Die VVK registrasiebeamptes van Ellisras het saamgestaan om 'n Kultuur- en Volksraad Verkiesing Kommissie inligtingstalletjie by die jaarlikse Bosveldfees aan te bied.
Vlae, vanaf die Nederlandse Prinsevlag tot die vlae van die ou Boere Republieke, het die stalletjie kleurvol en interessant gemaak en het groot belangstelling uitgelok. Daar was besoekers van heinde en verre, vanaf Suidwes-Afrika, Natal, Vrystaat en vele meer.
Bottels konfyt, ingemaakte vrugte en ou kombuis gebruiksware is uitgestal op antieke kaste om iets van ons mooi erfenis te wys. Die stalletjie is ook vereer met 'n ou wakis verkry vanaf 'n wa wat die simboliese Ossewatrek van 1838 meegemaak het.
Geskiedkundige foto's en inligting oor die taalstryd, Bybelvertaling in Afrikaans, die slag van Amajuba en die drie Geloftes van die Afrikanervolk het besoekers laat naderstaan vir meer inligting. Oom Paul Kruger, oud president van de Zuid-Afrikaansche Republiek, het waardig vanaf 'n verhewe posisie op 'n antieke rak neergekyk op die aanbieding van die Volksraad-idee wat in sy eie tyd so goed gefunksioneer het.
Ons moes keer op keer die versekering gee dat die VVK-inisiatief ten volle regverdigbaar is en gebaseer op regsvoorskrifte van die plaaslike- en volkereg en dat dit allereers geskied in die geloof dat die God van Bloedrivier en Majuba ons smekinge, om weer in Vryheid vir Hom 'n volk te wees, sal verhoor.
Ontstellend egter waas die hoeveelheid mense wat nog geen kennis gedra het van die bestaan en die werking van die Verkiesingskommissie nie, maar tog onmiddelik belang gestel het om meer te weet.
Die reaksie onder jongmense was veral baie positief en heelwat registrasies is gedoen.
Ons kan maar net 'n dringende beroep doen op alle registrasie-beamptes om die VVK baie meer aktief te bemark. Die tyd raak kort om die doelwit van 250,000 of selfs meer kiesers te bereik.
Dit is bykans onmoontlik om tyd- en kostegewys van persoon tot persoon te gaan, daarom sal registrasiebeamptes meer gebruik moet maak van feeste, byeenkomste en vergaderings en ook self informele inligtingsvergaderings aanbied.
Persone wat reeds geregistreer is kan 'n belangrike bydrae maak deur op hulle beurt weer aan familie en kennisse oor te dra. Laat ons dit 'n volkspoging maak om die volk te registreer vir hierdie baie belangrike verkiesing van lede vir die Volksraad.
Dit is dringend en noodsaaklik dat ons 'n verteenwoordigende stem verkry wat namens die Volk kan praat en beding.