Daaglikse Woord
“En toe Simon sien dat deur die handoplegging van die apostels die Heilige Gees gegee word, het hy hulle geld aangebied en gesê: Gee aan my ook hierdie mag, sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang. Maar Petrus sê vir hom: Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry.” – Hand 8:18-20
Hoe gereëld hoor ‘n mens nie deesdae van Simon se einste sonde nie? Nee, mense probeer selde die Heilige Gees koop in vandag se dae, maar baie ander gawes van God word “gekoop” en te koop aangebied! Mense stuur sms’e teen R10 of R15 sodat ‘n TV prediker vir hulle kan bid of hulle kan seën. Mense betaal geloofsgenesers om hulle te genees. Hierdie dinge is gawes wat God skenk wanneer en aan wie Hy wil! Hy vra nie geld daarvoor nie en hoe vermetel van ‘n mens om geld te vra vir gawes wat nie van hom af kom nie! Selfs die grootste gawe wat Hy bied, gratis en verniet, is die een wat Hom die meeste gekos het, verlossing. Dit het Hom die onberekenbare prys van sy eie Seun gekos.