1652: Die jong Hollander van skaars 32 jaar oud, Johan Antonisz van
Riebeeck, bid tot God ten opsigte van sy taak in die duistere Afrika
onder andere as volg (verkort): “…aangesien dit U Goddelike Majesteit
behaag het om ons te roep tot bestuur van die V.O.C. se sake aan die
Kaap…en ons in U Hoë Naam vergader is...om besluite te maak waarmee…die
Reg gehandhaaf sal word, en om (indien moontlik) onder hierdie wilde,
brutale mense U ware gereformeerde Christelike leer uit te
brei...waartoe ons sonder U genadige hulp die allerminste in staat
is…Laat ons niks anders beplan of besluit nie, as dit wat mag strek tot
grootmaking en lof van U allerheiligste Naam...”
Sondag, 19 Oktober 1653: Terwyl die nedersetting ‘n kerkdiens hou in
die Fort, vermoor die Hottentotte ‘n Blanke veewagter-seuntjie en roof
al die trekvee. Van straf is geen sprake nie, want Van Riebeeck staan
onder streng instruksies van die Kompanjie om “in vrede met die
inboorlinge te leef”. 6 April 1654: Van Riebeeck lê ‘n Gelofte af wat
verkort lui: “Waar ons deur die Here gelei hier aangeland het en
opgelet het dat God die Here alle sake tot vandag toe met veel seëninge
laat slaag het, daarom het ons besluit om die 6de April tot eer van God
met danksegging te vier en vir altyd tot ‘n dank-en biddag in te stel –
sodat daarby die weldade van die Here aan ons bewys, deur ons
nakomelinge nooit vergeet mag word nie, maar altyd tot eer van God in
gedagtenis gehou sal word”.
Drie insidente binne ons eerste drie jaar in Afrika, en reeds word drie
kernelemente vasgelê van ‘n formule waarvolgens ‘n nuwe volkskarakter
oor die volgende eeue sou ontwikkel; met ‘n wisselwerking tussen
godsdiens en politiek soos dit nêrens in die Weste voorkom nie:
1. Eerstens -‘n diepe bewussyn op hierdie barre kontinent van hoe
uiters afhanklik ons as nietige mense van God se genade is; steeds
egter in die geloof dat ons in Afrika is ooreenkomstig Sy Wil en dat Hy
ons hier sal uitred solank ons aan Hom gehoorsaam is. As uitvloeisel
daarvan -dat ons Hom moet behaag nie bloot as individue nie, maar ook
in ons volkslewe. Waar die verhouding tussen God en die mens in ander
Westerse volke grootliks ‘n verhouding bly tussen God en individu, word
in ons geval van die begin af ‘n bykomende dimensie daarby gevoeg: die
verhouding tussen God en volk.
2. Tweedens – die geloof dat ons koms na Afrika nie tot uitdelging van
die inboorling moet wees nie (soos in vele Britse kolonies gebeur het)
maar tot heil – ‘n gesindheid wat egter dikwels begroet word met
barbaarse wandade, sonder dat van owerheidsweë daarteen opgetree word.
‘n Burgery genoodsaak om homself te beskerm, word soms trouens self
daaroor vervolg deur owerhede wat oor eeue heen die kwaad teen
wetsgehoorsames oogluikend toelaat en soms selfs aanhelp (veral onder
Britse gesag). Deur aardse owerhede meermale verwaarloos, word die oog
van die burgery telkens weer na Bo gerig vir uitkoms en bystand…en so
word die God-volk verhoudingsdimensie uitgebou met eietydse bydraes
daartoe in elke opvolgende era. Aldeur vloei ons wêreld van Godsdiens
en politiek verder ineen.
3. Derdens – die aflegging van Geloftes (1654, 1838 en 1880) waardeur
ons tot in die verre nageslag gebind word aan die God-volk
verhoudingsdimensie; en waardeur verbied word dat hierdie verhouding
stadigaan uit ons kultuur durf verdwyn. Die kern van die 1838-Gelofte
was dat ons as volk ‘n kontrak gesluit het met God; synde dat, indien
Hy ons die oorwinning skenk, ons Sy volk sou wees – verbondsvolk -nie
net as individue Sy kinders nie, maar dat ons ook ‘n God-gerigte
volkskarakter sou bewaar... Hy het Sy kant van die ooreenkoms nagekom –
laat ons nie ons kant daarvan ignoreer of afwater nie!
Daaruit volg verder dat die probleem met die huidige bewind
veronderstel is om vir ons as verbondsvolk oor veel meer te gaan as
“onaanvaarbare vlakke” van misdaad, ineenstorting van dienslewering,
grondroof, werksgeleentheidberowing, en dies meer. Ons kan nie en mag
nie opsetlike en aanhoudende verbreking van God se gebooie (hetsy deur
die enkeling of deur ‘n Regering met wetgewing wat tot in die kern
daarvan anti-God is) “verdra” nie; ook nie stilswyend en by implikasie
nie. Daarom behoort ons strewe te wees om onsself aan ‘n God-lose
stelsel te ontworstel, sonder om vrywillig ‘n minderheidsgroepie in die
wetgewende strukture van die Staat te vorm as poging (wat in elk geval
futiel is) om ons eie belang daarin soveel moontlik te probeer bevorder.
Omdat God self deur ‘n Satan-georiënteerde wêreld ontken, belaster en
bespotlik gemaak word, moet dit ons nie verbaas nie dat hierdie band
tussen die Skepper en ons volk ook ontken, belaster, as skynheilig
afgemaak en bespotlik gemaak word – ook uit “eie” geledere.
Meer nog: Waar daar soveel meningsverskille binne die Christendom
bestaan reeds wat ons interpretasie en uitlewing van die Geloof as
sulks betref, floreer die verskille waar daar in ons geval die
bykomende God-volk verhoudingsdimensie is. Ook onder lidmate van ons
Kerk is daar sedert die omwenteling van 1994 verskillende sieninge en
verwarring ten opsigte van wat ons as Geloftevolk te doen staan onder
toenemende moord, verkragting, roof en vertrapping van ons
Geloofsbeginsels, kultuur en waardestelsel. As ware gelowiges stem ons
almal saam dat ons steeds die Wil van God moet doen – maar wat sou dit
in die praktyk, uit staatkundige oogpunt, in ons dag en tyd behels?
Meestal pendel die gesprek hieroor tussen radeloosheid, woede, en die
“gehoorsaamheid aan die owerheid”-verse van Romeine 13 met, tussendeur,
‘n soort van fatalistiese gesindheid: “Ons het van God afgedwaal,
daarom het Hy ons aan verdrukking oorgegee en dit sal so bly solank ons
onsself nie verootmoedig nie”. Die uiteinde is dat ons bykans ‘n volle
geslag lank bitter weinig gedoen het aan die feit dat ons deur wette
regeer word met ‘n duiwelse grondslag: Wette wat moord goedkeur (dink
maar aan aborsie-wetgewing); ons verbondskinders aan humanisme,
gode-gelykstelling en bandeloosheid uitlewer (onderwyswetgewing),
Sabbatsontheiliging, dobbelary en vele meer. Is dit werklik
verantwoordbaar teenoor ons nageslag – en teenoor God?
Dat hierdie vraag van kritiese belang is vir die Kerk, spreek vanself –
ook omdat staatkundige bywonerskap lei tot sosio-maatskaplike
uitrafeling, ekonomiese agteruitgang en in duisende gevalle uiteindelik
tot ‘n ontnugtering met die Geloof en die Kerk. Die vraag oor wat ons
op staatkundige terrein te doen staan, veral in hierdie jaar waarin die
Regering weer ‘n verkiesing hou, behoort dus met groot oorleg en
helderheid deurdink te word. Die volgende beginsels word aan die hand
gedoen:
1. Die owerheid wat in Romeine 13 ter sprake is, is “…’n dienaar van
God, jou ten goede…hy dra die swaard nie verniet nie…’n wreker om die
een wat kwaad doen, te straf”. Ook 1 Pet. 2:14 meld dat ‘n Regering
kwaaddoeners moet straf. Doen ‘n Regering dit nie (om nie te praat van
‘n Regering wat die voortou neem in die kwaad nie!) tree dit self in
stryd met Rom. 13 en ander Skrifgedeeltes op.
2. Artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis meld dan ook dat ons
‘n owerheid gehoorsaam moet wees in alles wat nie stry met die Woord
van God nie. Ons MOET aan God meer gehoorsaam wees as aan mense (Hand.
4:19, 5:29). Artikel 36 bepaal selfs dat ‘n owerheid veronderstel is
“om afgodery en valse godsdiens uit te roei, die ryk van die Antichris
ten gronde te rig, en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder.”
Dit is wat een van ons Kerk se belydenisskrifte bepaal! Wat doen ons
daaraan?
3. Dit klink wel vroom om te redeneer dat die God-lose bewind en
verdrukking aanvaar moet word as straf omdat “ons” van God afgedwaal
het en “ons onsself” nie verootmoedig nie; maar dit blyk ‘n standpunt
te wees wat nie werklik houdbaar is nie, en wel weens die volgende
redes:
3.1 Daar was nog altyd (en daar is steeds) vele ware kinders van God
onder ons -die oorblyfsel wat Hom te midde van ‘n sondige natuur van
ganser harte probeer behaag; van die begin af uitverkies en gered deur
Sy genade, in ‘n wêreld wat Hy self voorspel het meerendeels uit
afvalliges sou bestaan (want “breed is die pad na die verderf en baie
wat daarop gaan”). Sodra daar in ons as uitverkore kinders van God se
lewens dinge ontstaan wat verootmoediging verg, moet ons in ieder geval
op persoonlike vlak summier daarmee handel – dit behoort nie as een of
ander “volksaak” beskou te word, wat uiteindelik ‘n beletsel vorm teen
ons vrymoedigheid om op God’s hulp te vertrou vir redding van
verdrukking nie.
3.2 So argument berus verder op spekulasie oor wat God se gedagtegang
rondom ons politieke verdrukking in hierdie dag en tyd sou wees.
Terselfdertyd laat dit die feit buite rekening dat Hy by uitstek ook ‘n
God van genade is wat bereid was om ‘n stad met gruwelike heidense
praktyke te spaar ter wille van 10 regverdiges.
3.3 Dit ignoreer die moontlikheid dat ons eerder weens swak
staatkundige strategieë, verraad, ‘n gebrek aan daadkrag en
eensgesindheid, en vele ander faktore in die benarde posisie beland het
waarin ons is.
3.4 Uiteindelik smoor so ‘n siening noodsaaklike staatkundige
beplanning om uit die huidige bestel te kom, deur gebruik van die
gesonde verstand wat ons van God ontvang het – en dit is iets wat ons
verplig is om te gebruik, in samehang met ons gewete. Dit sluit ‘n
verpligting in om wetenskaplike kennis, wat nie in stryd met die Woord
is nie, te raadpleeg oor ons staatkundig-politieke probleem -net soos
ons die wetenskap raadpleeg vir ons probleme op ander terreine. Die
wetenskaplike kennis wat tersaaklik is vir ons staatkundige dilemma,
vind ons hoofsaaklik op die terrein van die Volkereg; oftewel die Reg
wat geld tussen volke en state. In terme van die Volkereg beskik ALLE
volke op aarde, en dus ook ons volk, oor die reg tot selfbeskikking.
Selfbeskikking beteken die reg van ‘n volk om homself te regeer met
wette deur homself gemaak, volgens sy eie waardestelsel.
Soos met enige ander reg wat geskend kan word, is daar egter ‘n
vasgestelde prosedure wat gevolg moet word indien die reg op
selfbeskikking geskend word. Kortliks behels dit die volgende: Ter
aanvang moet ons besef die reg op selfbeskikking kleef aan die volk –
nie aan enige organisasie of individu binne ‘n volk nie. Dit beteken
dat geen organisasie of individue uit hulle eie uit kan besluit om die
reg op selfbeskikking namens ons iewers te gaan opeis of om dit namens
ons te probeer “terugvat” nie. Selfbeskikking kan net namens ‘n volk
opgeëis en beding word deur diegene wat deur die volk daartoe verkies
is en ‘n mandaat, oftewel opdrag, van die volk ontvang het om dit te
doen.
Eerstens moet ons gevolglik persone verkies wat oor ‘n mandaat beskik
om die herstel van ons reg op selfbeskikking op te eis; die terme
daarvan-en die verloop van die proses te beding. Hierdie eis word
(ooreenkomstig die Volkereg) in die eerste plek gerig tot die Regering
wat oor die benadeelde volk heers en dit beteken NIE dat daar in die
proses aan so ‘n Regering of sy dade onbehoorlike erkenning verleen
word nie; net so min as wat mens erkenning aan ‘n dief en sy dade
verleen deur jou gesteelde goedere van hom terug te eis.
Vervolgens: Indien die Regering bereid is om praktiese beslag te gee
aan ons reg op selfbeskikking in ‘n gebied wat uiteindelik deur onsself
bewoon, bewerk en regeer sal word, word die terme daarvan (byvoorbeeld
die ligging van so ‘n gebied en moontlike oorgangsreëlings in die lig
van die bevolkingsamestelling daarvan) deur die verkose
verteenwoordigers en die Regering onderhandel. Sulke onderhandelings
word gevoer onderhewig aan opdragte wat die volk aan sy
verteenwoordigers mag verleen en wel, by gebrek aan eenstemmigheid
onder die volk oor ‘n spesifieke saak, ooreenkomstig meerderheidstem.
Indien die Regering nie tot voormelde bereid is nie, of onderhandelings
om een of ander rede misluk, versoek die verkose verteenwoordigers
internasionale bemiddeling in die dispuut en, indien laasgenoemde ook
misluk, lê die volksverteenwoordigers die uitkoms van hulle pogings
voor aan volksvergaderings; waar die volk besluit wat hom te doen
staan. Dit was dan ook die pad wat ons voorouers geloop het sedert die
verlies van Transvaalse onafhanklikheid in 1877; en hulle uitgebring
het by die Paardekraal-Gelofte van 1880.
Gedurende Augustus 2007 was ‘n Volksraad Verkiesing Kommissie in die
lewe geroep op ‘n volksvergadering. Hierdie Kommissie beskik oor die
taak om ‘n verkiesing van Volksraadslede te fasiliteer; sodat
laasgenoemdes oor ‘n mandaat kan beskik om ons selfbeskikking terug te
eis en die proses soos uiteengesit hierbo, ‘n aanvang kan neem. Dit is
nie net ‘n poging om ‘n einde aan ons benarde staatkundige
omstandighede te maak nie. Dit is ook ‘n poging om ons roeping as lede
van ‘n verbondsvolk te vervul; om ons volk ‘n nuwe begin met God te
laat maak – ‘n poging wat ook vir die Kerk van wesenlike belang is.