Uit ons Geskiedenis.

Die Slag van Colenso – 15 Desember 1899


Op 5 Desember het Buller by genl. Clery se kamp op Chieveley gearriveer. As ’n ondersteuner van fiksheid en dissipline het hy die troepe 14 dae onophoudelik laat oefen – vir wat uiteindelik die grootste neerlaag van hulle lewens sou wees. Teen 14 Desember was hy gereed vir die Boere. Hy beskik oor 21 000 troepe, vyf batterye veldkanonne en 16 skeepskanonne.


Die Boere het hulle posisies noord van die Tugela gekies, spesifiek om Buller se pogings te stuit om Ladysmith te ontset. Weens die ongesteldheid van genl. Joubert wat by Estcourt beseer is toe sy perd gestruikel het, is genl. Louis Botha op 27 Maart as opperbevelvoerder aangestel. Gesteun deur die meerderheid van sy offisiere, kies Botha die laer heuwels naby die rivier by Colenso waar die spoorbrug en die wabrug deurgaan.


Terwyl Buller op 12 Desember sy krygsplan beraam, is hierdie gekose posisies deur die Boere beset. Die lae heuwelrante regs van die Tugela word deur die Boere beset en is hoog genoeg om die rivier en die vlakte by Chieveley se heuwels te beheer. Die terrein wat die Boere beset, strek van Bosrand (Hlangwane) vir ’n afstand van 11.2 km tot by die wadrif aan die regterkant. Dit word deur genl. Botha beskou as die sleutelposisie en die deur na Ladysmith.


Die ander belangrike posisie is Fort Wylie wat goed beman is en die spoorbrug verdedig het. Tussen Fort Wylie en die eerste rantjies is ’n loopgraaf en regs van daardie rantjies ’n sig-sag-loopgraaf oor die gelyk vlakte tot regoorkant die voetpaddrif. Buller het verwag dat die Boere weer bo-op die rante sou wees en nie hy of sy staflede het die moeite gedoen om uit te vind wat aan die oorkant van die Tugela gebeur nie. Hy het ook nie geweet of daar Boere op die Bosrand was nie, juis ’n swakplek in die Boere se mondering. Indien hy daardie kop beset het, sou die pad na Ladysmith vir hom oop gewees het en sou hy alle Boerestellings kon bombardeer.


Op 13 Desember het hy die koppe begin bombardeer. Genl. Botha het beveel dat niemand mag skiet totdat hy die teken gee nie. Die enigste gevolg van Buller se bomme was dus om net vir die Boere te wys hoe goed en veilig hulle stellings is. Die volgende dag het hy die koppe gebombardeer waar die Krugersdorpers was en hoewel daar geen ongevalle was nie, het hulle besef dat hulle posisies hoër op teen die kop gevaarlik is en het eerder in slote naby die rivier stelling ingeneem.


Genl. Botha het die aand krygsraad gehou en opdrag gegee dat indien die vyand ’n frontaanval loods, moet die regtervleuel oor die rivier kom en hulle vaskeer. As die regtervleuel aangeval word, moet die linkerflank ’n soortgelyke beweging uitvoer. Genl. Buller het ook die aand krygsraad gehou. Aangesien hulle geen Boer opgemerk het nie, het hulle begin twyfel of die vyand nog daar is, maar besluit tog om die volgende oggend aan te val.


Met sonsopkoms die volgende oggend het dit van Kakies gewemel en nog maak die Boere nie ’n geluid nie. Die Engelse se krygsplan het behels dat genl. Hart se linkervleuel die Tugela by die voetpaddrif oorsteek; genl. Hildyard se regtervleuel moes met die wabrug oor die rivier gaan en die koppies beset. Tussen die twee vleuels moes genl. Lyttelton as ondersteuning dien, terwyl genl. Barton in die rigting van Bosrand optrek as hulp vir genl. Hildyard links van hom, of kol. Dundonnald op sy regterflank.


Op die Bosrand het 800 Boere van die Wakkerstroomkommando onder kmdt. Rooi Josias Joubert gelê. Kmdt. Joubert was die vorige aand met die krygsraad baie ontsteld omdat hy die kop moes bewaak. Sy beswaar was dat hy nie sou kon retireer nie, waarop genl. Botha gesê het dat hy veronderstel is om te veg en nie te retireer nie en indien hy bang is, sal hy iemand anders kry. Die oubaas was so verontwaardig dat hy gesweer het dat hy die Bosrand teen enige oormag sou behou.


Oudergewoonte trek die Kakies weg met ’n bombardement wat die wêreld geel van die liddiet laat lê. Die feit dat geen Boer skiet nie, oortuig die vyand dat hulle op die vlug geslaan het en dat hulle nou net agtervolg moet word en dan maak hulle sommer korte mette van die oorlog.


Veral die 14de en 16de battery van kol. Long is oorhaastig en aangesien hulle geen teken van ’n Boer sien nie, beveel die kolonel dat die kanonne tot sowat 600 treë van die suidelike oewer van die rivier gebring word. Dit beteken dat die 12 kanonne sowat 900 treë van die Krugersdorpers onder aanvoering van waarnemende veldkornet Kemp in egte Engelse tradisie netjies in ’n ry opgestel word.


Die Britse verkenners het verklaar dat daar nie ’n Boer in sig is nie nie en vir Long het dit skynbaar beteken dat daar dan ook niks is om te vrees is nie. Die les van ’n onsigbare vyand het die Britte toe nog nie geleer nie.


Net toe hulle gereed is om te vuur, gee genl. Botha die sein met ’n kanonskoot uit die noorde en die Boere trek met mening weg en skiet so wat hulle kan. Daardie sogvuldig opgestelde kanonne het nie een skoot ingekry nie, en sommer omgetuimel. Die bedieners van die kanonne kon niks anders doen as om vir die res van die dag agter in ’n donga te skuil nie.


Soos The Gaurds by die Modderrivier, Highlanders by Magersfontein en nou die Royal Artillery by Colenso, het die Kakies hulle trompop in ’n onsigbare vyand vasgeloop. Binne ’n uur het nagenoeg 100 offisiere en manskappe sterwend of dood gelê. Long is beveel om die kanonne te verlaat en hoewel hy swaar gewond was, het hy steeds teëgestribbel en gesê: Abandon be damned. We never abandon guns. Daarna is hy na die donga vol dooies en beseerdes geneem. Ylend het hy uitgeroep: Ah, my gunners! My gunners are splendid! Look at them! Die situasie was benard, want die ammunisie was byna gedaan. Die spaarammunisie was ongeveer 5 km agter en die vooruitsig vir die oorlewendes het haglik gelyk. Teen 07:00 is hulle beveel om terug te val; die 12 kanonne het soos verlate grafstene en simbole van Long se oorhaastige optrede bly staan.

31 views

Recent Posts

See All

Daaglikse Woord

“En jy, kindjie, sal ’n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal voor die aangesig van die Here uitgaan om sy weë reg te maak; om kennis van saligheid aan sy volk te gee in die vergifnis

Uit die Geskiedenis

Bloedrivier en die Gelofte. Andries Pretorius het in November 1838 in Natal aangekom en is as nuwe leier van die Voortrekkers aangewys. Met ‘n kommando van ongeveer 464 Voortrekkermans en 64 waens het

Die oorsprong van die Gelofte

Die woord “gelofte” beteken ‘n plegtige belofte waarby ‘n mens jou vrywillig teenoor God of ‘n hoër mag verbind om iets te doen of iets te laat; by baie volke ‘n besondere vorm van gebed, bv. in tyd v

Volksraad Verkiesing Kommissie

© Copyright: VVK
No part of this website may be reproduced or transmitted in any form or by any means, 
electronic or mechanical, including photocopying, recording or by any information storage and retrieval system, without written premission in writing from the VVK.