Die oorsprong van die Gelofte

Die woord “gelofte” beteken ‘n plegtige belofte waarby ‘n mens jou vrywillig teenoor God of ‘n hoër mag verbind om iets te doen of iets te laat; by baie volke ‘n besondere vorm van gebed, bv. in tyd van nood of wanneer ‘n vurige wens gekoester word. Voorbeelde in die Ou Testament: Genesis 28:20-22, Rigters 11:30, 31; I Samuel 1:11, Psalm 132:2-5, Numeri 6.1


Ds. Wilhelmus à Brakel se boek, Redelijke Godsdienst, is een van die godsdienstige boeke wat beslis op die trekpad was en deur Andries Pretorius, Sarel Cilliers, en ander Trekkers gelees is. Hierdie boek het in 1700 verskyn, is twintig keer in die 18de eeu herdruk en in die 19de eeu wyd versprei. Daarin word die aflê van geloftes as deel van die Christelike lewe beskou en word verduidelik wat die voorwaardes van die aflê van ‘n gelofte teenoor God is. Binne die raamwerk van die genadeverbond is ruimte vir die gelowige om homself deur ‘n gelofte aan God te verbind. Ds. À Brakel stel dit duidelik dat kinders van gelowige ouers by die genadeverbond ingesluit is.


Voorskrifte van À Brakel: ‘n Gelofte is altyd ‘n verbintenis aan God; dit moet oor ‘n spesifieke saak handel wat nie bokant die persoon se vermoë is om dit na te kom nie. Die skrywer beklemtoon dit dat ‘n persoon baie versigtig moet wees om geloftes af te lê. Sarel Cilliers se aanvanklike besware teen die aflê daarvan stem ooreen met wat À Brakel daaroor sê: Dit kan nie ligtelik geskied nie en jy moet seker wees dat dit nagekom kan word. Dieselfde aanhaling wat Cilliers gebruik, kom in À Brakel voor, naamlik: Psalm 76:12: Doet geloften en betaald se den Heere uwen God.


Die dankbaarheidsaspek moet altyd die beweegrede wees: Psalm 50:14: Offert God dank, en betaalt den Allerhoogste uwe geloften. Volgens À Brakel doen ‘n gelowige persoon ‘n gelofte om homself opnuut aan God te wy of om Gods hulp in ‘n noodsituasie in te roep. Daarom was dit vir die gelowige kommandolede van Andries Pretorius vanselfsprekend om hulle tot God te wend en die geveg in afhanklikheid van Hom aan te pak. Die Voortrekkers se Gelofte is dus hoogs waarskynlik op die voorskrifte van À Brakel se godsdienstige handleiding geskoei en is nie lukraak gedoen nie. Die dankbaarheidsaspek word beklemtoon, deurdat die Voortrekkers die aand van 16 Desember ‘n dankdiens vir die Here gehou het: ... de avond hadden wij tezamen eene dankbetuiging, voor zijne groote hulp en verlossing aan ons bewezen.


Volgens De Villiers is die maak van die Gelofte deur die Trekkers ongetwyfeld deur Bybelse voorbeelde geïnspireer. Bybelse figure wat geloftes aan God afgelê het, was byvoorbeeld Jakob (Gen. 28:20); Israel (Num. 21:2); Jefta (Rigters 11:30); Hanna (1 Sam. 1:11); Absalom (2 Sam. 15:7) en Dawid (Ps. 22:26; 66:13).


Dit is algemeen bekend dat die Voortrekkers ‘n Bybelsentriese lewenswyse gevolg het – hulle het die Bybel, veral die Ou Testament, goed geken en hulle geïdentifiseer met die Israeliete wat uit Egipte na die beloofde land getrek het.


Die uittog was in wese ‘n geloofsdaad wat op ‘n ware lydingsgeskiedenis uitgeloop het – parallel aan Israel se lang omswerwinge en beproewings voor hulle Kanaän binnegetrek het. Die geloof en vertroue in ‘n reddende en behoedende Hemelse Vader was die vaste burg teen gevare, wanhoop, twyfel en murmerering.


Op Sondag, 2 Desember het die laer nog langs die Tugelarivier gestaan en daar het Sarel Cilliers juis ‘n gedeelte oor Josua uit die Bybel voorgelees. Na die dood van Moses is Josua geroep om die volk na die beloofde land te lei. Dit blyk dat Pretorius na die diens die gedagte van ‘n gelofte in Cilliers se midde gelê het:


... en na deze Godsdienst (aan de Tugela Rivier) sprak onze Generaal met my er over dat het in zijn hart was om ook aan de Heer onze God plegtig een belofte te doen...


Cilliers was huiwerig om tot so ‘n gewigtige stap oor te gaan:

... ik vond my er over diep bezwaard, en zij tot hem (Pretorius): mijn heer, ik bevind mij er onder bezwaard dat wij die dag zal vergeten, en ook zal verwaarlozen, en dat te toorn des Heeren dan tegen ons zal ontbranden.


Cilliers het uiteindelik ingestem tot die aflegging van die gelofte, op voorwaarde dat elke kommandolid in die saak geken moes word.


Op Saterdag 8 Desember het die kommando oor die Sondagsrivier getrek tot aan ‘n rivier wat deur die lede van Uys en Potgieter se kommando die Blyderivier genoem is, maar later Wasbankrivier genoem is en vandag as die Kliprivier bekend staan. Dit was op Sondag 9 Desember dat Pretorius sy voorneme om ‘n gelofte te laat aflê, aan al die kommandolede bekend gemaak het. Bantjes het aangeteken dat daar algemene eenstemmigheid onder die manne oor die aflê van ‘n gelofte was. Cilliers het Ps. 38, vers 12 en 16 laat sing en daarna die godsdiensoefening gelei op grond van Rigters 6. Daarna is die Gelofte afgelê en weer gesing uit Ps. 38, vers 12 en 21. So is die Gelofte na 9 Desember elke aand herhaal, tot met die aand van 15 Desember 1838.


DIE GELOFTE


My broeders en mede-landgenote,

hier staan ons voor die heilige God van hemel en aarde

om ‘n gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal beskerm

en ons vyand in ons hand gee, ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag,

soos ‘n sabbat sal deurbring; en dat ons ‘n huis tot sy eer sal oprig

waar dit Hom behaag; en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle

met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte;

want die eer van sy Naam sal verheerlik word

deur die roem en eer van die oorwinning

aan Hom te gee.


Die eerste paar jaar na 16 Desember 1838 is dié dag wel herdenk, maar in gesinsverband. Daar was nie amptelike verrigtinge nie, gesien in die lig van die feit dat dit pioniersjare was en die bevolking wyd verspreid oor die land gewoon het. Eerwaarde Erasmus Smit wat die Groot Trek meegemaak en jare lank in die Voortrekkers se geestelike behoeftes voorsien het, het die Gelofte herdenk as emeritus-leraar in Pietermaritzburg. Die vroegste bewys daarvan is ‘n uitnodiging wat hy in De Natalier van 13 Desember 1844 geplaas het. Hy het naamlik alle belangstellendes na sy huis uitgenooi om op Sondag 15 Desember die oorwinning van 16 Desember 1838 te herdenk – ‘n instelling wat hy daarna jaarliks nagekom het.


Sarel Cilliers het die Gelofte sedert 1838 getrou aan sy huis herdenk en dié dag as ‘n Sabbat deurgebring met skriflesing, samesang en gebed. Tog is dit opvallend dat die Gelofte klaarblyklik jare lank verwaarloos is. Swart wys daarop dat dit verklaar kan word (maar nie verskoon kan word nie) op grond van die feit dat tye onseker was; armoede het geheers; groot getalle van die bevolking was nog swerwend; broedertwis was aan die orde van die dag en daar was ‘n gebrek aan sterk nasionale besef.


Met die uiteindelike vestiging in die binneland het die N.G. Kerk van Natal op 20 Oktober 1864 op sy Algemene Jaarvergadering besluit om 16 Desember voortaan kerklik as ‘n dankdag te vier. Die eerste groot georganiseerde Geloftefees is daardie jaar by Bloedrivier gehou onder leiding van ds. F.L. Cachet en dié dag is daarna gereeld in Natal gevier. In Transvaal het die Uitvoerende Raad van die Volksraad in 1865 besluit om 16 Desember elke jaar tot ‘n openbare vakansiedag te verklaar.


Dit is interessant om te sien dat die Gelofte aanvanklik binne gesinsverband gevier is. Indien volksgenote nie ‘n Geloftefees kan bywoon nie, is dit dus steeds ‘n sinvolle en werkbare opsie om dit as ‘n gewyde familiedag te vier.


Bron: Studiestuk opgestel deur die Navorsingsafdeling van die Voortrekkermonument

en Die Erfenisstigting


Geseёnde Geloftedag word u almal toegewens.

0 views

Volksraad Verkiesing Kommissie

© Copyright: VVK
No part of this website may be reproduced or transmitted in any form or by any means, 
electronic or mechanical, including photocopying, recording or by any information storage and retrieval system, without written premission in writing from the VVK.