Uit die Geskiedenis

Die Slag van Colenso 2


Buller was onbewus van wat met Long gebeur het en het sy tyd afgewag voordat hy die infanterie sou beveel om die Boere reg van voor af aan te val. Vireers was sy aandag gevestig op die Ierse regiment onder bevel van genl. Arthur FitzRoy Hart. Hart het in metodes van Aldershot en batteryformasies geglo. Sy opdrag van Buller was om’n veerbootoorgang te gebruik. Hy het ’n kaart en ’n swart gids gehad. Self kon hy nie bepaal waar die stroompie is nie en die gids het vaagweg na ’n gelykte binne ‘n loep gewys. Hart het na die loep voortgebeur en op daardie oomblik het die Boere se geweervuur rondom die loep en in die lae rantjies losgebars.


Instinktief het die manne onder Hart begin ontplooi, maar hy het hulle teruggeroep en voorwaarts gedwing. ’n Ander offisier wat nie die stroompie of die gids kon vind nie, het die manskappe laat swenk, maar Hart het sy bevel herhaal en die manskappe binne-in die loep ingelei. In ’n bloedbevlekte blok het die manskappe voortgebeur terwyl hulle steeds nie ’n idee gehad het waar die vyand hulle bevind nie. Binne 40 minute is 400 neergevel en gelukkig het Buller toe beveel dat hulle moet terugval.


Tegelykertyd het die berede afdeling gereed gemaak om die Boskop (Hlangwane) aan te val. Onder aanvoering van Dundonnald het hulle onder hewige vuur van die Boere tot by die rand van ’n mielieland gekom en van daar af nader gekruip. Hy het versterkings gevra, maar die naaste offisier het geweier, want sy opdrag van Buller was om nie posisie prys te gee nie. Tot dusver het Buller net van Hart se probleem geweet. Volgens sy kennis was Long en die res op hulle poste. Hy was net gereed om vir Hildyard, wat uiteindelik opgedaag het nadat Long onder hom uitgeloop het, opdrag te gee om direk van voor af aan te val, toe hy die berig van Long en die kanonne ontvang. Buller was geskok omdat hy gereken het dat dit die ses seekanonne ook insluit. Gesamentlik was dit byna die helfte van sy artillerie en daarsonder sou hy Ladysmith nie kon inval nie.


Hildyard het sy manne intussen met fyn oorleg uitgeplaas. Met die hulp van die vlootkanonne het hy sy manne in Colenso ingestuur, wat Boere oop en bloot na hoër loopgrawe laat skarrel het. 4.8 km terug het die skeepskanonne hulle mooi onder skoot gehad toe die uitroep kom dat hulle nie moet skiet nie, want dit is hulle eie mense. Die berig was verkeerd, maar die oomblik was vir ewig verlore.


Buller was nou in die omgewing waar die kanonne gestaan het en het vrywilligers gevra om dit te verwyder. Met twee spanne perde storm ’n groep offisiere en manskappe die plek waar die kanonne staan en onder hewige vuur haak hulle twee aan en jaag weg. Van die drie offisiere, kapteins Schofield, E.F. Roberts (enigste seun van genl. Roberts) en Congreve het slegs Schofield oorleef, hoewel skote deur sy klere is sonder dat een hom getref het.’n Tweede keer probeer die vyand, maar hierdie keer is die vuur teen hulle so vernietigend dat hulle genoodsaak is om die aftog te blaas nadat hulle die helfte van hulle manne en perde verloor het


Buller was so na aan die tragedie dat hyself onder vuur gekom het. Selfs toe sy stafsjirurg langs hom doodgeskiet is en hy deur ’n bomskerf in die sy getref is, het hy nog kalm gestaan en toebroodjies eet. Dapper dade is deur sy manskappe verrig en daar is dié dag vyf Victoria-kruise en agtien Distinguished Conduct Medals verower, maar hy het besef dat dapperheid nie genoeg is nie. Hy het ure lank in die warm son op sy perd gesit en die tragedie waargeneem, maar die menseverlies met die gepoogde redding van die kanonne, het sy moed gebreek. Net daar het hy besluit om alles agter te laat en ofskoon die helfte van sy leër nog nie geveg het nie, het hy besluit om die stryd gewonne te gee. Om 02:30 was sy mag terug by hulle basis.


Genl. Buller met sy 23 000 man en 50 kanonne moes die handdoek ingooi teen genl. Botha se 3 000 man met twee Creusots, twee Krupps en een pom-pom.


Genl. Buller het gereken dat daar 20 000 Boere was en het aan die Britse War Office geskryf dat hy nie kans sien om Ladysmith te ontset met die mag tot sy beskikking nie. Vir White in Ladysmith het hy geheliografeer dat hy oor ’n maand sal probeer om hom te ontset. Intussen moet hy alle geheime skrifsleutels en alle ontsyferde boodskappe verbrand, sy kanonne vernietig, ammunisie opblaas en probeer om op die beste voorwaardes oor te gee aan die bevelvoerende offisier wat Ladysmith beleër. White was so uit die veld geslaan dat hy dit nie wou glo nie en hy het gedink dat dit die Boere is wat grappies gemaak het.

Die aand het genl. Botha die volgende boodskap aan die Volksraad gestuur:

Vandag het die God van ons Vaders aan ons ’n groot oorwinning besorg.

Tien kanonne het in die Boere se hande geval, asook 600 rondtes ammunisie wat in die verlate waens was.


Die Slag van Colenso het plaasgevind net voor “Dingaansdag” soos dit in daardie dae genoem is. Sestig jaar vantevore is die Zulukoning Dingane op 16 Desember 1838 deur die Voortrekkers verslaan en’n gelofte is afgelê dat die dag geëer sal word. Die dag is soos elke jaar in stille bepeinsing en dankbaarheid deurgebring. Dat God hulle weer eens beskerm het, was ’n dag vir stille oordenking en nie ’n fees nie. Hulle het nie in die wêreld se skok oor hulle oorwinning gedeel nie, want dit was deel van God se oordeel en hulle was net die instrument wat gebruik is.


Teen die middag was die wapenstilstand verby en aangesien die Engelse nog nie al hulle dooies begrawe het nie, gelas genl. Botha dat die Boere dit moet doen.


Na Colenso wou party van die jonger manne nou die Britte pak en verdelg, maar die ouer manne was rustig. Oorlogsugtig is hulle nie en hulle het die Britte in die verlede moedeloos gehad, miskien moet hulle net nog ’n bietjie uithou. En wie weet, dalk sluit derduisende Kolonialers nou by hulle aan.

22 views

Volksraad Verkiesing Kommissie

© Copyright: VVK
No part of this website may be reproduced or transmitted in any form or by any means, 
electronic or mechanical, including photocopying, recording or by any information storage and retrieval system, without written premission in writing from the VVK.