Jopie Fourie

Joseph Johannes (Jopie) Fourie is op 27 Augustus 1878 op die plaas Hartbeesspruit in die omgewing van Pretoria gebore. Aanvanklik het hy die plaasskool te Wildebeeshoek besoek en daarna die skool van die heer Louis te Pretoria. Hy was ook nog in een of meer ander skole in die stad, totdat hy in 1893 saam met generaal Joubert se seun en ‘n paar ander Transvalers na Grey College in Bloemfontein gestuur is. Hier het Jopie drie jaar lank ywerig studeer en hom as ‘n goeie leerling onderskei. Hy het later ook ‘n tyd lank sy studies in Stellenbosch voortgesit.


Met die Jameson-inval het hy na Pretoria teruggekeer. Die sewentienjarige Jopie, saam met sy oom Japie, het onder Kommandant Piet Roos gedien. Hulle was betrokke by die laaste harde skermutseling wat gelei het tot die opsteek van die wit vlag (na bewering 'n ousie se vuil voorskoot) deur dr. Jameson se manne. Jopie het die brief van oorgawe van dr. Jameson ontvang.


Hy was werksaam in die kantoor van die Ouditeur-generaal totdat die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het. Daarna is Fourie aangestel as rapportryer op generaal Joubert se personeel. Hy het in hierdie hoedanigheid die Natalse veldtog meegemaak en hom in menige geveg weens sy onverskrokkenheid en kalmte onderskei.


Gedurende die oorlog is hy gewond en moes drie operasies aan sy been ondergaan, wat hom vir die res van sy lewe las besorg het en mank laat loop het.


Na die Oorlog het Fourie op sy plaas te Wildebeeshoek geboer. Die moeilike jare daarna tot 1910 het verbygegaan en die vier Suid-Afrikaanse state het verenig in die Unie van Suid-Afrika, met generaal Louis Botha as eerste minister en generaal Jan Smuts as sy Minister van Verdediging, wat in beheer van die weermag was. Kommandant Joseph Fourie is aangestel as kaptein van die Noordelike Berede Skutters en sy broer, Johannes Petrus, as sy luitenant.


Met die opstand in 1914 teen Louis Botha se deelname aan die Europese oorlog aan Engelse kant, het die twee Fouries by die rebelle aangesluit. Op 16 Desember 1914 is hulle saam met 43 ander rebelle op die plaas Nooitgedacht, noordwes van Pretoria, tydens ‘n skermutseling met die regeringsmagte gevange geneem en na Pretoria gebring, waar hulle voor ‘n algemene veldkrygsraad op 18 en 19 Desember tereggestaan het op die aanklag van verraad, want die twee offisiere was in regeringsdiens, waarteen hulle nou in opstand gekom het.


Jopie het homself verdedig en vir genade gevra vir sy jonger broer en die ander rebelle aangesien hulle onder sy invloed was. Vir homself het hy verklaar dat hy niks dink van die Britte se idee van regverdigheid nie en almal daaraan herinner dat die Boere ‘n eed geneem het, om die eerste geleentheid wat hulle kry die wapen teen Engeland en nie vir Engeland op neem nie.


Jopie is ter dood veroordeel. ‘n Deputasie gelei deur dr. D.F. Malan wat verder bestaan het uit ds C Neethling, ds HS Bosman, Jan (genl) Joubert, dr AE Grunberger en dr Gey van Pittius, het tevergeefs probeer om vir Jan Smuts in die hande te kry en te smeek vir die begenadiging van Jopie. Smuts het hulle ontduik.


Om 10 uur die Saterdagoggend verneem hulle dat die doodvonnis bekragtig is wat oor kommandant Fourie uitgespreek is. Die versoekskrifte is toe aan luitenant Louis Esselen oorhandig, wat beloof het om dit aan generaal Smuts voor te lê. Luitenant Esselen slaag daarin om telefonies met generaal Smuts kontak te maak. Die Minister se antwoord aan Esselen was dat die versoekskrifte die volgende môre (Sondag) om 10 uur aan hom oorhandig kon word. Die volgende môre was dit nie meer nodig nie, want die doodvonnis was toe al voltrek.


Jopie Fourie is Saterdagaand om 9 uur in sy sel in die aanklagtekantoor in kennis gestel dat hy ter dood veroordeel is en is daarna na die Sentrale Gevangenis oorgeplaas.


Daardie nag het ds Neethling van Eloffsdal vir Jopie onderskraag. Die sipier het op Jopie se versoek aan hom ‘n tafel en papier verskaf om te kan skryf. Hy het die hele nag al biddende, skrywende en pratende deurgebring. Hy het verskeie briewe aan sy ouers, sy vrou en ander familie geskryf Een van dié aan sy vrou lui as volg: “Aan my dierbare vrou, Susanna Fourie, van haar ou Jopie. Vertrou op die Here, van ganse harte! God sal met ons wees tot ons mekaar weer sien, geliefde! Troos jou daaraan dat Jesus my Leidsman is. Hy gaan my vandag vergesel na sy Vaderhuis. Daar is nou net tien manne hier verby om my af te sien na Gods huis. Dag geliefde, ek gaan huis toe. Jopie.”


Hy het ook ‘n brief aan genl. Botha en genl. Smuts geskryf. Daarin noem hy van die Jamesoninval, die oorlog en sy hartseer oor die koers wat hulle ingeslaan het. Hy eindig met die woorde: “Ek wens vir u en gen. Smuts ‘n lang lewe toe, so lank dat julle die vrugte sal pluk van boom wat julle vandag geplant het.”


Om kwart oor vyf Sondag 20 Desember 1914 het bevele van buite af opklink. Toe hulle uitstap, sê Fourie aan ds Neethling: “Hulle moet my tog nie in my gesig skiet nie. Ek het ‘n groot Afrikanerhart, met genoeg plek om in te skiet.” Toe hulle aan die agterkant van die tronk aankom waar die vonnis voltrek sou word, gaan Fourie op die stoel sit, en begin met ‘n vaste stem te sing: “Als wij de doodsvallei betreen, laat ons elk aardse vriend alleen...”


Jopie Fourie se teregstelling was ‘n skok vir die volk. Jan Smuts het met hardvogtige sinisme teen hom opgetree. Vir Louis Botha was dit iets afskuwelik soos blyk uit sy woorde toe hy van Jopie se teregstelling verneem het:


“God, Smuts! Wat het jy gedoen?”

0 views

Volksraad Verkiesing Kommissie

© Copyright: VVK
No part of this website may be reproduced or transmitted in any form or by any means, 
electronic or mechanical, including photocopying, recording or by any information storage and retrieval system, without written premission in writing from the VVK.