Die Geskiedenis van ons Taal

Gustav S. Preller.


Net soos ds. Dirk Postma in die Vrystaat en J. H. H. de Waal in Kaapland, was Gustav Schoeman Preller een van die eerste vegters vir Afrikaans in Transvaal na die Anglo-Boereoorlog.


Hy is op 4 Oktober 1875 gebore en op 6 Oktober 1943 oorlede. Hy is op sy plaas by Pelindaba, naby Pretoria begrawe.


Met die uitbreek van die anglo-Boereoorlog is hy op kommando. Enkele maande voor vredesluiting word hy gevang en na Indiё gestuur. Na die oorlog word hy joernalis en later hoofredakteur van “De Volkstem” en later van “Ons Vaderland.” Daarna het hy hom veral op geskiedskrywing toegelê.


In 1905 begin hy met ‘n reeks artikels in “De Volkstem” waarmee die taalstryd in Transvaal begin het. Die artikels was ‘n antwoord op op die toespraak van J. H. Hofmeyr, (Onse Jan) voor ‘n gehoor in Stellenbosch waarin hy die vraag “Is ‘t ons Ernst” vra wat oor die handhawing van Hollands gegaan het.


Preller gee antwoord in 15 artikels onder die opskrif: “Laat ‘t ons toch Ernst wezen!” Dit is later ook in brosjure-vorm uitgegee. Hierdie artikels word die “Manifes van die Tweede Taalbeweging” genoem. Hy pleit vir Afrikaans en sё:

1. Die taal wat in ‘n land leef en in die hele volk wortel, het die beste kans op voortbestaan. Dit kan nie vernietig word solank daardie volk lewe nie.

2. Die skryftaal Hollands, verskil soveel van die spreektaal, Afrikaans dat die skryftaal vir die grootste deel van die bevolking ‘n vreemde taal geword het.

3. Afrikaans het die grootste en beste kans om te bestaan. Daarom moet die skryftaal nader aan die spreektaal wees.


Intussen skryf die mense in Afrikaans in “De Volkstem” Dit is ook waar Eugene Marais se gedig Winternag verskyn het. Preller het die gedig aangehaal om te bewys dat Afrikaans ook vir groot kuns geskik is en dat dit dus nie ‘n kombuistaal is nie.

Winternag.


O koud is die windjie

en skraal,

En blink in die dof-lig

en kaal,

so wyd as die Heer se genade,

lê die velde in sterling en skade,

En hoog in die rande,

versprei in die brande,

is die grassaad aan roere

soos winkende hande.


O treurig die wysie

op die ooswind se maat,

soos die lied van ‘n meisie

in haar liefde verlaat.

In elk’ grashalm se vou

blink ‘n drupel van dou,

en vinnig verbleek dit

tot ryp in die kou!

9 views1 comment

Volksraad Verkiesing Kommissie

© Copyright: VVK
No part of this website may be reproduced or transmitted in any form or by any means, 
electronic or mechanical, including photocopying, recording or by any information storage and retrieval system, without written premission in writing from the VVK.