Ek het gister 'n brief ontvang, geskryf deur een van die VVK se registrasie-beamptes waarna ek gedink het dit sal gepas wees, met sy toestemming natuurlik, om sy verhaal met julle te deel. Baie van ons kan in ons alledaagse bestaan daarmee assosieer.
Soos vertel deur Martin vd Watt;
“Vroeg die oggend van 26 April 2009 staan ek op en begin die huis opruim, gedink ek sal my ma spaar om dit te kom doen. Ek en my ma het graag saam tuin gemaak en het beplan om die oggend weer 'n bietjie in die tuin te werk. Die stukkie grond wat ons 'n paar maande vantevore gekoop het, was 'n woesteny sonder enige tuin of grasperk.
So net na 7:00 het my pa my geskakel. Ek het dadelik geweet iets is fout, my ouers slaap Saterdae bietjie later omdat hulle gedurende die week vreeslike lang ure werk. My pa het dadelik sy boodskap aan my oorgedra: “Ons het gisteraand 'n gewapende roof gehad. Jou ma is geskiet en in die hospitaal, maar sy is nou buite gevaar. Moenie jaag om hier te kom nie, jou ma slaap nou en is vol verdowingsmiddels. Maak eers alles daar klaar en dan kan jy kom.”
Soos u seker uself kan indink, het daar duisende gedagtes deur my kop getrek. Ek het probeer nugter bly om sake nie vooruit te loop nie. Terwyl ek bestuur het en besonder gesukkel het om by die spoedgrens te hou; oppad van Vereeniging na Brakpan, het my pa laat weet dat hy vir my by die huis sou wag.
Met my aankoms was die polisie steeds daar doenig. Hulle het maar net hulle werk gedoen, duidelik afgestomp deur die gewone roetine van wat hulle elke dag moet doen. Drie ander soortgelyke voorvalle was die aand in Brakpan aangemeld.
In my ma se kamer het dit eers vir my 'n werklikheid geword toe ek die groot bloedkol op die mat gesien het. Die nege gaatjies in die deure van die ingeboude kaste het duidelik uitgestaan omdat die polisie plakkers by geplak het om die trajek van elke skoot te bepaal.
Ek was geskok oor die hoeveelheid skote wat die rowers afgevuur het in die slaapkamer waar die twee bejaarde mense gelê en slaap het. Dit het gelyk soos iets uit 'n Hollywood film.
Een rower het 'n ruit uitgeslaan en deurgespring. Van die ander kon hulle self nie inhou nie en het reeds van buite die huis begin skiet. In die verwarring wat 01:00 die oggend soos 'n oorlog moes klink, het beide my ouers opgespring uit die bed. My pa het my ma uit die kamer probeer kry, terwyl die koeëls verby sy ore fluit. My pa is 'n groot man. Ses voet vier en 'n bietjie , gebou soos die stoere Boer van ouds. Hoe die nege koeëls hom gemis het, weet niemand, selfs die polisie kon nie glo nie. Dit was 'n wonderwerk. Alleenlik genade van Bo! Die kamer was pikdonker, my pa was onbewus dat my ma reeds op die mat gelê en bloei het. Sestig jaar van harde werk, rugby-speel en transport ry het sy bene op sy oudag 'n effe wankelrig gelaat, met die gevolg dat my pa toe in die donker nog boonop bo-op my ma val en langs haar op die mat te lande kom.
Een van die rowers druk 'n wapen teen my pa se kop en sê: “Sleep old man sleep!” My ouers het doodstil gelê.My ma was in die borskas gewond en kon nie haar arm beweeg nie. Een van die rowers het haar dood luiters as 'n stoeltjie gebruik en om op haar gesit terwyl hy deur haar spieëlkas se laaie gegaan het opsoek na iets van waarde.
Toe die rowers die gang afstap en die alarm hoor afgaan, wat hulle skynbaar nie verwag het nie, het hul by die venster uitgevlug, die nag in met een selfoon en een waardelose sak van nagemaakte leer waarin ou belasting- en ander dokumente was.
My pa het stadig opgekom en gevra of alles reg was. Sy het vir hom gesê dat sy nie haar arm kan gebruik nie, sy dink sy is geskiet want sy het 'n blou lig gesien en toe is sy grond toe gestamp waar sy op haar skouer geval het.
Ek dink toe besef hulle eers wat gebeur het en dat die storie nog nie agter die rug is nie. My pa het my ma na die motor gehelp en hulle was bekommerd om nie die werk se voertuig vol bloed te maak nie. Van nature is die Boere mos 'n volk wat goed oppas en opbou. Alhoewel hulle goed behandel was deur die personeel van die hospitaal, het my pa nou eers sy hande vol gehad om my broer tot bedaring te bring. Hy woon ook in Brakpan en my pa het dit goedgedink om hom te bel en vra om te help, om hom by te staan in die ure van nood. Die skok was vir my broer groot en hy het 'n verduideliking by die polisie beamptes geeis wat eintlik aan elke burger deur die president van die “nuwe Suid-Afrika” verskuldig is.
Die volgende dag was my ma beter en my pa het rongejaag tussen die hopsitaal en die huis. Natuurlik ook om al die oproepe te beantwoord wat na nege begin instroom het. Vir amper 50 jaar werk my ouers met trots en pligsgetrou. Vir baie jare het my ouers elke aand tot lank na ons kinders aan die slaap geraak het, gesit en oortyd werk sodat hulle hul beskeie 3 slaapkamer-huisie sonder 'n swembad kon afbetaal. Want u sien, hulle het ook met niks begin nie, maar hulle het nie verwag dat iemand hulle 'n huis gaan verniet gee nie. Hulle het nooit gebedel nie. Hulle het gewerk!
Nou, na 'n leeftyd van harde werk wat die land opgebou het tot waar dit was in 1994 word hulle deur 3 rowers uit hul eie huis verdryf, die huis wat hulle met sweet en trane na 'n leeftyd amper afbetaal gehad het. Watter bejaarde kan teruggaan en gaan woon in 'n huis waar hulle so aangeval is? Dalk is daar mense wat sou kon teruggaan, maar my ma kon nie. Hulle het die huis verkoop in een van die slegste huismarkte in baie dekades.
Anders as sy seuns, wat baie emosioneel is - ons kry dit seker van ons ma se kant- wys my pa maar bitter min emosie. 'n Paar dae na die gebeure het hy vir die eerste keer 'n bietjie emosie getoon, dit was duidelik dat daar ook baie vrae in sy kop was. “As 'n man is hy verantwoordelik vir sy vrou en kinders se veiligheid, kon hy iets anders gedoen het?”
Die koeël is voor my ma se borskas in en agter haar blad uit. Weereens was dit 'n wonderwerk dat die koeël deur my ma se liggaam is en al haar organe, are en beendere rakelings gemis het. Waarom ons Vader my ma gespaar het en duisende ander nie, weet geen mens nog nie, maar ons is Hom ewig dankbaar vir die ekstra tyd wat ons as 'n familie gegun is. Ons is wakker geskud en ons besef dis ons plig om ons volksgenote ook wakker te skud.