Die Boererepublieke

Kort na die stigting van die Republiek Natalia is steenkool in die gebied ontdek. Dit was ’n nuttige mineraal vir die Britte wat aan die begin van hulle industriële rewolusie gestaan het. Hierdie ontdekking het die Britte onmiddellik na Natal gebring onder die voorwendsel dat hulle die Zoeloes teen die Trekkers moet beskerm.


Nadat hulle die Trekkers by Port Natal (hedendaagse Durban) met die hulp van hulle vloot-artillerie verslaan het, het die Britse aanvoerder die Zoeloes opgesteek om die Trekkers van hulle vee en perde te beroof en dit aan hulle te oorhandig.


Kort voor lank het die Trekkers dieselfde haglike toestande ondervind wat hulle gedwing het om die Kaap te verlaat: moord, plundery en anargie, terwyl die Britte die moordbendes aangemoedig en beskerm het. Geen teen-offensief kon slaag nie en gevolglik het van die Trekkers besluit om verder te trek –terug oor die Drakensberg na die gebied noord van die Vaalrivier wat Potgieter verower het na sy oorwinning oor die Ndebele van Mzilikazi. Die Republiek van Natalia het slegs vyf jaar bestaan voordat dit formeel deur die Britte in 1843 geannekseer is, wat uiteindelik die hele Zoeloeland sou insluit. Die Britte het die Trekkers geminag, en het by herhaling gesê dat waarheen hulle ookal trek, hulle steeds Britse onderdane sou wees. Pogings om die Groot Trek in die wiele te ry het ingesluit dat hulle van 1836 tot 1842 met Mzilikazi saamgesweer het om die Trekkers aan te val, en ofskoon hulle dit nie erken het nie, bestaan die getuienis wel. Die Britte het onsuksesvol gepoog om soortgelyke ooreenkomste met die Griekwas te sluit.


Die Britse Goewerneur gedurende hierdie tyd, George Napier, het die verhouding met die Trekkers verder gekompliseer deur eerstens ’n beperking op elke boer in die Kaap te plaas dat hy slegs 10 pond kruit mag besit. In September 1838, terwyl die boere lewensbedreigende krissise beleef het, het hy ’n wet uitgevaardig wat ’n verbod geplaas het op alle vuurwapens wat van die Kaapse hawe na Natal uitgevoer word. Die doel was om die boere hulpeloos te laat in die aangesig van bloedvergieting. Ook het Napier in dieselfde jaar as wat die Groot Trek begin het, ’n wet uitgevaardig wat die Britse kriminele vervolgingsgesag uitgebrei het tot anderkant die Kaapse grense, spesifiek om “offences by His Majesty’s subjects against uncivilised inhabitants of territories adjacent to the (Cape) Colony” in te sluit. Dit was wetgewing wat selfs deur ’n Britse regter as “A mass of absurdity” bestempel is.


Geeneen van hierdie maatreëls kon die boere verhinder om weg te trek nie. Dus het die Britte ’n nuwe plan bedink om die boere te dwing om terug te keer en om die wat in die Kaap was, te verhoed om agterna te trek. In samewerking met die LMS het die Britse outoriteite nou ’n buffersone in die noorde van die Kaapkolonie beplan. Hierdie sone sou van oos na wes strek en onder swart beheer staan. Die gedagte was dat so ’n buffersone die ekonomiese kontak tussen die emigrante en die Kaapkolonie sou afsny en sodoende die emigrante-boere forseer om terug te keer na die Kaap en ook verdere emigrasie stopsit.

Gedurende hierdie tydperk het die sendelinge van die LMS die prominentste hoof in ’n gegewe area uitgesoek, en ’n verdrag tussen hom en Brittanje gesluit. In terme van die verdrae het Brittanje sy volle ondersteuning aangebied, asook die outoriteit van die hoofman oor groot gebiede erken (ingeslote grondgebied waar die boere gewoon het en waar daar geen of baie min van die Kroon se protege’s of onderdane was of wat aan ander hoofmanne behoort het.)


Afgesien hiervan het die Britse Ryk ook onderneem om hierdie swart vennote met geld of wapens te ondersteun. Daar was ’n magdom kandidate en kort voor lank was daar verdragstate wat van die suidelike binneland van die Indiese Oseaan tot by die Kalahariwoestyn gestrek het.


Die verdrae is gesluit met die Pondo-hoofman Faku; Basoetoe-hoofman Mosjesj; en die Griekwas van Adam Kok en Andries Waterboer. (Die Griekwas het Neger-, Khoekhoen- en Europese bloed gehad en die meeste van hulle het later van die Kaapkolonie geëmigreer na ’n gebied noord van die Oranjerivier.)


Sover dit die boere betref, het die skema gefaal. Hulle het hulle nie aan die Britte gesteur nie en gewaarsku dat indien daar met hulle sake ingemeng word, hulle die wapen sal opneem. Waarin die verdragstate wel geslaag het, was om oneindige twiste te veroorsaak tussen volke wat vantevore goed met mekaar oor die weg gekom het. Dit het ook vir Mosjesj in staat gestel om ’n mag op te bou wat baie bloed laat vloei het en uiteindelik ook teen die Britte geboemerang het.


Toe die boere weggetrek het uit Natal, het hulle in die verlate velde tussen die Oranje- en Limpopogebied ingetrek. Dit moet beklemtoon word dat nie die Republiek Natalia, of een van die volgende 12 republieke (wat ons volgende gaan bespreek) wat hulle gestig het, verkry is deur ander mense aan te val nie. Elkeen van die republieke is gestig op grond wat wetlik voldoen het aan die destydse beginsels van Internasionale Reg.


Bron: Memorandum van die Volksraad 2016.

0 views

Volksraad Verkiesing Kommissie

© Copyright: VVK
No part of this website may be reproduced or transmitted in any form or by any means, 
electronic or mechanical, including photocopying, recording or by any information storage and retrieval system, without written premission in writing from the VVK.