Uit die Geskiedenis

Die Slag van Stormberg


Die Slag van Stormberg aan die suidelike front op 10 Desember 1899 was die eerste nederlaag wat deur die Britte onder leiding van luit.genl. William Gatacre teen die magte van genl J.H. Olivier gely is tydens wat as Black Weekbekend staan.


Met Ladysmith wat nog steeds onder beleg van die Boere was, het die Britte hulle geloof in Buller geplaas om die situasie vir hulle om te keer. Buller se eerste besluit was om sy mag in drie te verdeel, wat die Boere goed gepas het. Genl. Gatacre het sy mag per trein na Molteno gestuur om die sowat 2 300 burgers onder genl. Olivier by Stormberg die stryd aan te sê. Gatacre het 3 000 manskappe by hom gehad, maar hy kon ook op ander reserwes staatmaak, onder andere een groep wat uit sowat 400 manskappe bestaan het en wat hy opdrag gegee het om hom by Molteno te ontmoet. Die opdrag is middernag 8/9 Desember by sy telegraafbasis ingelewer. Maar aangesien ’n ontvangserkenning nie uitgereik is nie, het die feit dat die klerk vergeet het om die boodskap uit te stuur, ongemerk verbygegaan.

Gatacre se manskappe is vieruur die oggend wakkergemaak om na Molteno te vertrek, maar daar was muile wat los rondgeloop het en ander reëlings het verkeerd uitgedraai, sodat sy soldate die grootste gedeelte van die dag in die son rondgedwaal het. Die laaste van die groep het eers om 20:30 die aand in Molteno aangeland.


Gatacre was ’n fikse man wat maklik vroegoggend 32 km te perd afgelê het en wat dieselfde van sy manskappe verwag het. Sy soldate het hom Backacre agter sy rug genoem. Die eerste boodskap wat hy gekry het dat die Boere die spoorlyn beheer, was foutief, maar hy het dit nie geweet nie en het besluit dat hy dus nie direk van voor kan aanval nie. Gevolglik het hy besluit om sy aanval uit die westekant van die Kissiesberge te loods, hoewel dit ’n ompad sou wees en gevolglik ’n langer mars. Om so ’n mars in die donker op ‘n onbekende terrein te kon aanpak, was hy van kundige gidse afhanklik. ’n Kaptein wat die gebied soos die palm van sy hand geken het, was op sy personeel, maar hy het hom in Kaapstad agtergelaat. Gevolglik het hy sy gidse uit die Kaapse Berede Polisie gekies.


Sy soldate wat reeds sedert vieruur die oggend op was, het om 21:15 die aand die tog na die Kissiesberge aangepak. Dit het hom verstom dat die 400 man by die afgeleë pos nie opgedaag het nie, maar hy het besluit om sonder hulle voort te gaan. In maanlig het die Irish Rifles en die Nothumberland Fusiliers aan die voorpunt geloop. Hoewel niemand enige aksie verwag het nie, het Gatacre opdrag gegee dat hulle met gevelde bajonette moes loop, wat die uitgeputte soldate nog meer vermoei het. Uitgeputte manne, geforseer om hulle gewere in een posisie te dra as gevolg van die gevelde bajonette, se taak is bemoeilik toe die maan ondergegaan het en hulle in die duisternis moes voortstrompel. Op Gatacre se naarstigtelike vrae aan die gidse het hulle slegs geantwoord dat hulle sowat ’n halfuur van die bestemming af is. Wat hulle nie aan hom meegedeel het nie, is dat hulle nie die vaagste benul gehad het van waar hulle was nie en hopeloos verdwaal het.


Die soldate was nou reeds 24 uur lank aan die gang. Per pure geluk het hulle met ’n ompad sowat drie uur later, pleks van die beloofde halfuur, presies by die kruispad voor die Kissiesberge beland waar Gatacre beplan het hulle die aanval moet loods. Maar hy besef dit nie en trek verder noord sodat hy met dagbreek reg teenoor Olivier se laer is.


’n Boerebrandwag wat besig was om koffie te maak, sien die Engelse en maak alarm. Die Boere skiet van bo af en die Kakies probeer om teen loodregte kranse teen die berg uit te kom. Die mauserkoeëls laat hulle vinnig insien dat hulle geen kans het nie, en sonder om vir ’n bevel te wag, begin hulle vlug. Met die Irish Rifles wat drie koppies aan die linkerkant beset het, het dit beter gegaan. Hulle kanonne kon hulle ook nou ondersteuning gee, hoewel een afgeskryf is toe dit in ’n donga geval het. Van die soldate het vordering teen die steiltes gemaak, maar net toe begin hulle kanonne ook tot die aanval toetree. Die opkomende son het die kanonniers verblind en weereens tref die bomme hulle eie mense.

Die aanval was binne ’n halfuur verby. Gatacre het besef dat hy niks verder aan die situasie kon doen nie en het hulle met die kortste roete terug na Molteno laat marsjeer. Weereens het die Boere ’n gulde geleentheid deur hulle vingers laat glip en die Engelse toegelaat om na Molteno terug te val.


Teen elfuur die oggend was die gedemoraliseerde en uitgeputte Britte terug in Molteno. Gedagtig aan die kwaai geweervuur, veral van die Boerekant af, was die ongevalle ’n skrale 90. Die Engelse wou hulleself net begin gelukwens toe hulle agterkom dat hulle in hulle haas om weg te kom, per abuis vergeet het van 600 manskappe wat steeds op die hange van die Kissiesberge was. ’n Paar uur later het daardie Engelse hulle aan die Boere oorgegee.


In Brittanje is gerapporteer dat die veldslag nie ’n slag was nie, maar die gevolg van die Boere wat die Engelse verraderlik in ’n lokval gelei het. Die datum was 10 Desember.

Met Gatacre se mag het alles wat kon verkeerd gegaan en hy kon net homself daarvoor blameer. Hy het nie die terrein geken nie en was nog minder bewus van die Boere se posisies of die pad daarheen. Nadat hy in Molteno aangekom het, het hy na Sterkstroom teruggeval om in die nabyheid te wees van Boere wat besig was om verder in die Kolonie in te trek. Daarin kon hy slaag, hoofsaaklik omdat die Boere daar opgetree het asof hulle permanent piekniek gehou het.

0 views

Volksraad Verkiesing Kommissie

© Copyright: VVK
No part of this website may be reproduced or transmitted in any form or by any means, 
electronic or mechanical, including photocopying, recording or by any information storage and retrieval system, without written premission in writing from the VVK.