etiek (wat is “reg” en
“verkeerd”?), ekonomiese- en politieke norme en instellings - om maar
enkele sake te noem.
Dit gaan dus nie daarom dat een volk “beter” of “slegter” as ander
volke is nie, maar dat volke so ANDERS van mekaar is. En omdat hulle so
anders is, verskil die behoeftes wat volke van ‘n Regering het. Dit is prakties onmoontlik
vir een Regering om meerdere volke se uiteenlopende behoeftes in een
staat met skaars hulpbronne te probeer bevredig deur wetgewing waarin
almal geakkomodeer word. DIT is hoekom ons nie deur ander volke of
rasse volgens hulle waardes en kulture regeer kan word nie - of dit nou
spierwit Swede of pikswart Xhosa’s is.
Daarom is die enigste oplossing dat volksgemeenskappe wat dit wil,
toegelaat MOET word om hulle eie gebied te bewoon en te regeer. En dit
is presies ook hoekom die beginsel van selfbeskikking internasionaal
erken word.
Nou hoe word besluit wie is deel van 'n volk en wie nie? Kan 'n kleurling byvoorbeeld deel van die Afrikanervolk wees?
Antwoord: Volke is dinamiese mens-groepe met
samestellings wat gedurig verander – reeds omdat volkslede heeltyd
natuurlik afsterf en gebore word. Maar ook omdat volk-lidmaatskap
vrywillig is: Kleurlinge of Franse of wie ookal kan besluit om hulle
los te maak van die volk waarin hulle gebore is en probeer om by ‘n
vreemde volk of bevolking aan te sluit.
Die vraag is dan nie “hoe” om te besluit of hulle deel van die nuwe
“aanneem-groep” kan wees of nie, maar “wie” daaroor besluit. Slegs ‘n
beoogde “aanneem-volk” self kan besluit om ‘n nuwe aankomeling aan te
neem of nie – net soos ‘n ouerlose kind nie sommer op ‘n dag by ‘n
sekere ouerpaar kan aankom en “eis” om deur hulle aangeneem te word
nie. Zoeloes, Boere, Indiërs of watter ander volk ookal het almal die
reg om ‘n nuwe aankomeling te verwerp en as dit die oorwegende reaksie
is, kán so aankomeling bloot nie lid van die beoogde “aanneem-volk”
wees nie.
As die nuweling aan die ander kant deur verreweg die meerderheid van ‘n
volk in die algemene handel en wandel aanvaar en opgeneem word in sy
geledere, dan word hulle deel van die volk. Net die volk self kan dus,
deur goedkeurende- of afkeurende gedrag, aandui wie van elders af
welkom in die volk is en wie nie. Geen instansie of individu kan
hulleself ‘n uitspraak daaroor aanmatig nie – die volk se “uitspraak”
daaroor word slegs oor tyd en met die voordeel van terugskouing
waargeneem. Dit lei tot die vraag hoe mens so-iets vir onmiddellike
doeleindes in ‘n spesifieke geval kan vasstel. Die enigste uitspraak
wat namens die volk in so geval gemaak sal kan word, is een wat op ‘n
meningspeiling gegrond sal wees.
So ons het die reg om onsself te regeer omdat ons ‘n kultuur het wat uniek in die wêreld is?
Antwoord: Presies.
Al woon ons as ‘n Blanke volk op die Swart kontinent van Afrika?
Antwoord: Ja – ‘n mens se velkleur bepaal nie watse
politieke regte jy op ‘n sekere vasteland het nie; dit sou tog erg
rassisties wees, nie waar nie? Selfs die EERSTE generasie Swartes wat
na die Wit kontinent Europa uitwyk, durf allermins as “setlaars” in
Europa beskou of hanteer word. Ons is al eeue lank in Afrika: 136 jaar
langer as wat Blanke Australiërs in Australië is en amper 200 jaar
langer as wat wit Nieu-Seelanders in Nieu-Seeland is. Ons taal en ander
uniekheid van ons kultuur is in Afrika gevorm. In Afrika se grond lê
die bloed wat ons voorouers hier vir vryheid gestort het. Nee wat - ons
is net so inheems aan Afrika as enige Swart Afrika-volk en ons het
presies dieselfde regte as hulle; ook die reg op selfbeskikking en
onafhanklikheid.
Wat van Afrikaanssprekendes wat maar
tevrede is met die “reënboognasie” – hoe kan die ander selfbeskikking
namens hulle eis of namens hulle praat?
Antwoord: Ons wat die reg op selfbeskikking uitoefen,
kan nie namens hulle praat nie – en net so min kan hulle praat namens
ons. Hoe lank in elk geval voordat hulle emigreer – of volledig met die
res van die “reënboog” integreer? Ons eis selfregering net namens
onsself, en gun die “reënboognasie” Afrikaanssprekendes hulle Swart
Regering. Dis glad nie so unieke situasie nie: Noord-Ierland bly
donkiejare al tevrede onder vreemde gesag terwyl ander Iere lankal
hulleself regeer in die Ierse Republiek net langsaan.
Maar die klomp wat wel selfbeskikking eis kon ook nog nie saamstaan nie?
Antwoord: Omdat swak antwoorde gebied was op die vrae
wat hier gevra word. Omdat godsdiens-strydvrae by politiek betrek word.
Omdat mense nie op die sentrale beginsel van selfregering alleen
gefokus was nie, maar elkeen sy eie Groot Plan probeer maak het oor hoe
die ideaal gerealiseer moet word. Vryheid hang nie van “Die Slim
Vooruitgemaakte Plan” af nie. Vryheid is die uiteinde van ‘n reis; en
die talle besluite wat op die roete self geneem moet word weens
rotsstortings, onverwags-droeë fonteine en oorstromings is bloot nie
vooruit te sien nie – net soos die heerlike vergesigte ook nie. Daarom
is dit sinneloos om te verwag dat almal nou oor ‘n Volmaakte Plan moet
saamstem of anders beskuldig te word “dat niemand kan saamstaan nie”.
Die belangrike is dat elkeen wat oor die blote beginsel van selfregering saamstem, saam die eerste tree op die pad na vryheid moet gee.
En wat is hierdie eerste tree?
Antwoord: Die volk moet vir hom verteenwoordigers
verkies deur sy eie vry, regverdige en demokratiese verkiesing te hou.
Die verkiesing moet plaasvind op die basis dat hierdie verkose
verteenwoordigers ‘n opdrag of “mandaat” van die volk ontvang om sy reg
op selfbeskikking op te eis.
Kan die eis nie in ‘n Hof hier plaaslik of internasionaal, soos by die Internasionale Geregshof in Den Haag, ingestel word nie?
Antwoord: Nee. ‘n Hof kan ons nie verder bring as ‘n
uitspraak oor die blote beginsel van selfbeskikking nie (dus, ‘n reg
erken wat ons reeds het) want ‘n Hof kan geen besluite neem oor die
praktiese implikasies wat noodwendig ter sprake kom by die afdwing van
ons reg op selfbeskikking nie. Buitendien bepaal die Suid-Afrikaanse
Grondwet dat selfbeskikking deur nasionale wetgewing hanteer
moet word. Ons eis sal dus nie deur howe nie, maar deur die wetgewende
gesag (Parlement) en uitvoerende gesag (kabinet) hanteer moet word. En
die Internasionale Geregshof in Den Haag is net toeganklik vir
Regerings van state – nie vir volke wat hulleself nie regeer nie.
Hoe gaan die volk sy eie vry, regverdige en demokratiese verkiesing gehou kry en mag ons so verkiesing hou?
Antwoord: Om vryheid te herwin is ons eie
verantwoordelikheid – niemand anders s’n nie. Daarom sal ons self so
verkiesing moet reël. Teen hierdie agtergrond was daar ‘n ope
volksvergadering op inisiatief van die Tussentydse Afrikaner Raad gehou
op 21 Julie 2007 in Pretoria, waartydens mense uit verskeie ander
volksgerigte organisasies aanwesig was en wie besluit het dat die volk
verteenwoordigers vir hom moet verkies wat ons selfbeskikking-eis kan
stel en beding.
Daar is verder besluit dat ‘n struktuur op die been gebring moet word
wat die verkiesing van sulke volksverteenwoordigers moet reël en
administreer en die basis waarop dit sal plaasvind, moet vasstel in
ooreenstemming met Suid Afrikaanse- en Internasionale Reg en ook in lyn
met ander vereistes en kriteria van internasionale organisasies soos
die Verenigde Nasies. Daar is dus niks “duister” of geheim aan die hele
proses nie en alles word in volkome openheid binne die wet gedoen.
Is daar toe so ‘n fasiliterende struktuur
op die been gebring en indien wel: is dit ‘n projek van ‘n ander
organisasie of opereer dit onafhanklik?
Antwoord: Tydens ‘n ope opvolg-vergadering in Pretoria
op 18 Augustus 2007 is wel so ‘n fasiliterende struktuur verkies en dit
staan bekend as die Volksraad Verkiesing Kommissie – kortweg praat ons
sommer van “die Kommissie” of die “VVK”. Die samestelling van die
Kommissie is buigsaam en brei uit na gelang van behoeftes en hulp wat
aangebied word. Die bestuur daarvan word hanteer deur ‘n Sentrale
Komitee met die persone wat op 18 Augustus 2007 verkies is as basis;
maar dit word steeds aangevul deur mense wat hulp aanbied.
Die lede van die Kommissie is nie “leiers” of “volksverteenwoordigers” nie – bloot net instrumente
wat die proses om sulke mense verkies te kry, moet reël volgens die
vereistes hierbo genoem. En nee, die Kommissie is gladnie ‘n projek van
enige ander organisasie of aan enige ander organisasie verbonde nie;
dit funksioneer volkome onafhanklik. Die Kommissie staan in diens van
die volk alleen en sy lede (die wat aanvanklik per volksvergadering
verkies was en ook die wat gereeld nog by die Kommissie en sy
werksaamhede aansluit) is slegs in individuele hoedanigheid by die
Kommissie betrokke.
Die Voorsitter van die Kommissie se Sentrale Komitee is ook nie lid van
enige ander polities-aktiewe of selfs kultuur-organisasie nie.
Ingevolge sy Grondwet, opereer die Kommissie in die vorm van ‘n
vrywillige vereniging sonder wins-oogmerk.
Hoekom word die liggaam wat die volk gaan verteenwoordig ‘n “Volksraad” genoem? Gaan daar partye in so Volksraad wees?
Antwoord: Dit is politieke tradisie onder die Boere om
‘n Volksraad – ‘n Raad van die Volk – demokraties uit individue in ons
midde te kies en nie uit politieke partye nie. In so ‘n Volksraad is
die gesag van die volk beliggaam wanneer die volk nie ‘n
volksvergadering hou en self direk besluit oor ‘n saak nie. In die
Boere-Republieke was Volksrade egter altyd onderworpe aan die besluite
van die volk self, soos onder andere geneem op volksvergaderings.
Daarom kon die volk daardie tyd nie deur sy leiers in die rug gesteek
word nie. In teenstelling daarmee het daar later (toe ons die
Boere-Republieke verloor het) ‘n stelsel van politieke partye gekom.
Ons bittere ondervindings van verraad deur politieke partye is bewys
daarvan dat ons na ons oorspronklike stelsel moet terugkeer waarin die
volk nie deur partye nie, maar deur individue verteenwoordig moet word
wat aanspreeklik is teenoor niemand anders nie as net teenoor die volk
self. Die eerste Volksraad is al in 1836 deur die Boere wat onder
Britse bewind weggetrek het, gekies.
Voorheen is gepraat van “Afrikaners” en nou weer “Boere” – is ons nou Afrikaners of Boere?
Antwoord: Die naam “Boere” het ontstaan as verwysing
na ons onafhanklik-gesinde voorouers wat uiteindelik die Kaap met sy
Britse Bewind laat vaar het en die Boere-Republieke Transvaal en
Vrystaat gevestig het. Ná ons neerlaag in 1902 is die ere-naam “Boer”
waarskynlik met opset deur opeenvolgende Suid-Afrikaanse Regerings
stilweg onder die mat ingevee ten gunste van die begrip “Afrikaner” -
die naam waaronder Afrikaanssprekendes wat met die Groot Trek in die
Kaap agtergebly het, ook heeltyd bekend was.
Vandag herleef die ere-naam “Boer” al meer in ons volk se harte en word
beide name “Boer” en “Afrikaner” deur volksgenote wat onafhanklikheid
voorstaan, gebruik om hulleself mee aan te dui. Daar kan nie toegelaat
word dat hierdie verskillende name, wat op grondvlak ook nog as ‘n
wisselvorm gebruik word, tot tweespalt in ons geledere lei nie. Daarom
staan die Volksraad Verkiesing Kommissie in diens van alle volksgenote
wat selfbeskikking eis; en laat dit aan die individu self oor om die
volksnaam te gebruik waarmee hy of sy tevrede is.
Die Kommissie het duidelik ‘n reuse taak en ‘n groot hoop werk. Het hy die vermoë om dit uit te voer?
Antwoord: Die Kommissie moes geweldig baie werk doen
om uitvoering aan sy opdrag te begin gee en baie werk lê nog voor.
Gelukkig is daar mense wat hulle tyd, energie en kundigheid, wat op
alle terreine deurgaans benodig word, ruimskoots beskikbaar stel om
hand by te sit. (Dit sal puik wees as jy dit ook wil doen – dis immers
JOU Kommissie ook!
Kontak ons by ons besonderhede; jou hulp sal beslis altyd welkom wees).
Die eerste stap was om ‘n Grondwet vir die Kommissie self op te stel.
Inbegrepe daarby was die kenteken wat ontwerp was en ook moes die volle
agtergrond van- en die beginsels wat tot ontstaan van die Kommissie
gelei het, verduidelik word; sy program uitgewerk en op skrif gestel
word. Dit alles het antwoorde op vrae geverg waaroor ons volk dekades
al wroeg. ‘n Gedragskode is ook as deel van die Kommissie se Grondwet
opgestel om te verhoed dat enkelinge die werk van die Kommissie, en in
die proses die volk se saak, kan benadeel. ‘n Bankrekening is geopen,
infrastruktuur moes gevestig word (en moet aldeur aangevul word), ‘n
perseel moes gevind word waarvandaan die Kommissie bedryf kan word,
vorms soos byvoorbeeld die Aansoekvorm om registrasie as kieser moes
ontwerp word, ‘n webwerf moes op die been gebring word en sagteware
moes ontwikkel word waarmee kiesers op die kieserslys geregistreer kan
word.
Die land was in kiesstreke (op provinsiale vlak) en kiesafdelings (op
dorpe- en stede vlak) ingedeel. Die kiesstreke is Verre Noord
Transvaal, Noord Transvaal, Oos Transvaal, Wes Transvaal,
Witwatersrand, Hoëveld, Noord Vrystaat, Oos Vrystaat, Transgariep
(sentraal-, westelike- en suidelike Vrystaat), Natal, Noord Kaap,
Weskus, Wes Kaap, Karoo en die Oos Kaap.
Nou wat is die stappe wat die Kommissie volg om sy taak uit te voer?
Antwoord:Eerstens doen manne en vroue aansoek
om as kiesers deur die Kommissie geregistreer te word op die Kommissie
se kieserslys. Die aansoeke word op die Kommissie se vorm “Aansoek om
Registrasie as Kieser” gedoen (Vorm 1). Hierdie vorms kan van die
Kommissie se webwerf (www.vvk.co.za) afgelaai word of by Registrasie
Beamptes of lede van die Kommissie bekom word; sodat jou aansoek
hanteer kan word. Indien jy ver van Pretoria woon is dit geen probleem
nie – die Kommissie sal gereelde aankondigings op ons webwerf en in die
media maak oor tye en plekke waar ons sal aandoen tydens ons landswye
kieser-registrasie aksie; alternatiewelik kan jy die Kommissie kontak
om die besonderhede van jou naaste Registrasie Beampte te verkry, sodat
laasgenoemde jou behulpsaam kan wees. Kieserkaarte (opsioneel) sal ook
teen ‘n nominale fooi uitgereik word.
Tweedens word ‘n Lys van Kandidate opgestel uit name van kiesers wat as Volksraad-kandidate genomineer word.
Derdens sal die verkiesing self plaasvind op ‘n datum wat die
Kommissie op alle moontlike wyses sal bekend maak en wat vasgestel sal
word na gelang van vordering wat met registrasie van kiesers gemaak
word. Hoe gouer volksgenote registreer, hoe gouer sal die verkiesing
plaasvind.
Is daar enige vereistes waaraan mens moet voldoen om aansoek te kan doen om as kieser geregistreer te word?
Antwoord: Ja – jy moet 18 jaar of ouer wees, sonder ‘n
hofbevinding van geestesongesteldheid wat nog van krag is, en verklaar
dat jy lid van die volk is en die beginsel van selfregering vir die
volk onderskryf. As die Kommissie ‘n aansoek ontvang en vermoed dat ‘n
aansoeker hierdie verklarings valslik maak, word die aansoek aan ‘n
paneel van die Kommissie voorgelê, wat die aansoek kan goedkeur of
afkeur. Aansoeke moet ook totaal vrywillig wees en ‘n kieser wat so
voel kan enige tyd sy of haar naam van die Kommissie se kieserslys laat
verwyder.
Hoe word die Lys van Volksraad-Kandidate
opgestel; kan vroue ook as kandidate genomineer word en moet ‘n
kandidaat aan ouderdoms- of ander kwalifikasies voldoen?
Antwoord: ‘n Geregistreerde kieser word in ‘n
Nominasie-vorm (Vorm 3) deur ‘n ander geregistreerde kieser as
Volksraadslid genomineer. Vroue kan ook genomineer word en kandidate
moet verder minstens 25 jaar oud wees sonder ‘n vorige veroordeling vir
diefstal, bedrog of seksuele misdrywe en mag nie tot ‘n organisasie
behoort waarvan lidmaatskap geheim is nie.
Die Nominasie-vorm moet deur die kandidaat onderteken word ter
bevestiging daarvan dat hy of sy die nominasie aanvaar en hom of haar
neerlê by die beginsels waarop die verkiesing gehou word soos in die
Nominasie-vorm uiteengesit. Verder moet die nominasie op die
Nominasie-vorm gesekondeer wees met die handtekeninge van een honderd
ander stemgeregtigde kiesers.
Die naam van die genomineerde word dan deur die Kommissie op die Lys
van Kandidate ingeskryf. Kandidate kan uiteraard by ander organisasies
betrokke wees, maar sal uitsluitlik in individuele hoedanigheid aan die
verkiesing deelneem. Die nominasie van kandidate sal minstens 2 maande
voor stemdag sluit; dus weereens – hoe gouer volksgenote ‘n kandidaat
of kandidate van hulle keuse genomineer kry, hoe beter.
Kan een kieser meerdere kandidate nomineer?
Antwoord: Ja – solank elke kandidatuur deur honderd verskillende sekondante gesekondeer word.
Hoe word ‘n kandidaat uiteindelik verkies en vir hoe lank?
Antwoord: Op stemdag meld ‘n kieser met sy of haar
kieserkaart asook ‘n Suid Afrikaanse- of ander identiteitsdokument aan
by ‘n stempunt. Die kieser se identiteit word dan geverifieer en sodra
‘n stembrief (wat genommer sal wees) aan die kieser uitgereik word,
word teenoor die persoon se naam op die kieserslys aangeteken dat hy of
sy gestem het. Op die stembrief kom die name van die kandidate in
alfabetiese volgorde voor en die kieser stem vir die kandidate deur ‘n
kruis agter die naam van elke kandidaat te maak wat die bepaalde kieser
as Volksraadslid verkies wil hê.
‘n Kieser kan vir enige aantal van die kandidate stem. Die sewe
kandidate wat die meeste stemme op hulle verenig, sal tot die Volksraad
verkies wees – ons eerste Volksraad sonder politieke partye sedert
1902. Volksraadslede sal aan die volk op die kieserslys en aan hulle
alleen aanspreeklik wees. Hulle sal vir ‘n termyn van drie jaar verkies
word en herkiesbaar wees. Die kandidaat wat die heel meeste stemme kry
sal outomaties deur die volk as voorsitter en woordvoerder van die
Volksraad verkies wees. Plaaslike of internasionale liggame wat belang
mag stel, sal welkom wees om die vry en regverdige aard van die
verkiesing as waarnemers te moniteer.
Wat doen die Volksraad dan - hoe verloop die proses verder en waar sal ‘n gebied vir selfregering geïdentifiseer kan word?
Antwoord: Die verkose Volksraad beskik nou oor ‘n
mandaat om die volk se reg op selfbeskikking op te eis en die praktiese
implementering daarvan te beding. So gou moontlik nadat dit verkies is,
eis die Volksraad namens die volk dus van die Suid-Afrikaanse Regering
‘n bevestiging dat laasgenoemde in beginsel bereid is om
praktiese beslag aan ons reg op selfregering te gee in ‘n gebied (wat
voorlopig nie omskryf hoef te word nie) ooreenkomstig die Grondwet van
Suid-Afrika, deur ‘n proses van onderhandelde skikking.
Dit gaan eers dus net om daardie beginsel. As die Regering wel daartoe
bereid is, tree die Volksraad met hulle in onderhandeling wat betref
tydskale, die ligging en grootte van so ‘n gebied, moontlike
oorgangsmaatreëls in die lig van die huidige bevolkingsamestelling van
so gebied, en enige ander implementering-aspekte wat op hierdie stadium
voortydig is en juis deur die Volksraad onderhandel en beding sal moet
word. Ligging en grootte van die gebied sal ook afhang van hoeveel
volksgenote op selfbeskikking mag aangedring het deur as kiesers te
registreer, waar hulle oorwegend woonagtig sal wees, en talle ander
aspekte wat nie nou vooruit voorsienbaar is nie. Tydens sy
onderhandelings sal die Volksraad egter nie oor ‘n “blanko tjek” beskik
om sommer enigiets wat die Regering mag aanbied, te aanvaar nie. Die
Volksraad sal telkens volksvergaderings moet belê waartydens voorstelle
wat die Regering mag maak, aan die volk voorgelê word vir ‘n
volksbesluit deur middel van meerderheidstem.
En as die Regering nie bereid is tot so ‘n onderhandelde skikking nie?
Antwoord: Dan meld die Volksraad aan die
internasionale gemeenskap (byvoorbeeld aan individuele state wat belang
het by suider-Afrika, en aan die Verenigde Nasies, die UNPO of enige
ander relevante internasionale liggaam) die volgende: Dat ons ingevolge
die Suid-Afrikaanse Grondwet ‘n reg op territoriale selfbeskikking het
en dat die Regering hierdie bepaling van sy eie Grondwet (en daarmee
saam ook hierdie regte van ons) vertrap; dat ons regte ingevolge die
Volkereg, talle internasionale verdrae van die Verenigde Nasies en
ander liggame ook daarmee geminag word; en dat hierdie internasionale
rolspelers versoek word om by die dispuut betrokke te raak vir
doeleindes van ‘n skikking.
En as die internasionale gemeenskap nie ingryp nie?
Antwoord: Dit is te betwyfel of niemand hoegenaamd
gaan reageer nie. Maar ook al gebeur dit so - alle verwikkelinge sal
deur die Volksraad aan volksvergaderings voorgelê word en die volk sal
besluit wat hom dan te doen staan, alle omstandighede op daardie
stadium in ag genome.
Sê nou die volk word wéér deur sy leiers in die rug gesteek?
Antwoord: Dit sal nie weer kan gebeur nie. By
aanvaarding van hulle amp, sal die Kommissie in naam van die volk ‘n
ampsbelofte aan Volksraadslede voorhou waarin hulle hulleself
onomkeerbaar aan die beginsel van ons onafhanklikheid en selfbeskikking
verbind. En indien die oortuiging op enige stadium tydens ‘n
Volksraadslid se termyn ontstaan dat hy die selfbeskikkingstrewe
ondergrawe op watter manier ookal, kan ‘n mosie van wantroue in so Lid
of Lede deur minstens 500 kiesers op die Kommissie se kieserslys by die
Kommissie ingedien word. ‘n Wantroue-debat waaraan enige stemgeregtigde
sal mag deelneem, word dan deur die Kommissie belê en indien die
wantroue-mosie aanvaar word deur minstens 51% van alle stemgeregtigde
aanwesiges, skryf die Kommissie ‘n tussenverkiesing uit om die betrokke
Lid of Lede met ander te vervang.
Alles dalk goed uitgedink, maar dit klink nog steeds of daar ‘n wonderwerk sal moet gebeur.
Antwoord: Natuurlik sal dit ‘n wonderwerk wees.
Genadiglik sal dit nie die eerste keer wees ook nie - ons bestaan is
vol van die God van die Bybel se wonderwerke en dis net te danke
daaraan dat ons hoegenaamd nog hier is. Sommiges meen dat ons tans so
verdruk word omdat Hy ons straf. Die Kommissie weet egter van niemand
wat hulle kan aanmatig om sulke eerstehandse kennis te hê van dit wat
tans in God se gemoed sou omgaan nie.
Die Kommissie kan hom ook nie ophou met voorskrifte oor allerhande
dogma van hóé mense in Hom behoort te glo nie. Wat ons wel weet is dat
ons nie Sy hulp moet verwag as ons te sleg is om onsself te help nie.
Laat ons daarom doen wat ons hand vind om te doen maar juis ook nie
nalaat nie om elkeen die saak met sy Skepper uit te maak. Ons weet nie
wat op die vryheidspad voorlê nie maar ons weet dat wanneer ons volk
ookal bymekaar is, hy sal erken dat die pad alleenlik te loop is sáám
met God Almagtige wat ons volk by Bloedrivier en Majuba uit die vyand
se greep gered het. Mag ons tot eer van Sy Naam ook hierdie keer
verlossing ontvang.