Daaglikse Woord
“As jou seun jou later vra en sê: Wat beteken die getuienisse en die insettinge en die verordeninge wat die HERE onse God julle beveel het? dan moet jy aan jou seun sê: Ons was slawe van Farao in Egipte; maar die HERE het ons deur ’n sterke hand uit Egipte uitgelei.”
“ En die HERE het ons beveel om al hierdie insettinge te volbring, om die Here onse God te vrees, dat dit met ons altyd goed mag gaan, om ons in die lewe te hou soos dit vandag is.” – Deut 6:20-21 en 24
Hoeveel van ons weet wat die getuienisse, die insettinge en die verordeninge is wat die Here onse God beveel? Kan ons vertel van die groot dinge wat die Here in ons lewens gedoen het? Kan ons vertel van die grootste van daardie werke, dat Hy deur sy Gees in my geloof gewek het in sy Seun, my Verlosser?
As dit vir my waar is dat ek uit sonde verlos is, is dit onmoontlik dat ek nie die insettinge van die Here sal naspeur in sy Woord en sal streef om dit te onderhou nie! Om die Here te vrees is om sy gebooie te onderhou!