Die geskiedenis van ons Taal
In 1910 gaan dr. Malherbe na Bloemfontein en sluit by die Vrystaatse taalstryders aan. Hy word lid van die vereniging “Onze Taal” en hou verskillende lesings oor Afrikaans.
Hy tree ook dikwels voor die Afrikaanse Studente Taalvereniging op. Dit het later die A.S.B. of Afrikaanse Studentebond geword. Ons hoor later meer van die A.S.B. Deur die ywer van hierdie studenteliggaam is Afrikaans in 1918 as voertaal aan Universiteitskolleges erken. In dieselfde jaar word dr. Malherbe professor in Afrikaans in Bloemfontein. Dit was ‘n baie belangrike gebeurtenis, want daarmee word erken dat Afrikaans ‘n selfstandige taal is.
D.F. Malherbe het ook gehelp met die stigting van die SUID-AFRIKAANSE AKADEMIE VIR TAAL, LETTERE EN KUNS.
Hy was ook die redakteur van die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns wat van 1922 verskyn het.
Hy het ook met die vertaling van die Bybel in Afrikaans gehelp asook met die beryming van Gesange.
In 1917 verskyn die Eerste Taalboek. Malherbe was die skrywer daarvan.
In 1925 verskyn sy Afrikaanse Spreekwoorde en Verwante Vorme.
Sy eerste digbunel Karoo Blommetjies het reeds in 1909 die lig gesien.
Sy historiese roman, Vergeet Nie het in 1913 verskyn.
Ons laat D.F. Malherbe nou self aan die woord. Die uittreksel is die slotgedeelte van sy bekende lesing: “Is Afrikaans ‘n dialek?’”
“Eers dan as ons Afrikaanse moedertaal sy onbetwisbare regte gehandhaaf het, eers dan as die skryftaal van die Afrikaner die taal van sy hart gaan wees, sal die magtige oorwinningslied van die toekoms in oorverdowende akkoorde oor ons hoofde donderend heenrol.”
D.F. Malherbe se naam mag nooit vergeet word nie. Sonder hom sou ons letterkunde en ons taal armer gewees het.