Die Nadraai van Black Week in Brittanje

Jare van vrede en voorspoed het die Britte gerus in hulle eie meerderwaardigheid gemaak. Hulle posisie in die wêreld was onaantasbaar en hulle het niks gevrees nie. Tydens die Eerste Wêreldoorlog het hulle 250,000 man by Paeschendale verloor en na Dunkirk het dit gelyk asof hy geen verdediging teen Hitler het nie. Tog het geen gebeure in toekomstige wêreldoorloë of in die verlede soveel emosie en skok ontlok as die 3 000 man wat tydens Black Week in Suid-Afrika dood is nie. Dat hulle top-generaals so swak kon vaar teen ’n klomp ongewaste en ongeletterde Boere, kon hulle nie aanvaar nie. Dit is altyd gevaarlik om selfgenoegsaam te wees en jou eie propaganda te glo, soos Kruger deur Kipling in The Times beskryf is: Cruel in the shadow, crafty in the sun, en Sloven, sullen, savage, secret, uncontrolled.


Per slot van rekening, as dit is hoe die president beskryf is, hoe lyk sy volgelinge dan? Die rede waarom pro-Boerpropaganda nie op dreef kon kom nie, was grootliks aan Kipling te wyte wat wyd oor die wêreld gelees is.


Twee weke voor Black Week het lord Roberts van Kandahar, wat toe al afgetree het, ’n brief aan Chamberlain geskryf waarin hy na die somber berigte oor Buller en die ander generaals in die veld verwys het. Hy het opgemerk dat hulle dubbel die aantal magte het as wat Marlborough of Wellington gehad het, en tog bly die berigte kommerwekkend. Hy het gewaarsku dat die situasie in Suid-Afrika gaan versleg en het aangebied om die bevel oor te neem.


Die politici het besluit om na hom te luister en hy is die naweek na Londen ontbied. Lord Salisbury het toegestem dat hy oor Buller aangestel word, mits hy Kitchener van Khartoem as stafhoof aanstel. Op Sondagoggend het hy die ministers ontmoet en die hoofbevel aanvaar. Die middag het hy berig ontvang dat sy enigste seun in die oorlog gesneuwel het.

Teen die einde van Desember is die Engelse troepemag in Suid-Afrika 184 000 met sowat 450 kanonne. Maar die belangrikste is dat die Engelse besef het dat hulle hulle taktiek moet verander. Dit help nie om baie manskappe in die veld te hê en hulle beweeg teen ’n slakkepas in die swaar reëns nie. Hulle sal ook meer berede afdelings moet kry.


Na Colenso het die gevegte stadig afgeneem en teen Kersfees so te sê tot ’n stilstand gekom. Vir eers het almal gerus en hergroepeer. Die geleentheid wat die Boere gehad het om die Kakies in die Kaapprovinsie te stuit, het ook nie gematerialiseer nie. Kersgeskenke, gebreide serpe en gebreide sokkies is uit Engeland aan die troepe gestuur, wat verswelg het in die hitte van die Suid-Afrikaanse somer. Lloyds het 10 000 kersfeespoedings gestuur en die koningin het aan elke soldaat haar geskenk gestuur – ’n klein blikkie sjokolade met haar portret daarop, vasgebind in rooi, wit en blou linte. Die Boere in Ladysmith het van hulle kersfeespoedings as “ammunisie” gebruik en dit met hulle kanonne tot in Ladysmith geskiet!


Die Tranvalers wou veg en het in Kuruman ’n aanval geloods, maar die Vrystaters het geweier. Op Kersdag het die Vrystaters gesellig met die Britte verkeer en selfs saam met hulle gaan swem.


Op 10 Januarie 1900 het Roberts in die Kaap aangekom. Saam met hom was ’n swetterjoel ander generaals. Die eerste besluit wat hy geneem het toe hy voet aan wal sit, was om Kolonialers toe te laat om aan te sluit. Talle Kolonialers wou al saam met Buller geveg het, maar hy wou dit nie toelaat nie, omdat hulle nie militêr opgelei was nie. Roberts het hulle waarde egter ingesien. Hulle was bewapen, het vir jare aan oorloë met en teen inheemse volke deelgeneem, kon ook goed skiet en het bowendien die land goed geken.


Veral laasgenoemde was ’n groot plus, want nou kon hulle ook die terreine vir die veldslae kies en hulle sou nie meer weerloos teen nagaanvalle wees nie. Wat Roberts egter in werklikheid ook gedoen het, was om ’n burgeroorlog in Suid-Afrika te begin. Hoewel talle in die kolonie die republieke goedgesind was en bloedverwante was wat saam wou veg, is talle as verraaiers deur die Engelse doodgeskiet, omdat hulle die wapen opgeneem het. Hierdie Kaapse rebelle se opoffering is nog nooit werklik na behore geskat en waardeer nie. Nou egter het Roberts die hulp van die Kolonialers en anti-Boere-elemnte in die Kaap teen die republieke ingespan. Die stryd tussen die noorde en die suide het oor die jare in ’n kultuurstryd ontaard, met opponerende idealistiese verskille, wat vandag nog steeds merkbaar is.


Roberts het ook die leemte in hulle verkennerswerk gesien. Hy het die aangeleentheid met genl. Fredrick Carrington bespreek – die Britse aanvoerder in Matabeleland wat vir Russell Burnham aanbeveel het. Burnham was in Skagway, Alaska, besig om te prospekteer toe hy die volgende boodskap van lord Roberts ontvang:


Lord Roberts appoints you on his personal staff as Chief of Scouts. If you accept come at once the quickest way possible.


Burnham het onmiddellik opgepak en het net voor die Slag van Paardeberg (21-27 Februarie 1900) by die Britse magte aangesluit.

0 views

Volksraad Verkiesing Kommissie

© Copyright: VVK
No part of this website may be reproduced or transmitted in any form or by any means, 
electronic or mechanical, including photocopying, recording or by any information storage and retrieval system, without written premission in writing from the VVK.