Ons moet weer die kultuurstryd wen

Net na die Anglo-Boereoorlog is die vraag aan pres. M.T. Steyn gevra oor wat nou gedoen kan word. Alles is verlore. Sy antwoord was: "Nee, ons het darem nog die kerk."


En danksy die kerke is die moraal en sedes van hierdie volk hoog gehou en is daar weer gebou en het hierdie land ‘n bloeitydperk later beleef wat ongekend was in die hele wêreld.

Die kerk het nie net gepreek nie. Bowe alles was die kerk die bewaarder van die kultuur. In ons Europese stamlande was dit die aristokrasie wat die kultuur en dikwels ook die kerk bewaar het. Omdat ons nie ‘n aristokrasie gehad het nie en aangesien kultuur altyd hemelgeanker is, was dit die natuurlikste ding vir die kerk om afgesien van sedebewaker, ook die rol van kultuurbewaker aan te neem.


Ons het groot dinge bereik. Ons wetenskaplikes, sportsterre, kunstenaars het op enige plek in die wêreld suksesvol meegeding. En vyftig jaar later is ons net nog ‘n agterlike piesangrepubliek, ten spyte van die feit dat ons ‘n goed opgeleide weermag gehad het, het ons alles verloor, want die wil om te veg het nie meer bestaan nie. Daardie innerlike morele senu wat jou ten alle tye moet laat bereid wees om te veg vir dít wat vir jou heilig is, is vernietig.


Kortom: ons het verloor want ons het die kulturele stryd verloor. Letterlik elke toespraak van dr. Verwoerd het hy ons gekoppel aan ons stamlande en ons herinner dat hoewel ons in Afrika is, is ons deel van die Christelike Westerse Beskawing.


Maar reeds in die sestigs het die eerste aanslae gekom: eers teen die kerke en toe deur die letterkunde. Die Sestigers was skielik toonaangewend, hulle boeke, waarin hulle die Kleurlinge mities verhoog en die Afrikaner verneder het, het die nuwe voorgeskrewe boeke vir skole en universiteite geword. Jochem van Bruggen se Ampie is op neergesien en die ou Afrikaanse digters was net rymelaars. Kultuur was nie meer hemel geanker nie, permissiwiteit het die toon oral aangegee onder die dekmantel van vooruitgang.

Die kerk het nie meer invloed gehad nie en met André P Brink wat hoofkeurder van Nasionale Pers se uitgewery geword het, het hy seker gemaak dat die boodskap van Marxistiese kulturalisme bevorder word.


Dit is interessant dat gedurende die jare sewentig en tagtig was daar slegs twee departemente van die ANC wat verklarings uitgereik het, nl: Umkhonto we Sizwe en hulle sg. "cultural desk." Dit is net terugskouend wat ‘n mens kan sien hoe slim hierdie aanslag was. Terwyl ons kultuur deur ons eie volk vertrap word, het ‘n bende moordenaars ‘n kultuur lessenaar.


Vandag is daar baie min oor op die kultuurfront, maar wat daar is, is steeds genoeg om op voort te bou. Veral kan ons dalk ook net besin oor Gen. 1:28, dít wat die kerk oor al die eeue as eerste kultuuropdrag in die Bybel verstaan het.


As ‘n klein groepie mense ons die kultuuroorlog kon laat verloor het, kan ‘n klein groepie help dat dit weer gewen word.

120 views

Volksraad Verkiesing Kommissie

© Copyright: VVK
No part of this website may be reproduced or transmitted in any form or by any means, 
electronic or mechanical, including photocopying, recording or by any information storage and retrieval system, without written premission in writing from the VVK.