Uit die Geskiedenis

Tydens ’n krygsraadvergadering op 28 November 1899 by Jacobsdal in die Vrystaat moes die Boereleiers die pad vorentoe beplan. Hoewel hulle die Engelse leër by Belmont en Graspan vertraag het, het hulle te veel verliese gely en nie werklik verder gevorder nie. Groot pessimisme het onder die Boere geheers, maar genl. De la Rey het nie dieselfde gevoel nie.


In bogenoemde veldslae het die generaal gesien dat die Boere sleg daarvan afgekom het, nie as gevolg van lafhartigheid nie, maar omdat verkeerde posisies gekies is. Die Boere het verkieslik bo-op koppies stelling ingeneem, omdat hulle bang was dat die Engelse hulle ontvlugtingsroetes sou afsny. Hy was die een wat ingesien het dat hulle sodoende goeie teikens vir die Engelse artilleriste was en dit was vir hulle moeilik om akkuraat vanuit daardie posisie te skiet. Gevolglik het De la Rey ’n ander plan bedink: hy sou posisies kies op ’n gelyk vlakte wat nie vir die vyand teikens sou bied nie.


Die wêreld by die Modderrivier en die Rietrivier is plat en gesamentlik vorm die twee riviere een groot rivier suid van die spoorwegstasie. Genl. De la Rey het sy posisie ingeneem dwarsoor die pad wat hy gereken het lord Methuen sou volg, dit wil sê, reguit na die brug toe. Om vieruur die oggend van 29 November het Methuen met sy leër na die Modderrivier vertrek. Genl. Cronjé en sy manskappe het die opmars van die vyand rustig aanskou. Vir hulle het dit gelyk of Methuen na Bosmansdrif wou gaan, wat die Boere se linkerflank in gevaar sou stel. Gevolglik neem Cronjé en ’n paar manskappe ’n Krupp en pom-pom en trek in ’n westelike rigting om die linkerflank te versterk.


Toe die Engelse dit sien, brand hulle sommer dadelik met hulle kanonne los en Cronjé antwoord in dieselfde taal. Maar die Engelse se kanonne kry die oorhand en Cronjé moet terugtrek. Methuen kom tot die gevolgtrekking dat hy die Boeremag bloedneus gegee het. Onbewus daarvan dat daar ’n Rietrivier is, gee Methuen opdrag dat sy regtervleuel moet uitsprei en die vlugtende Boere moet vang. Hy was ook salig onbewus daarvan dat 3 000 Boere in doodse stilte langs die rivier ingegrawe is en hom dophou.


Teen agtuur die oggend is Methuen so tevrede met die verloop van sake dat hy twee wit huise aan die oorkant van die rivier in die omgewing van die stasie vir sy adjudante uitwys wat hulle vir sy hoofkwartier moet bespreek. Houtgerus ry die adjudante deur die wagte om die nodige reëlings te gaan tref – en toe bars 3 000 mausers gelyktydig langs ’n front van vier myl (6.4 km) langs die rivierwal los.


Die Kakies se enigste uitweg was om plat op die grond neer te val. Diegene wat die stilste gelê het, het die beste kans op oorlewing gehad. Die Scots Guards het die regtervleuel van die Engelse met ’n maxim gedek. Hulle maxim is sommer deur een stringetjie goedgeplaaste pompombommetjies buite aksie gestel. Vir die res van die dag was die maxim die enigste staande voorwerp op die veld. Terugval of aanval het vir die Engelse dieselfde gevaar ingehou.


Die temperatuur het tot 42ºC grade gestyg en die Engelse was genoodsaak om op hulle gewere te lê om dit koel te hou as hulle dit dalk sou moes gebruik. Die kuite van die Scots Guards het blase in die son gebrand en sou daar ’n welkome briesie kom, het hulle wapperende rokkies hulle posisies aan die Boere verraai. Miere uit die stukkende miershope was op hulle eie oorlogspad.


Maar uitkoms was op hande. Methuen se linkerflank was onder die leiding van genl. Pole-Carew wat die swak plek op die Boere se linkerflank ontdek het. Die Vrystaters het die wyk geneem toe die bombardement begin en Pole-Carew se manne het ywerig geveg. Hulle het regs begin swenk, wat die sterk regtervleuel van die Boere onder druk begin plaas het.

En op hierdie oomblik het die noodlot weer ingetree. In ’n oproep van Methuen het maj. Grant om tweeuur die middag met ’n veldbattery van die Oranjerivier aangejaag gekom. Hulle het oombliklik opgetree om die groepie Engelse by te staan wat geveg het. Dit was chaos, want hulle kartetse het juis die Engelse getref en die Boere geleentheid gegee om te hergroepeer. Aangesien Methuen in sy dy gewond is, moes sir H.E. Colville bevel oorneem. Hy het die troepe buite gevaar geneem en besluit om die geveg die volgende dag voort te sit.


Om agtuur die aand het genl. Cronjé die krygsraad byeengeroep en nieteenstaande die sterk verset van genl. De la Rey wie se seun die dag dodelik gewond is, word besluit om hulle posisies die nag te verlaat en in die rigting van Jacobsdal terug te val. De la Rey het vertel dat die verlating van die posisies by Modderrivier vir hom ’n groter smart was as die dood van sy seun.

0 views

Volksraad Verkiesing Kommissie

© Copyright: VVK
No part of this website may be reproduced or transmitted in any form or by any means, 
electronic or mechanical, including photocopying, recording or by any information storage and retrieval system, without written premission in writing from the VVK.