Uit die Geskiedenis.

November 1900: Dagboek van William Roland Schikkerling; Hoe ry die Boere. Heruitgegee as Kommando Kordaat.


Aanval op Balmoral (verv).


Sover het ek nog nie ‘n enkele skoot geskiet nie, aangesien daar baie min was om na te skiet. Toe ek ‘n paar treё vorentoe beweeg, kry ek die blokhuis in sig deur ‘n breё opening. Dertig treё van my af is twee Kakies in ‘n ronde skans, oop na my toe; hulle skiet dat dit bars oor die reghoekige muur skuins van my. Toe ek my eerste skoot aftrek, sien ek hoedat die rooi vlamstreep anderkant die vyand uitslaan soos die koeёl die klipmuur tref; toe syg hy neer. Sy maat storm uit agter ‘n lae muurtjie 15 treё weg om te gaan skuiling soek en toe hy twee treё van dié skuilplek is, skiet ek weer; langs my het Hendrik Bezuidenhout tegelyktydig ‘n skoot afgetrek en die soldaat slaan vooroor neer. As jy handgemeen raak oor die skanse is die ewigheid net ‘n sekondes ver verwyder.


‘n Hele groepie van ons bondel deur die opening en deel van die vyand spring op en hol weg. Een Kakie het vanuit ‘n gat of loopgraaf ‘n paar treё van ons af trompop na my geskiet en toe sy kop teruggepluk. Toe ons hom beveel om te hensop, soos baie van sy kamerade besig was om te doen, het hy sy geweer na buite gegooi, maar hy was te verskrik om sy hande op te steek of sy kop uit te steek. Toe hy uiteindelik sy hande opsteek het hy verseg om hulle weer te laat sak. So het hy na ons aangekom sonder sy geweer. Ek het sy bajonet uitgetrek en in my gordel gesteek en hom aangesê om na agter te beweeg sodat dit duidelik sou wees dat hy hensop.


Die besetters van die blokhuis het aan die Buffs behoort. Die lug was vol krete van “hensop” en die spanning was verskriklik. Jy het nie geweet van watter kant jy getref kan word nie. Met die uitsondering van ‘n kaptein en dertig man wat oorgegee het, het die Kakies by die anderkant van die blokhuis uitgevlug en met die helling af laat spaander in die rigting van Lindeque se opstal. Party se jasse en komberse het so gewapper in die wind. Een kêrel, met net ‘n frokkie aan, het klaarblyklik weggekruip of geslaap, want hy het soos ‘n springbok opgespring en laat nael. Japie Enslin het uit die vuis geskiet, maar dit was mis. Daarop het Meyburg sy rewolwer uitgepluk en losgebrand. Die man het vooroor neergeslaan. ‘n Offisier in ‘n sinkskuiling het voorgegee dat hy dood is. Hy was nie dood nie, maar aan die slaap; of het gemaak asof hy slaap en het klaarblyklik in die grootste angs verkeer. Sy geweer, wat daardie oggend geen enkele skoot afgeskiet het nie, was langs hom in sy bed.

0 views

Volksraad Verkiesing Kommissie

© Copyright: VVK
No part of this website may be reproduced or transmitted in any form or by any means, 
electronic or mechanical, including photocopying, recording or by any information storage and retrieval system, without written premission in writing from the VVK.