Die Geskiedenis van ons Taal.

Binne 25 jaar nadat die banneling so gebroke by die graf gestaan het, sou hy op ‘n ander gebied oorwin. Sy taal en volksiel sou nie sterf nie.


Die louheid van die Eerste Taalbeweging was weg. Die leiers van die Tweede Taalbeweging sou nie alleen staan soos dié van die Eerste Taalbeweging nie. Die Anglo-Boereoorlog het die volk soos weerligstraal getref en hom wakker geskud. Hulle het nou besef dat daar iets in hulle volksbestaan was wat behou moes word.


Waarvoor was al die lyding dan as daar nie iets dierbaars was wat beskerm moes word nie? Milner se verengelsing het dus sterk teenstand ondervind.


Een van die tekortkominge van die Eerste Taalbeweging was die gebrek aan kunswerke. ‘n Mens kan nie ‘n taal laat ingang vind net deur propaganda en strydliteratuur nie; jy het in daardie taal kunswerke nodig wat die krag en moontlikheid van die taal bewys en verby alle pleidooie vanself waardering wek. Met die Tweede Beweging het ons meteens ‘n hele aantal werklike kunstenaars, veral digters, wat oortuigende digwerke lewer. Afrikaans was vroeёr net geskik beskou vir die uitbeelding van die growwe en die grappige, en dit sou glo ontoereikend gewees het om die fynere gevoelens te verwoord. Met Eugene Marais se “Winternag” (1905) en Jan F.E. Celliers se gedig “Die Vlakte” (1906) het hierdie en soortgelyke argumente verval. Die teenstaanders van Afrikaans het verminder en die voorstaanders het toegeneem. In 1908 verskyn die eerste Afrikaanse digbundel, naamlik Totius se By die Monument waarby Pres. Steyn geskryf het: “Vir my is die eerstelinge van ons literatuur so heerlik soos die geluid van die eerste reёndruppels na ‘n langdurige droogte.”

28 views

Volksraad Verkiesing Kommissie

© Copyright: VVK
No part of this website may be reproduced or transmitted in any form or by any means, 
electronic or mechanical, including photocopying, recording or by any information storage and retrieval system, without written premission in writing from the VVK.