Tuisblad
Die regsargument
VVK: Die agtergrond
Registrasie-prosedure
Sentrale Komitee
Finansies
Dokumente
Vrae & Antwoorde
VVK uit Geloofsperspektief
Plakboek
Media-verklarings
Nuusbriewe
25 Januarie 2010
19 Februarie 2010
31 Augustus 2010
8 Oktober 2010
Europa Nuusbrief
Nuusbrief Julie 2011
28 September 2011
Volksraad
VVK Gebeure
Kontak


Vrydagnag, 23 September 2011. Oor enkele ure hou my volk die eerste Volksraad-verkiesing van sy soort sedert 1898. Met enige gebeurtenis wat landwyd - eintlik wêreldwyd - georganiseer word deur ‘n paar deeltydse vrywilligers, kan mens sekerlik verwag dat iets iewers sal opduik wat skielik op die laaste nippertjie moet aandag kry. So gebeur dit dat ek onbeplan in Natal op reis is om verkiesingsmateriaal af te laai wat oor ‘n paar uur gebruik gaan word. Om 23h30 val ek op Richardsbaai in die pad terug Pretoria-toe. Maar die GPS wys daar’s bloot nie genoeg rytyd om teen 06h30 terug te wees in die hoofstad van Transvaal nie…

Na ‘n paar loopfoon-oproepe (in hierdie geval seker “ryfoon”-oproepe?) swaai die getroue ou Mercedes se neus in die rigting van die Natalse middellande: My staatmaker-vrou het oorslaapplek gereël by Johan Fourie-hulle op Vryheid. Om die mense so min moontlik te verontrief, en om die slaap wat my wil-wil oorval terug te dryf, gee ek my ou strydros vrye teuels deur Zoeloeland – so vinnig as die kronkelende, slegte teerpad mens toelaat in die sagte reën wat uit die pikdonker naglug begin neersak.

Die paneelbord-horlosie slaan oor van 23:59 na 00:00 – en ek’s totaal onverwags op pad na Vryheid! Simboliek? Terwyl ek in spanning en opwinding wonder wat die dag alles gaan inhou, verdryf ‘n skielike vlaag van adrinalien enige sweem van lomerigheid - tot ek my bestemming bereik en my kop die kussing tref.

So drie ure daarna (wat voel soos enkele sekondes) begin die telefoon lui: Uit Wisconsin in die VSA word ons sterkte vir die dag toegewens. By die stemlokaal op Vryheid open Ds. Hein uit Exodus 18, terwyl die burgery om hom staan - die veiligheidsmanne geklee in die bruin van die ou Weermag-uniforms. Met erns en oorgawe klink die gebed-sang: “Op U Almag vas vertrouend…” Dis die tipe oomblikke wat, terwyl dit afspeel, ‘n mens weet jy met jou sal saamdra tot die dag van jou dood. Oomblikke so anders as die oppervlakkigheid, die jaag na geld en vermaak, die vuilheid, die onsekerheid, en die boosheid van patetiese post-’94 Suid-Afrika.

By die stempunt op Piet Retief is alles net so puik georganiseer en opgewek. En ek voel iets aan onder hierdie volk wat ek vir lang, lang jare nie meer beleef het nie: ‘n Vaste hoop; ‘n geloof in ons toekoms; ‘n begeestering vir ons saak van vryheid.

So gaan dit op ander stempunte ook. By party brand braaivleis-vure; hoor jy Boeremusiek…en oral, onder die gelag en geskerts, staan ‘n volk wat duidelik besluit het om hom nie verder te laat vertrap nie.

‘n Groot deel van die VVK se stryd die afgelope 4 jaar, het eerstens daaroor gegaan om die vryheidsvlam weer aangesteek te kry; en tweedens om die vryheidsgesinde deel van die volk saam te snoer rondom die beginsel van volksdemokrasie en volksoewereiniteit (dit wil sê, waar die volk die finale besluite neem - nie net oor sy leierskorps nie maar ook oor die kruispad-besluite wat op die vryheidsweg mag voorlê). Dis die pad wat in ons Boererepublieke ook geloop was; en dis ‘n ander pad as die dwaalweë wat gepropageer word deur ‘n paar randeiers, wat natuurlik graag die politieke vakuum wat daar was, vir hulleself probeer opeis het onder die dekmantel van allerlei “slimmighede” en onwaarhede. Ons was in beide opsigte geslaagd.

Dis nie moeilik om mense saamgetrek te kry op ‘n plek waar hulle persoonlike belang gedien word, of by vermaaklikheid nie. Maar vra enigiemand wat mense probeer oorreed om vir iets anders op te daag, hoe swaar dit is om 5 of 10 bymekaar te kry wat reageer. Op 24 September het daar nie tiene of honderde nie, maar talle van duisende oor die lengte en breedte van Suid-Afrika opgedaag – terwyl die Afrikaanse dagbladpers en die “SABC” nie ‘n dooie woord oor ons volksverkiesing wou rep nie (selfs nie teen betaling van advertensiekoste nie).

Die sowat 140 stempunte se verkiesingspersoneel alleen, was veel meer as duisend mense – mense wat die VVK se Sentrale Komitee nie gaan haal het en ook nie kón gaan haal het nie: Daarvoor was daar gewoon nie tyd of middele nie. Maar regoor Suid-Afrika - van Port Nolloth tot Durban; van die Strand en Parow tot Messina - het hulle net vorentoe gekom en by Stemlokaalhoofde aangemeld om die wa saam deur die drif te help sleep. En hulle het dit kundig en professioneel gedoen (ook die onder-40’s wat dikwels nog nooit self eers in ‘n verkiesing gestem het nie). Talle het gebly vir meerdere skofte, tot sluitingstyd 9 uur die aand aangebreek het – landwyd sonder enige voorvalle van geweld, sonder enige voorvalle van intimidasie; selfs sonder enige voorvalle van onaangenaamheid. Ja, ons was onder die beskutting en bestiering van die Allerhoogste: 24 September 2011 was ‘n wonderwerk-dag.

Dit was ook ‘n ware volks-verkiesing. Anders as in die “demokratiese” stelsels van die wêreld, het geld en posisie niemand gekeer om ‘n kandidaat te wees nie. Geen kandidaat moes ‘n “deposito” betaal het nie. As 100 volksgenote jou gesekondeer het, was jy geleentheid gegun om ‘n kandidaat te wees – hetsy grondbesitter, klerk, leier van ‘n politiek-kulturele beweging of ‘n voorheen polities-onaktiewe mens.

By skrywe hiervan is die tellery in alle erns aan die gang – en Gerhard Schütte en sy span tellers sit die kalm, akkurate en seepgladde werking van die masjinerie voort. Weereens kom mense van oraloor om hulp aan te bied.

In die vorige Volksraadsverkiesing sonder politieke partye (gehou in die ZAR tydens 1898) was 18 342 stemme uitgebring. Ek is baie tevrede met ons deelname-syfers van 24 September; wat tans daarop dui dat die kieserslys op die 50 000-kerf kan staan ná die groot aantal nuwe registrasies op stemdag. En met hoofstroom-mediadekking, weet ek ons sou ‘n nul agter daardie syfer kon plaas. Maar sou die handlangers van die Regíme ons steeds op stemdag met rus gelaat het, as dit die geval was? Sou ons die infrastruktuur en fondse bymekaar gehad het, om sulke syfers te hanteer? (Terwyl ons skaars ‘n twintigste bymekaar kon kry van Projek R5 Miljoen se teiken?) Ek glo nie. Die beste manier om ‘n olifant te eet, bly maar happie vir happie. En op die fondament wat gelê is, weet ek dat die honderde-duisende op die kieserslys bygevoeg sal word sodra die Volksraad met ons daadwerklik en daadkragtig koers vat na selfbeskikking; eerder as om ‘n “vryheidstryd” te veg teen hoë tolhekgelde...

Dus: Al het jy as ongeregistreerde nie in die pas-afgelope verkiesing gestem nie, is daar geen rede hoekom jy nie steeds as kieser kan registreer nie – ‘n kieserslys is iets wat nie tot niet gaan na ‘n verkiesing nie; maar bloot voortdurend opgedateer word. Daarom, aan alle volksgenote wat nog buite die proses staan: Registreer en laat daardie Vorm 1’s inrol!

Wat moet en gaan die Volksraad doen sodra hy ingehuldig is?

1.Die Regering word deur die Volksraad per brief in kennis gestel dat hy op grond van die Verkiesing, oor ‘n mandaat beskik om namens ons volk te praat en ons te verteenwoordig. Verdermeer word die Regering in kennis gestel dat ons volk grondgebied eis, waar ons onsself wil regeer.

2.Die Regering word met ander woorde geleentheid gebied om grondgebied op vreedsame wyse aan ons terug te gee of oor te dra (dus, dieselfde proses wat Pres. Kruger sedert die anneksasie van Transvaal in 1877 gevolg het).

3.Indien die Regering tot sodanige grond-oordrag bereid sou wees, lê die Volksraad enige voorstelle oor die ligging en grense van enige gebied wat ter sprake mag wees, aan volksvergaderings voor; waar DIE VOLK ‘N MEERDERHEIDSBESLUIT NEEM OOR DIE LIGGING EN GRENSE DAARVAN.

4.Indien die Regering nie tot enige vrywillige grond-oordrag bereid mag wees nie, verbreek hy sy eie Grondwet en ook internasionale verdrae. Gevolglik versoek die Volksraad in so geval die internasionale gemeenskap, byvoorbeeld die VN, om in die dispuut in te gryp ten einde ‘n vreedsame oplossing te bemiddel.

5.Indien die internasionale gemeenskap nie in die dispuut ingryp nie, belê die Volksraad weereens volksvergaderings; by welke geleentheid die volk dan ‘n meerderheidsbesluit neem oor wat ons te doen staan.

6.Die Volksraad het 18 maande tyd, sedert 10 Oktober 2011, om bogenoemde siklus te deurloop.

7.Indien 500 of meer kiesers op enige stadium meen dat enige Volksraadslid die selfbeskikkingstrewe ondergrawe, word ‘n wantrouedebat deur die VVK gefasiliteer waartydens die betrokke Volksraadslid/-lede asook die beswaardes kans kry om hulle standpunte te stel; en indien die betrokke Volksraadslid/-lede ‘n stemming oor ‘n wantroue-mosie op daardie vergadering verloor, ontruim hy/hulle die Volksraadsetel; waarna ‘n tussenverkiesing kan plaasvind.

Die uitslag sal waarskynlik teen Maandag, 3 Oktober 2011 op ‘n nuuskonferensie in die konferensiesaal van die TLU-gebou bekend gemaak word. Dan lê die inhuldiging voor. As jy enigsins kan  - moet dit nie misloop nie. Hier is die tentatiewe program:



MIDDAGPROGRAM

Vanaf 12:00      Aankoms by die Krugerkerk, Kerkstraat-Wes.

13:00               Skriflesing en gebed – Hendrik Verwoerd.

14:00               Inhuldiging – Paul Kruger.
                       Volksraad word toegesing met Ps. 134:4

15:00               Kranslegging, Heldeakker saam met
                       die jaarlikse Krugergenootskap-verrigtinge.




AANDPROGRAM

Vanaf 18:00       Aankoms van dinee-gaste by Diamantvallei Landgoed.

18:30                Volksraadslede en gades vertrek per koets van R515 
                        na dinee by Diamantvallei Landgoed.

19:00                Opening en tafelgebed: Prof. Kobus Pienaar.

19:15 en verder   Ete.

                        Fotosessie.

                        Bedankings – Paul Kruger.

                        Spreekgeleentheid vir Volksraadslede.

                        Afsluiting met die sing van Republikeinse                                 
                        Volksliedere en 4de strofe van Die Stem.

 
Top