Die Geskiedenis van ons Taal.
Toon van den Heever (1894-1956)
Die nuwe elemente van die nuweres se digkuns word miskien die duidelikste in Toon van den Heever se werk gesien; die ekonomiese nood wat die Afrikaner van die grond af dwing na die stad, die ellende van die stedelike lewe en die verlange terug na die landelike bestaan van vroeёr.
Toon van den Heever is in Ermelo gebore en was appélregter in Bloemfontein.
In die Hoёveld.
In die Hoёveld, waar dit oop is en die hemel wyd daarbo,
Waar kuddes waaigras huppel oor die veld,
Waar 'n mens nog vry kan asemhaal en aan 'n God kan glo,
Staan my huisie wat ek moes verlaat vir geld.
En as ek in die gange van die myn hier sit en droom
Van die winde op die Hoёveld, ruim en vry,
Dan hoor ek die geklingel van my spore, saal en toom
Sawens as ek bees of skaap toe ry.
Op die Hoёveld, waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien
(Die ylblou bring 'n knop dan in jou keel)
Staan my huisie nog en wag vir my, wag al 'n jaar of tien,
Waar die bokkies op lei-grafstene speel.
Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit,
Dan sweef ek na die Hoёveld op die wind
En soek dan in die maanlig al die mooiste plekkies uit
Waar ek kleiosse gemaak het as kind.