Die Geskiedenis van ons Taal.
Maar die volk het nie by die graf stilgestaan wat Jan F.E. Celliers so hartroerend beskryf nie. Hy het weer sy kop opgetel. Uit die pyn van ‘n oorlog het ‘n volk opgestaan wat nou sterker bewus was van wat hulle verloor het. Enkele strofes uit Totius se mooi gedig: Vergewe en Vergeet waarin hy ‘n doringboompie langs die pad wat deur ‘n ossewa vertrap word as metafoor vir die volk gebruik, beskryf dit as volg:
Sy skoonheid was geskonde
sy bassies was geskeur;
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.
Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom.
Ook het die loop van jare
die wonde weggewis -
net een plek bly 'n teken
wat onuitwisbaar is.
Die wonde word gesond weer,
as jare kom en gaan,
maar daardie merk word groter
en groei maar aldeur aan.
Die oorlog was vernietigend, maar dit het die volk saamgesnoer soos nooit vantevore nie.