GELOFTEDAGVIERINGE NÁ DIE SLAG VAN BLOEDRIVIER

Die eerste paar jaar na 16 Desember 1838 is dié dag wel herdenk, maar in gesinsverband. Daar was nie amptelike verrigtinge nie, gesien in die lig van die feit dat dit pioniersjare was en die bevolking wyd verspreid oor die land gewoon het. Eerwaarde Erasmus Smit wat die Groot Trek meegemaak en jare lank in die Voortrekkers se geestelike behoeftes voorsien het, het die Gelofte herdenk as emeritus-leraar in Pietermaritzburg. Die vroegste bewys daarvan is ‘n uitnodiging wat hy in De Natalier van 13 Desember 1844 geplaas het. Hy het naamlik alle belangstellendes na sy huis uitgenooi om op Sondag 15 Desember die oorwinning van 16 Desember 1838 te herdenk – ‘n instelling wat hy daarna jaarliks nagekom het.[1]


Sarel Cilliers het die Gelofte sedert 1838 getrou aan sy huis herdenk en dié dag as ‘n Sabbat deurgebring met Skriflesing, samesang en gebed. Tog is dit opvallend dat die Gelofte klaarblyklik jare lank verwaarloos is. Dit kan verklaar word (maar nie verskoon kan word nie) op grond van die feit dat tye onseker was; armoede het geheers; groot getalle van die bevolking was nog swerwend; broedertwis was aan die orde van die dag en daar was ‘n gebrek aan sterk nasionale besef.[2]


Met die uiteindelike vestiging in die binneland het die N.G. Kerk van Natal op 20 Oktober 1864 besluit om 16 Desember voortaan kerklik as ‘n dankdag te vier. Die eerste groot georganiseerde Geloftefees is daardie jaar by Bloedrivier gehou onder leiding van ds. F.L. Cachet en dié dag is daarna gereeld in Natal gevier.[3] In 1866 het Cachet weer die verrigtinge by Bloedrivier gelei. Terwyl die aanwesiges ‘n klipstapel gepak het, het honderde Zulu’s toegekyk en een van hulle, wat self aan die geveg by Bloedrivier deelgeneem het, het later help klippe aandra toe aan hom vertel is wat die betekenis van die verrigtinge is. Cachet het deur middel van ‘n tolk vir die aanwesige Zulu’s gepreek. Hy het vertel dat hy die oggend ‘n boodskap van die Zulukoning, Cetshwayo (c. 1826-1884), gekry het waarin die koning verklaar het dat hy bly was dat ‘n predikant op die plek kom kerk hou het.[4]


Wat die Oranje-Vrystaat betref, het die Vrystaatse Nederduits Gereformeerde Kerk in 1885 ook besluit om die herdenking van die Gelofte by sy lidmate aan te beveel. Die Kaaplandse Afrikaners het egter nog onverskillig teenoor die herdenking van die Gelofte gestaan. Die viering daarvan het eers na 1911 werklik by hulle begin posvat, waarskynlik omdat 16 Desember in 1910 as ‘n landswye openbare vakansiedag verklaar is. Na die Tweede Anglo-Boereoorlog (1899-1902) is 16 Desember deur die owerheid van Transvaal (17 Julie 1903) tot ‘n openbare vakansiedag verklaar, asook die Vrystaat (31 Desember 1903).[5]


Op 16 Desember 1888 het pres. S.J.P. Kruger die Geloftedagvieringe by Bloedrivier bygewoon. Na afloop daarvan is ‘n vergadering gehou m.b.t. die oprigting van ‘n monument ter ere van Piet Retief en sy burgers. Tydens die vergadering het die president voorgestel dat “... een nationaal monument te Pretoria opgerig moet word ... en om al de namen er op te doen graveeren, die gevochten hebben en gevallen zijn in de oorlogen tot op den Vrijheidsoorlog.”[6] Hierdie ideaal van Kruger om ‘n monument vir die Voortrekkers te bou, is eers in 1949 verwesenlik met die inwyding van die Voortrekkermonument in Pretoria.


[1] P.S. de Jong, Die lewe van Erasmus Smit. Kaapstad, 1977, p. 182.

[2] M.J. Swart, Geloftedag. Kaapstad, 1961, pp. 13, 14.

[3] M.J. Swart, Geloftedag. Kaapstad, 1961, p. 16.

[4] A. Bailey, Die Gelofte van 16 Desember 1838: Die herdenking en betekenis daarvan, 1838 tot 1910. Ongepubliseerde M.A.-verhandeling, Universiteit van Pretoria, 2002.

Bron: Studiestuk, Estelle Pretorius, Erfenisstigting.

[5] M.J. Swart, Geloftedag. Kaapstad, 1961, p. 41.

[6] F.A. Steytler, ‘n Voortrekkermonument te Pretoria; voorstel van pres. Kruger op 16 Desember 1888, Historia 3(1), Maart 1958, p. 6.

0 views

Volksraad Verkiesing Kommissie

© Copyright: VVK
No part of this website may be reproduced or transmitted in any form or by any means, 
electronic or mechanical, including photocopying, recording or by any information storage and retrieval system, without written premission in writing from the VVK.