Die Geskiedenis van ons Taal
Milner se optrede het verset aan die kant van die twee republieke uitgelok. Die kerke het die leiding geneem om privaatskole op te rig. Hulle wou die ou Republikeinse onderwysstelsel in ere herstel. Die taal, sedes en godsdiens van die Boerevolk moes hierdeur beskerm word. Die mense was ook ontevrede omdat hulle geen seggenskap in die onderwys van hulle kinders gehad het nie.
In 1903 word ‘n petisie aan die owerhede gestuur waarin onder andere gevra word dat meer tyd, (ten minste vyf uur per week) aan Hollands bestee moes word. Die versoek is geweier en dit lei tot die stigting van Christelik-Nasionale Onderwys-skole. In Bloemfontein is so ‘n skooltjie in die voorportaal van die Gereformeerde Kerk gestig. Dit het ontwikkel tot die Sentrale Laer- en Hoёrskool.
Die CNO-skole het swaar gekry, want daar was ‘n groot gebrek aan geld. Die mense was bitter arm na die vernietigende oorlog. Geld en onderwysers het uit Holland gekom, maar dit het nog steeds swaar gegaan. Maar die CNO-skole het moedig met die stryd voortgegaan tot 1906 toe Transvaal en die Vrystaat selfregering gekry het.