Tuisblad
Sentrale komitee
Waarom VVK?
Registrasie prosedure
Finansies
Dokumente
Grondwet
Regs-argument
Vrae & Antwoorde
VVK uit Geloofsperspektief
Plakboek
Nominasies
Nuusbriewe
Media-verklarings
VVK Funksies
Abel Malan Borgfonds
Belangrike datums
Kontak


Die Volksraad Verkiesing Kommissie (VVK) se kortbegrip van die pad na vryheid

1.Die Internasionale Reg (wat geld tussen volke en state) verwag van geen volk op aarde om hom vrywillig te laat regeer deur volksvreemdes nie. Die basis van die Internasionale Reg, en van internasionaal-geldige Verklarings deur die Verenigde Nasies, is dat ALLE VOLKE OP AARDE (en dus OOK ONS VOLK) ‘n REG het op selfbeskikking. Daarom word ‘n volk wat sy vryheid terugkry nie ‘n “guns gedoen” nie – hy het ‘n REG daarop!

2. Daardie reg – die “reg op selfbeskikking” – beteken dat ‘n volk homself regeer met wette deur sy eie gesagsliggame gemaak volgens die volk se unieke waardes en lewenswyse. Dit is ‘n reg wat aan volke kleef en nie aan rasse nie. Daarom kan mense nie selfbeskikking eis op grond van velkleur nie, maar op grond van die feit dat hulle ‘n volk is; dus, mense met ‘n unieke taal wat oorwegend ook ander waardestelsels en lewenswyses deel op alle terreine van die menslike bestaan; en ‘n gemeenskaplike afkoms en geskiedenis het. Die huidige Grondwet van Suid-Afrika erken ook die reg van selfbeskikking op volksbasis. Daarom lui Artikel 235 van die Grondwet dat ‘n taal- en kultuurgemeenskap wat dit wil, selfbeskikking in ‘n eie gebied kan eis.

3. Die Reg aanvaar dat nie almal in 'n volk noodwendig hulleself wil regeer nie. Daarom kan selfbeskikking ook geëis word deur 'n deel van 'n volk. Indien die reg op selfbeskikking geskend word en die onderdrukte volk of deel daarvan wil daardie reg herstel, is daar vasgestelde prosedures wat gevolg moet word – net soos met enige ander reg wat geskend kan word.

4. Eerstens: Die reg op selfbeskikking kleef aan 'n volk – nie aan enige politieke partye, organisasies of individue binne 'n volk nie. In die eerste plek word dus vereis dat mense wat hulle op die pad terug na selfbeskiking begewe, oor 'n liggaam van verteenwoordigers beskik wat 'n mandaat van die volk ontvang het om herstel van die regsverbreking te eis. Omdat ons volk (genadiglik) nie 'n koningshuis het nie, sal daar slegs een verteenwoordigende liggaam wees wat oor so 'n mandaat van die volk kan beskik, en dit is 'n liggaam wat demokraties daartoe VERKIES is tydens 'n VOLKSVERKIESING. GEEN ander groep of frontorganisasie, klein of groot, KAN juridies gesproke selfbeskikking namens ons volk eis en afdwing nie. Dit is dus irrelevant hoeveel verskillende "splintergroepies" bestaan, en of hulle in 'n "front" saamwerk of nie. Slegs 'n verkose liggaam kan ons verteenwoordig in die stryd om onder vreemde, Godlose oorheersing uit te kom. STAP 1 is dus dat so ‘n verteenwoordigende liggaam (Volksraad) verkies moet word en op grond daarvan ‘n mandaat van ons volk ontvang om selfbeskikking te eis en beding.

5. Omdat die liggaam wat verkiesings in Suid-Afrika reël (die “Independent Electoral Commission”) nie verkiesings in volke onderling hanteer nie maar slegs onder die totale bevolking van Suid-Afrika, moes daar in ons volk ‘n liggaam tot stand gebring word wat ons eie volksverkiesing fasiliteer vir bogenoemde doeleindes. Daardie liggaam wat in 2007 tot stand gebring is, heet die Volksraad
Verkiesing Kommissie. Landwyd asook in die buiteland onder volksgenote wat uit radeloosheid reeds geëmigreer het, is die Kommissie druk besig om kiesers op ‘n kieserslys te registreer.

6.Enige volksgenoot wat as kieser registreer, is beklee met die bevoegdheid om 'n Volksraadkandidaat van sy of haar keuse te nomineer op die basis dat so 'n persoon slegs in individuele hoedanigheid 'n kandidaat is en, indien uiteindelik verkose, as individu verkose sal wees. Geen politieke partye sal enige rol speel in die Volksraad wat verkies staan te word nie. En soos die "Independant Electoral Commission" wat verkiesings van die ANC-regering fasiliteer nie 'n party of politieke rolspeler in daardie verkiesings is nie, so is die VVK se Sentrale Komitee nie kandidate nie; en werf ons nie "lede" nie; en kan ons nie op enige ander wyse bevoordeel word by die komende verkiesing nie. Die VVK is dus NIE 'n politieke organisasie nie: Dit is 'n administratiewe liggaam wat 'n verkiesing fasiliteer as eerste stap in die selfbeskikkingsherstelproses, soos voorgeskryf deur die Volkereg.

7. STAP 2: Sodra ‘n liggaam met die nodige mandaat verkies is, bepaal die Internasionale Reg dat selfbeskikking gëeis moet word van die Regering wat prakties die staat regeer waarin die volk se selfbeskikking geskend word. Of mens van daardie Regering hou of nie, en of jy dit erken of nie, is nie ter sake nie. Stap 2 is dus dat die Volksraad, sodra dit met sy mandaat verkies is, bevestiging van die Suid-Afrikaanse Regering eis dat dit in beginsel bereid is om praktiese beslag aan ons reg op selfbeskikking in ons eie territoriale gebied te gee. Indien wel, word in onderhandeling getree om die terme en praktiese implementering daarvan te beding wat betref ligging en grootte van ‘n gebied waar ons onsself sal regeer; moontlike oorgangsreëlings in die lig van huidige bevolkingsamestellings in so ‘n gebied; en dergelike ander aspekte wat eers op daardie stadium ter sprake is. Voorstelle insake grootte en ligging van ‘n gebied moet aan die volk voorgelê word vir goedkeuring en, in geval van opponerende standpunte in hierdie opsig, word die verskillende voorstelle op volksvergaderings ter stemming gebring waarna by die meerderheidsmening berus word.

8. STAP 3 EN 4: Indien die huidige Regering nie bereid is om aan ons selfbeskikking-reg beslag te gee nie, behels Stap 3 dat die Volksraad die internasionale gemeenskap versoek om te bemiddel in die dispuut. Indien laasgenoemde vir welke rede ookal nie suksesvol is nie, behels Stap 4 dat die uitkoms van al die Volksraad se pogings aan volksvergaderings voorgelê word; waar die volk kan besluit of hy hom by die toestand gaan berus of nie en, indien nie, wat hy gaan doen om sy reg te herstel.

9. Laat ons moed skep en ons weerhou van mismoedige spekulasie. Vryheid is die uiteinde van 'n reis; en talle besluite is tans nie vooruit te sien nie omdat ons nie kan weet presies hoe die roete vorentoe gaan lyk nie. Die belangrike tans is dat ons bereid sal wees om minstens die eerste tree op die pad te gee. Ons weet dat waar hierdie volk ookal bymekaar is, die God van Bloedrivier en Majuba weer gesmeek sal word om ons op hierdie pad voor te gaan. Mag ons tot eer van Sy Naam ook hierdie keer verlossing ontvang; om as volk daarna nooit weer van Hom weg te dwaal nie.

10. Die VVK is JOU Kommissie ook: Dra jou deel dus by in belang van ons norme- en waardestelsel en jou en jou geliefdes se oorlewing - nie net deur as kieser te registreer nie, maar ook om die geweldige werklas en onvermydelike kostes daaraan verbonde te help dra. Vir enige navrae, maak asseblief kontak by die onderstaande besonderhede. Ons beoog om DV in Mei 2011 verkiesing te hou; sodat ons eerste party-lose Volksraad in meer as honderd jaar ingehuldig kan word op 31 Mei 2011.

Hier staan ons – ons kan nie anders nie. God met ons!

Kliek hier om die VVK te kontak.

 
Top